Junior Meesters 2024: Uitsonderlike vertoning van jong talent

Tennis
Die vasberadenheid en ambisie van die jong geslag spelers is 'n goeie teken vir die plaaslike sport.
Johre Botha
Die naweek se Junior Meesterstoernooi van die Namibiese Tennisvereniging (NTA) was in 'n uitdaging van uiterste toestande en emosies, met die spelers wat oor twee moeilike dae hul bes gedoen het onder 'n brandende son.

Die toernooi was nie net 'n stryd om die topposisies nie, maar ook 'n toets van vasberadenheid en deursettingsvermoë.

‘n Groot hartseer was dat sommige spelers, wat in die top-8 van Namibië in hul ouderdomsgroep gekeur was en dus die spesiale uitnodiging ontvang het, nie opgedaag het nie. Dit werp 'n skaduwee oor die prestasie van diegene wat wel teenwoordig was en hul talente kom wys het.

Nogtans het die jong sterre die kans aangegryp om die aandag op hulle te vestig.

In die o.10 seunskategorie was die mededinging skerp, met verskeie spannende en naelskraapse wedstryde. Die topgekeurde Peter Gathuru het op dag twee indrukwekkend vertoon en sy teenstanders van die baan af gespeel.

Nicholas Buys, derde gekeur en die enigste ander onoorwonne speler, het vir Jasper Coetzee (tweede) 'n waardevolle tennisles gegee in hul wedstryd (8-3). Jasper het opwindend teruggeveg in die semifinaal teen Peter, maar Peter was net daai treetjie beter (8-4), wat hom in die finaal teen Nicholas geplaas het. In 'n spannende stryd het Peter uiteindelik met 8-3 die titel verower.

In die onder 10-meisieskategorie het onttrekkings die program ietwat ontwrig, maar dit het nie die vaardigheid van die ander spelers verminder nie. Janice Bezuidenhout het haar talent bewys deur onoorwonne eerste te eindig, en hoewel Madison Hoff haar mees uitdagende uitdager in hul beslissende ontmoeting was (8-3), het Janice kopgehou en die nodige punte ingepalm. Immaculate Fundisi het dapper geveg en derde geëindig.

In die onder 12-meisiestoernooi het Niamy Marcus, eerste gekeur en onoorwonne, gewys hoekom sy boaan die klas staan. Sy het vinnig met haar teenstanders klaargespeel en het geen stel afgestaan nie (wedstryde in beste uit drie stelle beslis).

Die wedstryd tussen die tweede en derde gekeurde o.12’s, Milan de Lange en Helen Boshoff, was 'n op-en-af drama, maar Milan het die wa deur die drif getrek (6-3, 7-6) en die finale plek teen Niamy geboek. Niamy het De Lange met 6-1, 6-2 geklop.

In die o.12 seunskategorie het Breyton Bezuidenhout die ouderdomsgroep gewen, met Shafishina Shimali in die tweede plek en Paulus Pameni derde.

In die o.14 seunskategorie het Johan Theron uitgeblink en met gemak met sy teenstanders afgereken. Sy naam kan beslis dopgehou word, want hierdie seun gaan nog ver vorder.

Nog ‘n naam wat in dié groep na vore getree het, was De Witt Bergh, wat as ongekeurde in die toernooi van sy beste tennis gespeel het. Hy het die tweede gekeurde Tadiwa op dag een geklop en vinnig verby die derde gekeurde Jaden van der Westhuizen gevorder, wat hom in die finaal teen Johan Theron geplaas het (6-3, 6-1).

By die o.14 meisies het Emma Brinkmann eerste geëindig, gevolg deur Secilia Nghitewapo in die tweede plek en Elrica Nakusera derde.

In die o.16 meisieskategorie het Joanivia Bezuidenhout die eerste plek behaal, met Mari van Schalkwyk in die tweede plek en Ndeumono Wilhelm derde. Bezuidenhout het met 6-4, 7-6 die bordjies verhang teen Van Schalkwyk wat enkele weke gelede die Senior Meesters-titel ingepalm het.

By die o.16 seuns het Lian Kuhn die titel verower, nadat Dante Marcus die eerste gekeurde Henlou du Toit in ‘n taai semifinaal van drie stelle verras het (6-3, 3-6, 7-6). In die eindstryd het Kuhn met 6-1, 6-2 nog genoeg in die tenk oor gehad teen die derde gekeurde Marcus.

In die onder 25 manskategorie was slegs twee inskrywings, met Juan Kuhn wat die eerste plek verower het deur JH Esterhuizen met 6-2, 6-2 te klop.

Ter opsomming was die Junior Meesterstoernooi 2024 'n inspirasie, wat die deursettingsvermoë en passie van die jong geslag beklemtoon het. Met die hoop dat die volgende jaar se toernooi ten volle deur die topgekeurde spelers ondersteun sal word, was daar genoeg mededinging en sportmangees om duidelik te wys dat ons in 'n opwindende tyd vir tennis in Namibië leef.

Kommentaar

Republikein 2024-12-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 36° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 19° | 27° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 20° | 25° Tsumeb: 19° | 27° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 18° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 16° | 21° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 20° | 36° Aranos: 20° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 14° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 24° Lubumbashi: 17° | 31° Mbabane: 16° | 19° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 15° | 34° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 26° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 17° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 17° | 21° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 34° Harare: 19° | 31° #REF! #REF!