Foto ter illustrasie/Pexels/Karolina Grabowska
Foto ter illustrasie/Pexels/Karolina Grabowska

E-handtekeninge onder die loep

'Duidelike regulasies bevorder vertroue'
'n Digitale kenner sê dit is belangrik om die wetlike aspek rakende e-handtekeninge te takel.
Iréne-Mari van der Walt
Met die oog op die verbetering van doeltreffendheid en sekuriteit in die digitale ekonomie, streef die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie (MICT) in samewerking met die Kommunikasie Regulerende Owerheid (Cran) daarna om regulasies vir e-handtekeninge op te skerp.

“Dit is ’n goeie ding, want ons leef in ’n digitale wêreld. . . E-handtekeninge is goed, want jy hoef nie na ’n tak van ’n bank, staatsagentskap of finansiële instelling te gaan nie,” beaam die digitale kenner Paul Rowney.

“Elektroniese handtekeninge verbeter sekuriteitsriglyne wat teen bedrog en ongemagtigde toegang beskerm.

“Duidelike regulasies bevorder ook vertroue, wat verseker dat digitale transaksies net so betroubaar is soos tradisionele transaksies,” het MICT se woordvoerder, Ngaevarue Katjangua, en Cran se woordvoerder, Mufaro Nesongano, in ’n gesamentlike kommunikasie gesê.

“Standaardprotokol kan samewerking tussen verskeie platforms vir e-handtekeninge fasiliteer, wat dit makliker maak vir besighede en individue om by oorgrenstransaksies betrokke te raak,” sê Katjangua en Nesongano.

Rowney sê dit is belangrik om die wetlike aspek rakende e-handtekeninge te takel.

“Ons kan onsself aan risiko blootstel, so ons moet kyk hoe ons dit verifieer, want as iemand ’n dokument kan manipuleer, kan hulle jou handtekening gebruik.

“Daarom moet ons onsself afvra; watter stelsels gaan ons gebruik? Hoe hou ons mense aanspreeklik? Wie gaan ons aanspreeklik hou?”

MICT en Cran sê hulle is tans van plan om hierdie bekommernis aan te pak.

“Verbeterde regulasies help om dubbelsinnigheid in regte aan te spreek en verseker dat e-handtekeninge erken word en afdwingbaar is in verskeie jurisdiksies, wat uiteindelik ’n meer doeltreffende en veilige digitale ekonomie bevorder,” sê Katjangua en Nesongano.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer