Groen waterstof word werklikheid

Loodsprojek waterstofaanleg vir Walvisbaai
Die O&L-groep en België se CMB.Tech werk saam om teen die einde van volgende jaar plaaslike waterstof te vervaardig.
Augetto Graig
Die Ohlthaver & List-groep (O&L) en CMB.Tech van België werk saam om ’n groen waterstofaanleg ten koste van N$300 miljoen teen die einde van 2023 in Walvisbaai in werking te stel.

Die twee private maatskappye se vennootskap is gister in die hoofstad aangekondig en sal as Cleanergy Namibia bekend staan.

Volgens O&L se uitvoerende voorsitter, mnr. Sven Thieme, word Namibië ’n middelpunt as dit kom by opwekking van hernubare energie, insluitend sonkrag, windkrag of hidro-elektriese krag.

“Hierdie faktore plaas ons land optimaal om die vervaardiging van groen waterstof, of waterstof geskep deur gebruik van hernubare energie, te verken,” sê hy.

Weens Namibië se oorvloed sonskyn het die land die potensiaal om ’n pasaangeër in die ontwikkeling van groen waterstof te word en om meer onafhanklik in terme van kragopwekking te word, sê hy.

Die uitvoerende hoofbeampte van CMB.Tech, mnr. Alexander Saverys, het die geleentheid virtueel bygewoon en uitgebrei oor die lang geskiedenis van sy familie se maatskappy wat sedert 1895 in skeepsbou, verskeping en meer onlangs in groen energie bedrywig is.

Die maatskappy is reeds ’n wêreldleier in die vervaardiging van waterstof en ammoniakaangedrewe skepe, voertuie en masjinerie.

Hy sê Namibië het die potensiaal om grootmaat en lae koste groen waterstof te vervaardig.

“Met vandag se aankondiging hoop ons om te demonstreer dat woorde in aksie omskep kan word as dit kom by groen waterstofprojekte,” het hy gesê.

Hy sê Cleanergy Namibia hoop om te leer uit die loodsprojek om later ’n groter waterstof en ammoniakaanleg in Namibië te bou. Die venootskap hoop om te wys dat groen waterstof reeds in Namibië ’n werklikheid kan wees.

Die aanleg sal op twee hektaar gebou word, op grond waarvoor nog met die Walvisbaai munisipaliteit onderhandel word. Sowat 60% van die perseel, wat moontlik in Walvisbaai se nuwe nywerheidsgebied gebou sal word, sal met sonkragpanele bedek word.

Die aanleg sal ’n 5 MW sonkragplaas behels met ’n 4 MW elektroliseerder met ’n waterstof-hervulstasie waar kliënte soos lorriedrywers, gebruikers van mynboutoerusting, treinlokomotiewe en skeepseienaars hierdie brandstof sal verkry. Die aanleg sal sowat 15 kubieke meter vars water per dag benodig, wat volgens die ontwikkelaars deur NamWater verskaf kan word.

Volgens Thieme is die loodsprojek bloot die eerste tree na ’n nuwe bedryf vir Namibië wat ook die ontwikkeling van nuwe kennis, werkskepping, beter vaardighede, verdere navorsing en toekomstige voorsiening van waterstof as aandr vervoer, mynbou en swaar masjinerie nywerhede in die land sal skep.

Thieme het erkenning aan die regering en president Hage Geingob se leierskap rakende groen waterstofontwikkeling gegee.

VERRE SUIDE By die geleentheid het Namibië se kommissaris vir groen waterstof en presidensiële raadgewer, mnr. James Mnyupe, uitgebrei oor groter planne vir ’n yslike groen waterstofaanleg wat vir die verre suide beplan word.

Hy sê verskeie bestaande Namibiese besighede stel belang. TransNamib werk byvoorbeeld reeds aan waterstofaangedrewe lokomotiewe vir plaaslike gebruik.

Bedrywe soos kragopwekking, vervoer, landbou (veral ten opsigte van kunsmis) en ystervervaardigers ontwikkel reeds hul eie gebruike vir die waterstof.

“Groen waterstof word ’n werklikheid in Namibië – nie in vyf of tien jaar se tyd nie, maar vandag,” het hy gesê. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer