T20-Wêreldbeker om die draai vir Eagles

Krieket
Die Namibiese uitsoekgroep vir die spoggeleentheid word einde vandeesweek aangekondig.
Tielman Van Lill
Namibië se Richelieu Eagles het sedert Maart en April met drie posisies op die Internasionale Krieketraad (ICC) se internasionale T20-ranglys teruggesak.

Die Eagles was in Maart elfde en verlede maand in die 13de plek nadat Ierland (elfde) en Zimbabwe (twaalfde) elk ‘n tree noord gegee het. Namibië se elfde posisie was die hoogste wat die land nog behaal het sedert die Eagles Internasionale T20-status verwerf het.

Ná die ICC sy ranglys vir spanne op 2 Mei opgedateer het, is Namibië nou 14de. Skotland (twaalfde) is nou die voorste ICC-assosiaatspan met Zimbabwe 13de en Nederland 15de.

Die Verenigde Arabiese Emirate het met een plek geklim (nou 16de), terwyl Nepal (nou 17de) sy posisie aan die Emirate moes afstaan.

Ten spyte van die Eagles se T20i-reeksoorwining van 3-2 verlede maand teen Oman in Al Amerat, het Oman sy 18de posisie behou. Die Eagles se ander gereelde direkte mededingers is die Verenigde State van Amerika (19de) en Papoea-Nieu-Guinee (PNG) wat 20ste gereken word.



INDIVIDUE

JJ Smit, Gerhard Erasmus en Niko Davin is die enigste Namibiërs op die ICC se T20i-kolfranglys waarop die tophonderd kolwers ter wêreld in die kort formaat beoordeel word.

Smit deel die 78ste plek met Shreyas Iyer van Indië, terwyl Erasmus en Davin saam op nommer 95 is.

Die toptien assosiaatkolwers is: 1 Muhammad Waseem van die Emirate (22ste), 2 George Munsey van Skotland (28ste), 3 Michael Levitt van Nederland (31ste), 4 Richie Berrington van Skotland (36ste), 5 Max O’Dowd van Nederland (48ste), 6 Dipendra Singh Airee van Nepal (50ste), 7 Rohit Paudel van Nepal (59ste), 8 Tony Ura van PNG (67ste), 9 Anshuman Rath van Hongkong (71ste) en 10 JJ Smit van Namibië (78ste).

Bernard Scholtz en Erasmus is die enigste twee Eagles wat Namibië op die T20i-boulranglys verteenwoordig. Scholtz is op 76 en sy kaptein op 99.

Die toptien assosiaatboulers is 1 Mark Watt van Skotland (35ste), 2 Aayan Khan van die Emirate (45ste), 3 Fred Klaassen van Nederland (53ste), 4 Safyaan Sharif van Skotland (66ste), 5 Zahoor Khan van die Emirate (70ste), 6 Bernard Scholtz van Namibië (67ste), 7 Ehsan Khan van Hongkong (79ste), 8 Roelof van der Merwe van Nederland (86ste), 9 Zunaed Siddique van die Emirate (87ste) en 10 Sompal Kami van Nepal (93ste).

Op die T20i-ranglys van beste veelsydige spelers vaar Namibië heelwat beter. Erasmus (13de) en Smit (14de) se name pryk onder die wêreld se top-20 en hulle was ook die hoogste geplaaste spelers uit enige assosiaatlande, totdat Nepal se Dipendra Singh Airee by hulle verbygeskuif het. Jan Frylinck is 44ste geplaas.

Die toptien veelsydige spelers uit ICC-assosiaatlande is: 1 Dipendra Singh Airee van Nepal (elfde), 2 Erasmus, 3 Smit, 4 Aqib Ilyas van Oman (26ste), 5 Kushal Malla van Nepal (33ste), 6 Zeeshan Maqsood van Oman (35ste), 7 Michael Leask van Skotland en 8 Basil Hameed van die Emirate (beide 38ste), 9 Richie Berrington van Skotland (40ste) en 10 Charles Amini van PNG (41ste).



T20 WÊRELDBEKER

Wanneer Namibië aanstaande maand in Wes-Indië by die snel naderende T20-Wêreldbeker in Groep B in Barbados teen Oman (2 Junie) en Skotland (6 Junie) op die veld stap, is die kans bykans 100 persent dat die Munseys, Berringtons, Wattse, Sharifs, Leaske en die veelsydige Ilyas en Maqsood op hulle sal wag.

Die Eagles se spelersgroep vir die T20-Wêreldbeker word komende Vrydag aangekondig.

Australië (11 Junie in Antigua en Barbuda) en Engeland (15 Junie in Barbuda) in Groep B, is ‘n riller wat vir die Namibiërs wag.

Die gedugte Australië het reeds ‘n sterbelaaide spelersgroep aangekondig. Die kaptein Mitchell Marsh se groep bevat ook Ashton Agar, Pat Cummins, Tim David, Nathan Ellis, Cameron Green, Josh Hazlewood, Travis Head, Josh Inglis (paaltjiewagter), Glenn Maxwell, Mitchell Starc, Marcus Stoinis, Matthew Wade (paaltjiewagter), David Warner en Adam Zampa.

Ná die rondomtalieronde afgehandel is, sal net die top twee spanne van elke groep na die Super 8-ronde vorder.

Die lande by die T20-Wêreldbeker, met hul huidige ranglysposisies in hakies:

Groep A: Indië (1), Pakistan (7), Ierland (11), Kanada (23), VSA (19).

Groep B: Australië (2), Engeland (3), Namibië (14), Oman (18), Skotland (12).

Groep C: Nieu-Seeland (5), Wes-Indië (6), Afghanistan (10), Uganda (22), Papoea-Nieu-Guinee (20).

Groep D: Suid-Afrika (4), Sri Lanka (8), Bangladesj (9), Nederland (15), Nepal (17).

Die ICC se boul- en kolfranglyste asook die ranglys vir veelsydige spelers, is op 30 April 2024 opgedateer.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 35° Rundu: 19° | 35° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 22° | 35° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 20° | 33° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 23° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 21° | 37° Keetmanshoop: 21° | 38° Aranos: 22° | 37° Lüderitz: 14° | 25° Ariamsvlei: 20° | 39° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 35° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 17° | 29° Maseru: 16° | 31° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 32° Windhoek: 20° | 33° Cape Town: 16° | 25° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 16° | 31° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 20° | 32° Harare: 18° | 28° #REF! #REF!