Swakopmund, die tuiste van die ikoniese lighuis, is een van drie dorpe in Namibië wat beoog om 'n slimstad te word. Foto verskaf
Swakopmund, die tuiste van die ikoniese lighuis, is een van drie dorpe in Namibië wat beoog om 'n slimstad te word. Foto verskaf

Drie slimstede vir Namibië beplan

Swakopmund se sperdatum skuif aan
Tegnologiese vordering is kritiek om beleggings en kundigheid vir ekonomiese ontwikkeling te lok, sê die Oranjemund-munisipaliteit se woordvoerder.
Iréne-Mari van der Walt
Die wedloop om plaaslike dorpe en stede in slimstede te omskep, is nog in sy wegspringblokke.

Die munisipaliteite van Windhoek, Swakopmund en Oranjemund het onlangs hul voornemens bekend gemaak om dié dorpe en stad in slimstede te omskep.

Die munisipaliteit van Swakopmund het reeds in 2020 sy planne vir ’n slimstad in ’n verslag van 100 bladsye vrygestel.

Volgens die munisipaliteit se woordvoerder het verskeie uitdagings Swakopmund se planne gekniehalter om teen 2024 ’n slimstad te word.

“Daar is verskeie projekte wat onder die slimstadkonsep val, soos onder meer videokameras op lamppale, fietslane en gratis Wi-Fi.

“Hoewel die ooreenkoms met MTC geteken is, is daar steeds verskeie tegniese kwessies wat uitgesorteer moet word en finansiering wat vir die onderskeie projekte bekom moet word,” het me. Aili Gebhardt, die munisipale woordvoerder, gesê.

Mnr. Archie Benjamin, uitvoerende hoof van die Swakopmund-munisipaliteit, sê dié kusdorp se doelwit om ’n slimstad te word, is meer as net ’n titel.

“Ons wil nie net met die stroom saamgaan nie; die doel is om ’n stad te skep wat leefbaar is,” het hy gesê.

Benjamin sê die munisipaliteit werk tans om soveel munisipale dienste as moontlik te digitaliseer sodat die dorp se inwoners nie die munisipale kantoor hoef te besoek nie.

Die oorspronklike sperdatum van 2024 – om Swakopmund in ’n slimstad te omskep – is volgens hom onrealisties.

“Ek dink 2026 is ’n meer realistiese datum om die basiese infrastruktuur in plek te hê, maar ek dink die slimstadkonsep is ’n langtermynverbintenis,” het Benjamin gesê.

In Oranjemund het Telecom Namibia glo net meer as ’n week gelede ’n bedrag van N$12 miljoen belê om nuwe veselroetes in dié dorp moontlik te maak.

Die projek sal na bewering ongeveer agt maande duur en beoog om meer as 2 000 inwoners en besighede aan die optiese veselnetwerk te koppel.

Volgens me. Glenadette Scholtz, Oranjemund-munisipaliteit se woordvoerder, ondersoek die munisipaliteit tans nuwe moontlikhede om die dorp se ekonomiese toekoms vanaf mynbou te diversifiseer.

“’n Deel van die dorp se identiteit is om ’n slimdorp te word. Tegnologiese vordering is kritiek om beleggings en kundigheid vir ekonomiese ontwikkeling te lok,” het sy gesê.

Scholtz sê die huidige belegging in infrastruktuur beoog om die dorp se internettoegang teen 2023 meer doeltreffend te maak.

Die Windhoekse munisipaliteit het nie op die koerant se navrae gereageer nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer