Sahil Chauhan van Estland.
Sahil Chauhan van Estland.

Loftie-Eaton se wêreldrekord 109 dae later oortref

Krieket
‘n Veelsydige krieketspeler van Estland, Sahil Chauhan, het die wêreldrekord vir die vinnigste honderdtal in ‘n internasionale T20-wedstryd verpletter.

Die Estland-span is tans op toer in Ciprus en Chauhan se prestasie is tydens Maandag se sege met ses paaltjies oor die gasheerland in Episkopi behaal.

Die 32-jarige, in sy vierde internasionale T20-wedstryd, het sy honderdtal met net sy 27ste aflewering op Happy Valley Ground bereik en onoorwonne op 144 van 41 balle geëindig.

Chauhan het 18 sesse geslaan – ook 'n rekord in T20I's – wat Estland gehelp het om die teiken van 192 lopies te bereik met 42 aflewerings oor.

Die vorige vinnigste honderdtal in T20I’s was 33 balle, behaal deur Namibië se Nicol Loftie-Eaton toe hy op 27 Februarie vanjaar in Kirtipur teen Nepal die mylpaal met een bal minder behaal het as die destydse rekord van 34 balle wat juis deur die tuisspan se Kushal Malla gehou was.

Chauhan het Maandag boonop Chris Gayle se rekord vir die vinnigste honderdtal in enige T20-manswedstryd verbeter, met die Wes-Indiese Eilande-ikoon wat die mylpaal in 30 aflewerings verbygesteek het tydens 'n Indiese Premierliga-wedstryd vir Royal Challengers Bangalore teen die Pune Warriors in 2013.

Ironies genoeg is Chauhan in die eerste van die ses T20I’s, vroeër Maandagoggend, met die heel eerste bal vir nul uitgevang.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer