Botha, Van den Heever open seisoen met puik seges

Tydrenne
Die gedugte Loic Bathfield loop die kampioenskapsreeks mis, nadat hy na 'n groter uitdaging aanbeweeg het.
Tielman Van Lill
Die eerste rondte van die Namibiese Motorsportfederasie (NMSF) se nasionale tydrenkampioenskap is die afgelope naweek by Swakopmund afgehandel waar 16 spanne in aksie was.

Stefani Botha en haar navigator, Amanda Hugo, het die S4-klas met haar Subaru Impreza in 1 uur 4 minute 55 sekondes beklink en ook die sedan-afdeling algeheel gewen.

In die uitdaagklas (CR1 en CR2) het Etienne van den Heever en sy navigator, Melvin Gous, met sy brullende V8-BAT Venom algeheel die septer geswaai. Hulle het ook eerste in die CR2-afdeling geëindig met 57 minute 26 sekondes op die stophorlosie wat hulle die vinnigste span in beide die sedan- en uitdaagklas maak.

Pieter Greeff, die 2024 S1-kampioen, en sy navigator, JP Robinson, kon nie betyds Greeff se Toyota Corolla vir die byeenkoms voorberei nie. Mohatu se ratkas het verlede jaar November tydens die laaste tydren by Swakopmund met reuseskade gebreek.

Weens ‘n skaarsheid van onderdele het hy Mohatu eers twee weke voor die 2025 Swakop-tydren teruggekry. ‘n Fout met die bedrading was eers twee dae voor die naweek ontrafel en het veroorsaak dat die gedugte eenheid nie kon deelneem nie.

Loic Bathfield, die 2024 CR2-kampioen en sy navigator, Horacio Rietz, sal nie vanjaar aan die Namibiese tydrenkampioenskap deelneem nie. Bathfield het ander planne vir 2025 en sal hoofsaaklik in Suid-Afrika en Botswana sy V8-Century Racing CR6 die vrye teuels gee.

Hy het in Maart aan sy eerste kompetisie van die Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioenskap deelgeneem waar Stuart Gregory sy navigator was. Tydens die kwalifiseringsronde het hulle vyfde geëindig en ‘n goeie wegspringposisie vir die volgende dag verseker. Die span het goed gevaar en het gereeld tussen die vierde en vyfde posisies afgewissel. Drie pap bande het egter hul vordering in die wiele gery, maar Bathfield het nogtans negende klaargemaak.

Bathfield sê die Rysmierbult 300 (300 kilometer) was ‘n ongelooflike ervaring en hy het baie uit die ondervinding geleer.

“Die Rally-Raid-byeenkomste is totaal en al anders as tydrenne, waar jy so vinnig as moontlik ‘n kort sneldeel wil aflê. Jou beplanning en strategie by Rally-Raid is totaal en al anders. Ek wil myself verbeter en uitdaag en dis die rede hoekom ek aan dié tipe byeenkomste deelneem.”

Bathfield en Rietz sal van komende Vrydag tot Sondag by Jwaneng in Botswana die Sarona Kalahari 1000 oor drie dae aandurf.

Topdrie uitslae van Swakopmund:



Sedanklasse

Slegs drie van die sewe spanne het die tydren suksesvol voltooi.

Algeheel: 1 Stefanie Botha/Amanda Hugo (S4) Subaru Impreza STi (1:04:55), 2 Zachary Martin/Anique Schoeman (S2, eerste in S2-klas) VW Polo 2 liter (1:06:32), 3 Peer Röhm/Pieter Steyn (S2, tweede in S2-klas) Ford Escort MK2 (1:08:35).



Uitdaagklasse

Sewe van die nege spanne het die eindstreep gehaal.

Algeheel en CR2-klas: 1 Etienne van den Heever/Melvin Gous (00:57:26) V8-BAT Venom 6.2 liter, 2 Werner Bartsch/Christel Fourie (1:05:29) V8-Landrover 4 lt, 3 Rolf Pretorius/Kai Pretorius (1:06:45) V8-Chenowth 3.5 lt.

CR1: 1 Ekko Eisenberg/Horacio Rietz (1:08:04) V8-JAC 4 lt, 2 SJ Schoeman/Phillip Stoman (1:19:11) Toyota Hilux GD6.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer