Veelsydige Erasmus opnuut deur ICC vereer

Krieket
Die nasionale kaptein was die afgelope twaalf maande opnuut goud werd vir die Namibiese Eagles.
Tielman Van Lill
Die gesogte toekenning as krieketspeler van die jaar 2024 in ICC-assosiaatlande is vir die tweede keer deur Namibië se kaptein, Gerhard Erasmus, voor etlike mededingers opgeraap.

Erasmus het 'n indrukwekkende vlak van konsekwentheid regdeur die kalenderjaar in beide internasionale eendag- (ODI) en internasionale T20-krieket (T20I’s) gelewer. Hy het agt vyftigtalle aangeteken en het gereeld met die kolf in die Namibiese middelorde sy stempel afgedruk.

Dié 29-jarige was ook 'n konstante bedreiging met sy bestendige wegbreekaflewerings. Hy het 2024 met vyf paaltjies vir 28 lopies teen Nepal in Kirtipur begin en het belangrike paaltjies regdeur die jaar ingepalm.

In reaksie op die eerbetoon het die Namibiese kaptein gesê: “Ek bedank graag my spanmaats, my familie, die afrigters en ondersteueners wat 2024 ’n goeie jaar vir my gemaak het.”

“Die superboulbeurt by die T20-Wêreldbeker (in die oorwinning teen Oman, ná die aanvanklike gelykopuitslag) saam met David Wiese, een van my beste vriende, was beslis onder die beste hoogtepunte in my krieketloopbaan.

“Ek het beslis vordering met my boulvernuf getoon namate ek meer gereeld kans gekry het om vir Namibië te boul, asook vir die ander spanne vir wie ek gespeel het. Ek is regtig trots met my vordering tot ’n hoër vlak in internasionale krieket. Ek sal graag nog ’n paar honderdtalle vir Namibië wil aanteken.”

“Die Richelieu Eagles se fokus was nog altyd om soveel as moontlik punte in die Krieketwêreldbeker Liga 2-reeks in te samel. Hopelik kan ons gedurende 2025 ses of agt oorwinnings in die huidige reeks (2024-2027) bewerkstellig.”

Erasmus het uitstekend vir Namibië by die T20-Wêreldbeker vertoon. Hy het ‘n vyftigtal teen Skotland aangeteken en was ook aan die brand in die superboulbeurt wat sy span hul enigste oorwinning van die toernooi teen Oman besorg het.

Sy talent teen die hoogste vlak van opposisie is ook gewys ondanks 'n groot nederlaag teen Australië. Erasmus en Michael van Lingen (10) was die enigste twee Eagles-kolwers wat dubbelsyfers kon behaal.

Sy 36 van 43 balle was verreweg die voorste poging met die kolf, aangesien sy span net 72 lopies in 17 boulbeurte aangeteken het. Met vier viere en ‘n ses het hy puik aan die gang gekom nadat hy sy eerste lopie eers vanaf die 17de bal aangeteken het (‘n ietwat ongewenste wêreldrekord in T20I’s).



Sy eendagrekord in 2024

727 lopies en 36 paaltjies in 25 wedstryde. Erasmus het 2024 afgesluit met kans identiese rekords in eendag- en T20-reekse. In ODI-wedstryde het hy 364 lopies teen 'n gemiddeld van 33.09 aangeteken en 18 paaltjies teen 22.38 in twaalf wedstryde geneem.

In T20I-wedstryde het Erasmus 2024 afgesluit met 363 lopies (gemiddeld 33.0) en 18 paaltjies teen 13.61 in 13 wedstryde.



Onvergeetlike prestasie

Erasmus was die toppresteerder met beide kolf en bal toe Namibië Skotland in 'n spannende Groep B-wedstryd by die T20-Wêreldbeker aangedurf het.

In die eerste kolfbeurt het hy 'n puik 52 van 31 balle gemoker, wat sy span gehelp het om 'n mededingende totaal van 155 vir die verlies van nege paaltjies te bereik.

Met die bal was hy uitstekend en het twee van Skotland se topdrie kolwers uitgehaal vir individuele boulsyfers van twee paaltjies vir 29 lopies in vier boulbeurte.

Skotland het wel danksy ‘n laat kolfversnelling die oorwinning behaal, maar die Namibiese kaptein kon beswaarlik meer vir sy span gedoen het.



ICC-ranglys, ODI’s

Erasmus is tans 28ste op die ICC-ranglys vir kolwers en die topkolwer van die assosiaatlande. Op die boulranglys is hy 81ste saam met Glen Maxwell van Australië en Michael Leask van Scotland. As veelsydige speler is hy sesde en die hoogste geplaaste assosiaatspeler.

T20I-ranglys: Erasmus is tans 75ste op die kolfranglys en tiende as veelsydige speler.



Sy ODI-rekord

Wedstryde 52, 51 kolfbeurte, 1 957 lopies van 2 427 balle teen ‘n treftempo van 80.63 persent en gemiddeld 42.54 per kolfbeurt. Honderdtalle 2, vyftigtalle 16, viere 163, sesse 44.

Boulwerk: 38 paaltjies vir 1 000 lopies in 1 369 aflewerings (38 boulbeurte) met ‘n ekonomie van 4.38 per boulbeurt teen gemiddeld 26.31 lopies per paaljie. Beste boulsyfers 5/28.



Sy T20I-rekord

65 wedstryde, 63 kolfbeurte, 1 557 lopies van 1 254 balle teen ‘n treftempo van 124.16 persent en gemiddeld 32.43 per kolfbeurt. Een honderdtal, 11 vyftigtalle, 124 viere, 56 sesse.

Boulwerk: 53 paaltjies vir 741 lopies van 805 aflewerings (44 boulbeurte) met ‘n ekonomie van 5.52 per boulbeurt; gemiddeld 13.98 lopies per paaljie. Beste boulsyfers 3/7.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 32° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 20° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 20° | 33° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 21° | 33° Windhoek: 21° | 30° Gobabis: 22° | 35° Henties Bay: 18° | 21° Swakopmund: 18° | 19° Walvis Bay: 18° | 23° Rehoboth: 22° | 33° Mariental: 25° | 36° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 28° | 37° Lüderitz: 16° | 25° Ariamsvlei: 23° | 36° Oranjemund: 16° | 25° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 23° Mbabane: 16° | 29° Maseru: 18° | 32° Antananarivo: 18° | 26° Lilongwe: 18° | 26° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 21° | 30° Cape Town: 19° | 24° Durban: 22° | 29° Johannesburg: 21° | 32° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 17° | 23° Harare: 15° | 27° #N/A #N/A