Naseer help beklink Emirate se eerste sege

Krieket
'n Rekord-openingsvennootskap vir die Eagles in internasionale eendagkrieket was uiteindelik nie genoeg om die Emirate te keer nie.
Tielman Van Lill
Die Richelieu Eagles se internasionale eendagwedstryd teen die Arabiese Emirate het Vrydag in die laaste sewe boulbeurte 'n ongewenste wending geneem toe Ali Naseer op nommer agt stelling voor die paaltjies ingeneem het.

In daardie stadium het die Emirate (269/5 in 43 boulbeurte) nog 45 lopies van 41 balle vir ‘n sege benodig. Naseer het in sy stormloop 38 nie uit nie van 21 aflewerings gemoker om die toerspan se sege met een paaltjie te verseker.

In die proses het hy van sy medekolwers Vishnu Sukumaran, Rahul Bhatia en Junaid Siddique afskeid geneem. In die 50ste boulbeurt het hy koelkop 10 lopies van drie balle gemoker om die Emirate met 316/9 as wenners van die veld te laat stap.

Die oorwinning is die Emirate se eerste ná vier opeenvolgende nederlae in die 2023-2027 Wêreldbeker Liga Twee-reeks, hoewel hulle gister steeds onderaan die algehele puntelys van agt spanne was.



Stewige grondslag

Die Eagles moes verlede week nog in elke wedstryd van die driehoekige reeks in die Wêreldbeker Liga Twee-kompetisie by United eerste gaan kolf.

Hoewel die Eagles ‘n behoorlike 313 lopies (almal uit, in 50 bb) behaal het, was dit nie genoeg om die Emirate te keer nie.

Die aanvangskolwers Michael van Lingen en JP Kotzé het met 142/1 ‘n stewige grondslag vir die Eagles gelê.

Van Lingen en Kotzé se 142 is die grootste openingsvennootskap nóg vir die Eagles in internasionale eendagkrieket, maar vierde op die land se algehele lys van hoogste ODI-vennootskappe waarvan Van Lingen en Gerhard Erasmus (198, onoorwonne) vir die derde paaltjie teen Jersey in Maart 2023 in Windhoek boaan is.

Van Lingen (107 van 85 b, 9x4, 4x6) het in sy 37ste ODI-kolfbeurt sy vyfde honderdtal behaal. Kotzé (64 van 53 b, 6x4, 4x6) het sy tweede vyftigtal in sy 16de ODI geslaan.

Ongelukkig het Jan Frylinck (8), Gerhard Erasmus (19), Malan Kruger (0) en JJ Smit (14) gesamentlik net 41 lopies by die Eagles se totaal gevoeg. Frylinck het in ‘n stadium die veld verlaat met ‘n dyspierbesering, voordat hy later as kolwer teruggekeer het. Hy het egter nie geboul nie en is ook vir gister se stryd teen die Amerikaners ‘n ruskans gegee.

Die telbord het eers kop opgetel toe Nicol Loftie-Eaton ingestap het. Sy 54 van 63 balle (2x4, 3x6) is sy sewende vyftigtal in 35 ODI-kolfbeurte. Bernard Scholtz se 24 van 27 balle kan nie misgekyk word nie en was die laaste beduidende bydrae tot die Eagles se telling.

Loftie-Eaton (4/79 in 8.3) was die Eagles se voorste paaltjievraat, maar sy ekonomie was teen 9.29 baie hoog. Scholtz (2/39 in 10, 1 leeg) was teen 3.90 uiters ekonomies, terwyl Tangeni Lungameni (2/47 in 10) die lopietempo in toom gehou het. Erasmus (1/54 in 10) was ook puik, maar Jack Brassell (0/51 in 7) en Jan-Izak de Villliers (0/42 in 4) het met tye straf verduur.

Die einste Naseer (3/57 in 10) was uitstaande vir die Emirate in die boulaanval. Sukumaran (97 van 90 b, 8x4, 5x6), Basil Hameed (71 van 47 b, 6x4, 4x6), Naseer (38*), Aryansh Sharma (30 van 42 b) en Alishan Sharafu (30 van 42 b) het die beste met die wilgerlat vir die besoekers gevaar.

Vreemd genoeg is Naseer nie as die speler van die wedstryd aangewys nie, maar Sukumaran wel. Die 33-jarige Sukuruman het sy eerste vyftigtal in sy vierde ODI aangeteken.

Die Eagles het 34 grenshoue (22x4, 12x6) behaal, terwyl die Emirate met 40 (26x4, 14x6) gekook het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-09-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Celta Vigo 0 vs 1 Atletico Madrid | Espanyol 1 vs 2 Villarreal | Las Palmas 1 vs 1 Real Betis | Barcelona 1 vs 0 Getafe | Girona 0 vs 0 Rayo Vallecano | Real Madrid 3 vs 2 Deportivo Alaves | Valencia 0 vs 0 Osasuna | Sevilla 2 vs 1 Real Valladolid SerieA: Atalanta 2 vs 3 Como #N/A Currency: GBP to NAD 22.87 | EUR to NAD 19.09 | CNY to NAD 2.44 | USD to NAD 17.1 | DZD to NAD 0.13 | AOA to NAD 0.02 | BWP to NAD 1.26 | EGP to NAD 0.34 | KES to NAD 0.13 | NGN to NAD 0.01 | ZMW to NAD 0.64 | ZWL to NAD 0.04 | BRL to NAD 3.14 | RUB to NAD 0.18 | INR to NAD 0.2 | USD to DZD 131.75 | USD to AOA 940.1 | USD to BWP 13.08 | USD to EGP 48.32 | USD to KES 128.48 | USD to NGN 1666.22 | USD to ZAR 17.08 | USD to ZMW 26.37 | USD to ZWL 321 | Stock Exchange: JSE All Share Index Same 0 | Namibian Stock Exchange (NSX) Overall Index 1920.07 Up +1.61% | Casablanca Stock Exchange (CSE) MASI 14370.64 Up +0.62% | Egyptian Exchange (EGX) 30 Index 31276.91 Up +0.08% | Botswana Stock Exchange (BSE) DCI Same 0 | NSX: MTC 7.75 SAME | Anirep 8.99 SAME | Capricorn Investment group 17.34 SAME | FirstRand Namibia Ltd 49 DOWN 0.50% | Letshego Holdings (Namibia) Ltd 4.1 UP 2.50% | Namibia Asset Management Ltd 0.7 SAME | Namibia Breweries Ltd 31.49 UP 0.03% | Nictus Holdings - Nam 2.22 SAME | Oryx Properties Ltd 12.1 UP 1.70% | Paratus Namibia Holdings 11.99 SAME | SBN Holdings 8.45 SAME | Trustco Group Holdings Ltd 0.48 SAME | B2Gold Corporation 47.34 DOWN 1.50% | Local Index closed 677.62 UP 0.12% | Overall Index closed 1534.6 DOWN 0.05% | Osino Resources Corp 19.47 DOWN 2.41% | Commodities: Gold US$ 2 650.78/OZ DOWN -0.0082 | Copper US$ 4.57/lb DOWN -0.0087 | Zinc US$ 3 112.00/T UP 0.31% | Brent Crude Oil US$ 71.79/BBP UP +0.30% | Platinum US$ 1 007.40/OZ UP +0.00% #N/A