Bok, Hinda maak naam in buurland

Gevegskuns
Tielman Van Lill
Geraldo Bok en Veja Hinda van Namibië het Saterdagaand by die King Price Versus 9 Fight Night-skouspel in Pretoria beide hul nie-titel Mixed Martial Arts-amateurgevegte in die veergewigklas teen Suid-Afrikaners gewen.

Bok het sy sege met ‘n eenparige puntebeslissing oor drie rondes beklink (29-28, 29-28 en 30-27), terwyl Hinda in die tweede ronde sy geveg met ‘n tegniese uitklophou beëindig het.

Bok het teen Mlungisi Mbizani ‘n afgeronde vertoning gelewer en was nooit in die moeilikheid nie. Bok het die krytvloer vermy en eers in die derde ronde sy teenstander vloer toe gedwing.

Die Namibiër het met ratse beweging sy teenstander se lewe vergal en die geveg rondom Mbizani gedikteer, terwyl hy gereeld sy gevegshouding tussen ortodokse en hotklou-posisies afgewissel het. Dié taktiek het deurgaans sy teenstander aan die raai gehou. Die Suid-Afrikaner het dit probeer nadoen, maar dit het nie veel vrugte afgewerp nie.

In die openingsronde het Bok met twee regterhoue getref en daarna ongestoord met vlugvoetige voetwerk punte met lae skoppe ingesamel.

Mbizani was vroeg in die tweede ronde beslis nog in die wedloop om die geveg te wen. In dié ronde is Bok per abuis tussen die bene geskop en die geveg is vir bykans twee minute gestop om hom herstelkans te gee. Dié voorval het gelukkig nie sy vertoning vir die res van die geveg beïnvloed nie.

Mbizani se kanse om met punte te wen, het hierna vinnig begin kwyn namate Bok hom gereeld met skoppe na die bene en torso getref het.

Bok se tweede ronde is deur die kommentators as manjifiek bestempel.

Die derde en laaste ronde was opnuut met aksie gevul. Bok het Mbizani in die eerste paar sekondes na die krytvloer gedwing en sy stoeivernuf uitgestal. Mbizani kon Bok nie op die krytvloer uitoorlê nie en was vir bykans drie minute tot met die einde vasgepen.

Dit is beslis ‘n nuwe Geraldo Bok wat sy verskyning gemaak het.

Hinda se oorspronklike teenstander, Jabu Kham, het drie dae voor die kompetisie onttrek en is deur Litha Madikiza van Suid-Afrika vervang.

As gewese Afrika-veergewigkampioen is Hinda ‘n gevaarlike en uitgeslape MMA-vegter in die agthoekkryt. Hy beskik oor die vermoë om vinnig die swakplekke in sy teenstander se mondering te identifiseer en te ontbloot.

Die eerste ronde kon moontlik redelik gelykop geëindig het nadat beide vegters met berekende skoppe en houe getref het. Hinda het Madikiza egter met ‘n skop na die kop getref en met ‘n reguitregter na die kop opgevolg wat sy teenstander geskud het.

Met die begin van die tweede ronde het Hinda klaar sy teenstander opgesom en tot aksie oorgegaan. Halfpad deur die ronde het Hinda vir Madikiza op die krytvloer vasgewen en met verskye grepe verhoed om die oorhand te kry. Hinda het hope punte met houe na sy hulpelose teenstander se kop geloods en die geveg is met twaalf sekondes oor gestop.

Hinda se vertoning totdat die skeidsregter ingespring het om sy opponent te red, is eweneens as briljant beskryf deur die kommentators wat ook eks-MMA-vegters is.

Die Namibiër, ‘n gewese houer van die Afrika-titel, is volgens hulle ‘n afgeronde en gevaarlike teenstander wat goed in die wedloop om die veergewigtitel geplaas is.

Behalwe die gasheerland en Namibië, was vegters van Nigerië, Demokratiese Republiek die Kongo en Zimbabwe ook in aksie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!