Giga se webblad wys ongeveer 1 300 skole in Namibië het toegang tot die internet. Foto GigaMaps
Giga se webblad wys ongeveer 1 300 skole in Namibië het toegang tot die internet. Foto GigaMaps

Eduvision, Giga poog om skole aan die internet te verbind

Altesaam 217 skole sonder krag
Van Namibië se 1 946 skole het sowat 1 300 toegang tot die internet.
Iréne-Mari van der Walt
Paratus Namibia sê meer as 12 000 leerlinge landswyd het toegang tot die internet en aanlyn onderrig deur hul skole verkry met die Eduvision-program.

“Vanaf die eerste digitale bordinstallasie by Edugate Academy en die Sekondêre Skool Tsumkwe, het Eduvision gegroei om talle skole te bereik, wat interaktiewe leer en die deel van kennis moontlik maak.

“Vandag het meer as 12 000 leerlinge gratis toegang tot aanlyn onderrig van hoë gehalte, wat help om die digitale gaping in landelike gebiede te verminder,” lui Paratus se verklaring.

Paratus het nie net sy eie infrastruktuur verskaf nie, maar het ook ’n toegewyde tegniese ondersteuningspan saamgestel om te verseker dat skole vinnig bystand kan ontvang wanneer tegniese uitdagings opduik.

“In afgeleë gebiede – waar hulp dikwels skaars is – is hierdie vlak van ondersteuning van onskatbare waarde om digitale klaskamers glad te laat verloop,” het Paratus in sy verklaring gesê.

“Die program het ’n tasbare verskil gemaak, met beide leerlinge en opvoeders wat baat gevind het by verbeterde konnektiwiteit en verbeterde leergeleenthede,” het Paratus in sy verklaring gesê.

Die Eduvision-program lewer ook kos, klere en noodsaaklike voorrade aan skole en gemeenskappe waar dit broodnodig is.

“Dit gaan nie net oor die verskaffing van tegnologie nie – dit gaan daaroor om geleenthede te skep vir elke Namibiese kind om te leer, groei en hul potensiaal te bereik, ongeag waar hulle woon,” sê Paratus se uitvoerende voorsitter, Barney Harmse.



ONDERWYSMINISTERIE

Eduvision is egter nie die enigste een wat poog om leerlinge aan die internet te verbind nie.

Die ministerie van onderwys, vernuwing, jeug, sport, kuns en kultuur het twee weke gelede sy vennootskap met die Unesco-Korean-Funds-in-Trust (KFIT)-program, wat digitale integrasie in skole bevorder, aangekondig.

Die voormalige uitvoerende direkteur en huidige minister van onderwys, Sanet Steenkamp, het onlangs tydens ’n beraad in Genève, Switserland, gesê Namibië het ’n komitee byeengeroep om toesig te hou oor die implementering van die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) se Giga-projek, wat daarop gemik is om skole aan die internet te koppel.

Steenkamp het in Julie verlede jaar gesê 1 946 skole is deur middel van kartering geïdentifiseer.

Daar was 974 207 leerlinge en sowat 31 000 onderwysers in Namibiese skole ten tyde van die beraad. Steenkamp het gesê 217 skole landswyd is nie aan die kragnetwerk gekoppel nie en het dus nie toegang tot die internet nie.

Giga se webwerf waar die status van skole se internetverbindings gevolg kan word, het Donderdag gesê sowat 1 300 skole in Namibië is aan die internet gekoppel, terwyl sewe geïdentifiseerde skole nog nie aan die internet verbind is nie en die internetstatus van 623 nog vasgestel moet word.

Die gemiddelde internet-aflaaispoed in Namibiese skole is 5,45 mbps, terwyl die globale maatstaf 20 mbps is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer