Besoekers nou welkom by ontsoutingsaanleg

Augetto Graig
Die goewerneur van die Erongostreek, Neville Andre, het Dinsdag die Erongo-ontsoutingsaanleg se nuwe besoekersentrum geopen. Die sentrum sal ’n opvoedkundige doel dien, veral gerig op onderwys, en sal die gasheer wees vir byeenkomste oor veral waterkwessies.

Andre het tydens die openingsgeleentheid gesê die deel van inligting is integraal tot ontwikkeling vir die gebied buite Swakopmund.

Orano Mining Namibia besit dié seewater-ontsoutingsaanleg van N$2,5 miljard wat van tru-osmose gebruik maak – die grootste van sy soort in die Afrikalande suid van die Sahara.

Hilifa Mbako, uitvoerende voorsitter van Orano Mining Namibia – ’n filiaal van die Franse energiemaatskappy Orano – het gesê: “Ons kan ook oplossings vind en dit bring na die mense, ons bure. Indien probleme voorkom, moet ons met mekaar daaroor praat – nie net oor water nie, maar ook elektrisiteit en ander dinge. Die oomblik wanneer ons ophou om met mekaar te praat, begin die probleme,” het hy gesê.

Tydens die opening is Andre en ’n afvaardiging van die Swakopmund-munisipaliteit, onder wie burgemeester Dina Namubes en die uitvoerende hoof, Archie Benjamin, op ’n toer deur die aanleg geneem.

Volgens Tommy Gouws, besturende direkteur van Orano Mining, vergroot die nuwe sentrum die omvang van besoekers wat die aanleg nou kan akkommodeer, nie net in terme van die grootte van groepe nie, maar omdat leerlinge ook nou self daar kan sien hoe seewater drinkbaar gemaak word.

Weens veiligheidsmaatreëls word ’n ouderdomsbeperking vir besoekers toegepas. Die sentrum bied ook nou geleenthede vir slypskole en vergaderings wat fokus op ontsoutingstegnologie, sê hy.

Die aanleg suiwer daagliks sowat 40 000 kubieke meter seewater en voorsien omliggende myne en plaaslike owerhede van water. Luidens ’n mediavrystelling oor kapasiteit wat die aanleg se bestuur in Februarie uitgereik het, ontsout die aanleg tot 20 miljoen kubieke meter water per jaar, alhoewel aanvraag dit op die oomblik tot tussen 12 en 13 miljoen kubieke meter beperk.

Die aanleg kan uitgebrei word om jaarliks 45 miljoen kubieke meter te voorsien, namate die verwagte aanvraag weens mynbouprojekte in die streek sal groei.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!