Koeël deur die kerk vir WB-kwalifisering

Krieket
Andrew Poolman
Namibië sal bloot toeskouers wees – nie deelnemers nie – ondanks hul status as mede-gasheerland vir die ICC mans onder-19 Wêreldbeker in Windhoek en Zimbabwe volgende jaar.

Die nasionale junior krieketspan het Saterdag sy laaste kwalifiserende wedstryd van die Afrika-uitduntoernooi in Lagos, Nigerië oortuigend gewen, maar die koeël was reeds deur die kerk met Dinsdag se nederlaag met 17 lopies teen Tanzanië.

Tanzanië het ook onoorwonne gebly in sy volgende twee wedstryde teen Kenia en Sierra Leone en het gevolglik die vasteland se enigste beskikbare kwalifiserende posisie opgeraap.

Statisties het verskeie Namibiese spelers blink vertonings in die toernooi gelewer, maar ongelukkig word die prys betaal vir die span se enigste glips, met geen tweede kans nie.

Indien die besluitnemers ooit oorweeg om die formaat te verander, sodat die twee topspanne in die Afrika-toernooi eerder sake in ‘n beslissende eindstryd kan uitspook as bloot op grond van die puntestand ná die rondomtaliewedstryde, kan ‘n mens raai dat Namibië gewis sy stem in hierdie boksie sal gooi.

Namibië sal immers vir die derde keer in onlangse jare afwesig wees by die junior ICC Wêreldbeker (2020 in Suid-Afrika; 2022 in Wes-Indië; 2026 in Namibië en Zimbabwe). Verlede jaar se verskyning in Suid-Afrika was die tiende deelname sedert Namibië se debuut in 1998. Hiervan was vier opeenvolgende kwalifikasies die meeste (2012 tot 2018).



VERSLAAN KENIA

Die Namibiese boul- en veldwerkvertonings was deurlopend goed in die toernooi en dit was eerder die kolfvernuf wat die Walvis Bay Salt Eagles op kritieke tye in die steek gelaat het.

Saterdag het Kenia die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Die Oos-Afrikane het tot in die 41ste boulbeurt gekolf voordat almal uit is vir die lae totaal van 83 lopies.

Die Eagles-kaptein Francois du Plessis (3/12 in 10 bb; twee leeg) het ‘n puik toernooi beleef en geen Namibiese bouler het meer as 3.0 per boulbeurt afgestaan nie. Rowan van Vuuren (drie paaltjies vir 12 in 9.5 bb), Junior Taanyanda (2/13 in 5, een leeg), Erik Lintvelt (1/17 in 7), Max Heingo (1/15 in 5) en Dan Brassell (0/12 in 4) was almal uitstekend.

Die kolfvertoning was veel minder indrukwekkend toe Namibië ses paaltjies verloor het in die jaagtog na ‘n klein telling. Uiteindelik was aanvangskolwer Erik Lintvelt (35 van 58 balle; vyf viere) en nommer drie en paaltjiewagter Liam Basson (21 van 29 balle, drie viere) die voorste bydraers.



INDIVIDUELE TOPKOLWERS

Uit die topagt lopiemakers was drie Namibiërs:

1 Laksh Bakrania (Tanzanië)

208 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 41.60 / kolftempo 50.24.

2 Francois du Plessis (Namibië)

122 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 30.50 / kolftempo 51.05.

3 George Sesay (Sierra Leone)

96 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 24.00 / kolftempo 41.56.

4 Mohamedi Simba Mbaki (Tanzanië)

95 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 23.75 / kolftempo 69.85

5 Karim Kiseto (Tanzanië)

93 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 18.60 / kolftempo 49.21.

6 Agustino Meya Mwamele (Tanzanië)

91 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 22.75 / kolftempo 45.96.

7 Tiaan van der Merwe (Namibië)

89 lopies in vier kolfbeurte / gemiddeld 22.25 / kolftempo 45.18.

8 Liam Basson (Namibië)

87 lopies in vyf kolfbeurte / gemiddeld 17.40 / kolftempo 54.38.



INDIVIDUELE TOPBOULERS

Drie Namibiërs was onder die voorste sewe paaltjienemers:

1 George Sesay (Sierra Leone)

13 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 3.94.

2 Francois du Plessis (Namibië)

12 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 2.80.

3 Daniel Lassayo (Sierra Leone)

12 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 2.93.

4 Khalidy Amiri Juma (Tanzanië)

11 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 2.28.

5 Rowan van Vuuren (Namibië)

10 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 1.76.

6 Raymond Francis (Tanzanië)

10 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 2.82.

7 Max Heingo (Namibië)

9 paaltjies in vyf kolfbeurte / ekonomie 2.78.

Kommentaar

Republikein 2025-04-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer