Erasmus lei jong Eagles na puik reekssege

Krieket
Die kaptein het ses sesse geslaan as deel van 'n oorheersende Namibiese kolfbeurt.
Andrew Poolman
Met kaptein Gerhard Erasmus aan die spits van ‘n puik spanpoging het die Richelieu Eagles gister die beste van Namibiese krieket uitgestal toe hulle die vyfde internasionale T20-wedstryd teen die hardnekkige Oman gewen en daarmee die reeks met 2-1 beklink het.

Vir die tweede keer in die reeks in Al Amarat, Oman, is Erasmus as speler van die wedstryd aangewys ná ‘n uitmuntende vyftigtal en twee paaltjies.

“Dit was moeilik om die gang van die reeks om te keer toe ons die derde wedstryd so lelik (met agt paaltjies) verloor het – met ‘n jong spelersgroep en sommige spanlede wat die afgelope tyd nie baie krieket gespeel het nie. Die senior spelers het hul kant gebring,” het Erasmus in die TV-onderhoud gesê.

Nadat Erasmus die middag die loot gewen en gekies het om sy span eerste te laat kolf, het die aanvangspaar JP Kotzé (48 van 37 balle, vyf viere, drie sesse) en ná sy vertrek Malan Kruger (45 van 28 balle, 1x4 5x6) aggressief ingeklim.

Kruger is teenaan die grenstou uitgevang met ‘n hou wat andersins ‘n ses sou gewees het en wat sy tweede vyftigtal in ‘n T20i-wedstryd by sy rekord sou kon voeg. Nadat sy vorige tellings in die reeks 8, 8, 2 en 3 was, het hy homself terug in die geselskap geplaas in die opbou na die naderende T20 Wêreldbeker in Juniemaand in Wes-Indië.

Erasmus het só geantwoord toe hy oor Kruger se tydige blink vertoning uitgevra is. “Ek voel JP Kotzé het die leiding geneem in die belangrike kragspelperiode van die vierde wedstryd. Vandag het JP en Malan ook die momentum in ons guns geswaai. Met Michael van Lingen en Niko Davin wat hierdie toer misloop, is dit goed om opsies in die aanvangspaar te hê.”

Erasmus se eie kolfbeurt op nommer drie was ewe puik. Sy vyftigtal het met sy 25ste bal verskyn, met toe hy drie opeenvolgende sesse van Rafiullah gemoker het in die 19de boulbeurt wat (saam met ‘n ses en ‘n vier vir David Wiese) ‘n allemintige 32 lopies opgelewer het. Uiteindelik was hy onoorwonne op 64 van 29 balle (2x4 6x6).

Wiese se 29 nie uit nie is van 17 balle bygedra, met twee viere en twee sesse, terwyl Jan Frylinck uitgevang is vir 14 van 10 balle (2x4).

Gister se Namibiese kolftotaal van 212 vir drie was hul tweede hoogste in ‘n internasionale T20-wedstryd en word net oortref deur 240/3 teen Botswana in Windhoek (20 Augustus 2019).

Oman se kaptein Zeeshan Maqsood moes in die TV-onderhoud ‘n vraag oor hul “patetiese” veldwerk hanteer, nadat hulle ses vangskote laat val het. Hy het belowe dat hulle die oorblywende tyd na die Wêreldbeker goed sal aanwend, voordat hulle daar juis ‘n herontmoeting teen die Eagles sal hê.

Oman is in hul kolfbeurt vir 150 uitgeboul – maar was ewe dreigend in die eerste helfte. ‘n Keerpunt was in die tiende boulbeurt, toe Naseem Khushi (51 van 29 balle, 3x4, 4x6) se hou deur die bouler Erasmus afgesny is. Die oorhaastige Aqib Ilyas het ‘n onwyse lopie gehardloop, maar Khushi het doodstil bly staan en Erasmus se gooi na paaltjiewagter Zane Green het op 99/2 (9.4 bb) die begin van Oman se ineenstorting ingelui.

Erasmus het hierna boonop 2/22 ingepalm en sy mede-draaibouler Bernard Scholtz was dodelik met vier paaltjies (4/20 in 4). Wiese, Jack Brassell en Tangeni Lugameni het ook met een paaltjie elk die opruimingswerk help doen.



VRYDAG, WEDSTRYD 4

Opgesom: Namibië (164/4) klop Oman (140/9) met 24 lopies.

JP Kotzé slaan 78 van 51 b (8x4, 4x6) en David Wiese 51 nie uit nie van 32 balle (een vier, vier sesse). Wiese neem hierna ook drie paaltjies vir 26 en behaal twee puik vangskote vir die toekenning as speler van die wedstryd.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!