Faf du Plessis lei o.19's se missie vir WB-kwalifisering

Krieket
Hoewel Namibië 'n medegasheer van die 2026 Wêreldbeker vir o.19's sal wees, moet sy junior span eers oor die kwalifiserende hekkie kom indien hy wil deelneem.
Andrew Poolman
Krieket Namibië het sy nasionale junior span aangekondig om mee te ding in die ICC Onder-19 Wêreldbeker 2026 kwalifiserende toernooi vir die Afrika-streek, wat van 28 Maart tot 6 April 2025 in Lagos, Nigerië, gehou word.

Francois “Faf” du Plessis sal Namibië aanvoer wanneer hulle Kenia, Uganda, Tanzanië, Nigerië, Sierra Leone en die gasheerspan Nigerië pak vir 'n enkele kwalifiserende plek vir die 2026 IKR-pronkstuk, wat as ‘n historiese mylpaal gesamentlik in Namibië en Zimbabwe aangebied sal word.

Du Plessis en Ben Brassell is die twee groeplede wat steeds gekwalifiseer het om vir die Namibiese jongspan te speel nadat hulle ook by verlede jaar se ICC O.19 Wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika betrokke was.

Die drietal broers Jack Brassell (die oudste, lid van die 2024-span wat intussen na die senior nasionale groep aanbeweeg het), Ben Brassell en die nuwe o.19-insluiting Dan Brassell sal vir 'n interessante inskrywing as voetnota by die spanlyste by die Afrika-uitdunne sorg.

Die Walvis Bay Salt Eagles (Namibië o.19) sal opnuut deur hoofafrigter Oscar Nauhaus gelei word, wat ook verlede jaar se span na die WB-toernooi in Suid-Afrika geneem het. Hy is ook Krieket Namibië se hoëprestasiebestuurder.

Nauhaus word bygestaan deur Fungai Hlupo (hulpafrigter), Polly Negongo (spanbestuurder) en Owetu Rukoro (fisioterapeut).

Die 14-tal uitgesoekte spelers wie se name by Dinsdagaand se amptelike aankondiging by die nuwe Namibiese nasionale krieketstadion uitgelees is:

Adriaan Coetzee (Cricket Namibia Sports and Leadership Center)

Ben Brassell (Pro-Ed Akademie; Pro-Ed Old Boys)

Dan Brassell (Pro-Ed Akademie; Pro-Ed Old Boys)

Erik Lintvelt (Windhoek Afrikaanse Privaatskool; Trustco United)

Francois “Faf” du Plessis (kaptein, Windhoek Gimnasium; WHS Old Boys)

Henry Grant (St. Paul’s College; WHS Old Boys)

Janco Engelbrecht (Gobabis Gimnasium; Trustco United)

Junior Taanyanda (Flamingo High School; Blue Waters)

Liam Basson (Paul Roos Gimnasium)

Luca Micillo (Windhoek Afrikaanse Privaatskool; WHS Old Boys)

Max Heingo (Flamingo High School; Blue Waters)

Rowan van Vuuren (Walvisbaai Privaatskool; Sparta)

Tiaan van der Merwe (Windhoek Gimnasium; Wanderers)

Waldo Smith (Windhoek Gimnasium; Wanderers)

Namens die Namibiese Sportkommissie (NSC) en die ministerie van sport, jeug en nasionale diens, het mnr. Givean Samulandela (NSC se bemarking- en skakelbeampte) waardering uitgespreek teenoor elke rolspeler wat die spelers tot hier ondersteun het – veral die afrigters, administrateurs, borge en families. Hy het die jong Eagles aangemoedig om die geleentheid aan te gryp en hul land Namibië trots te maak.

In die dae voor hul vertrek na Nigerië is die nasionale jongspan bestem om ‘n paar opwarmwedstryde in Suid-Afrika te gaan speel.

Namibië het sedert sy debuutverskyning in 1998 in Suid-Afrika verskeie hoogtepunte by o.19 Wêreldbeker-toernooie gelewer, maar het ook al in onlangse jare die teleurstelling ervaar dat spanne soos Nigerië of Uganda hulle in die kontinentale wedloop ter kwalifisering uitgeskakel het.

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer