Esther Kimani is die derde vrou en die tweede Keniaanse innoveerder wat dié prys wen. Foto verskaf
Esther Kimani is die derde vrou en die tweede Keniaanse innoveerder wat dié prys wen. Foto verskaf

KI-landboutoestel wen Afrika se grootste ingenieursprys

Eko-teëls en vullisverwydering onder naaswenner
Die Royal Academy-prys fokus op ingenieursprojekte wat die grootste globale uitdagings aanpak terwyl ekonomiese welvaart en volhoubare ontwikkeling ook in ag geneem word.
Kristien Kruger
’n Sonkrag-aangedrewe hulpmiddel wat kunsmatige intelligensie (KI) en kameras gebruik om landbouplae en -siektes te identifiseer, het Afrika se topprys vir ingenieursinnovasie gewen.

Esther Kimani is die derde vrou en die tweede Keniaanse innoveerder wat dié prys wen en 50 000 Britse pond ontvang het.

Kimani is op 13 Junie in Nairobi, Kenia, aangewys as die wenner van die Royal Academy of Engineering se Afrika-prys vir Ingenieursinnovasie.

Haar vroeë oesplaag- en siekteopsporingstoestel is as die wenner aangewys omdat dit landbouplae en -siektes identifiseer, wat oesverliese vir kleinboere met tot 30% verminder terwyl opbrengste met soveel as 40% verhoog word.

“Vyf miljoen kleinboere in Kenia verloor gemiddeld 33% van hul oeste aan plae en siektes. Kimani se innovasie verskaf nie net intydse waarskuwings binne vyf sekondes van ’n besmetting en bied spesifieke ingrypingsvoorstelle nie, maar waarsku ook staatslandboubeamptes oor die teenwoordigheid van siektes of plae, wat bydra tot breër landboubestuurspogings,” lui ’n mediaverklaring van die Royal Academy of Engineering.

Die sonkrag-aangedrewe instrument gebruik glo rekenaaralgoritmes en gevorderde masjienleer om gewasplae, patogene of siektes te vind en te identifiseer, asook die aard van die infeksie of besmetting. Die toestel stel dan die boer per SMS in kennis.

“Hierdie bekostigbare alternatief vir tradisionele opsporingsmetodes kan slegs vir US$3 per maand gehuur word, wat aansienlik goedkoper is as om hommeltuie of landbou-inspekteurs te huur.”

Kimani vertel dat sy eerstehands ervaar het hoe plae en siektes boerdery negatief kan beïnvloed.

“My ouers het elke boerderyseisoen tot 40% van hul oeste verloor, wat ons lewenstandaard beïnvloed het. Ons bemagtig kleinboere, van wie baie vroue is, om hul inkomste te verhoog,” het sy gesê en bygevoeg dat hulle beoog om in die volgende vyf jaar, sowat een miljoen boere te bereik.

Kimani het sowat 8,3 miljoen Keniaanse sjieling ontvang om haar toestel verder te ontwikkel.

“Dit is die grootste bedrag wat aan ’n wenner toegeken is ter ere van die 10de herdenking van die prys,” lui die verklaring.

NAASWENNERS

Vir die prys, is vier projekte as finaliste geïdentifiseer.

Die vier finaliste het hul finale voorlegging aan die Royal Academy se beoordelaars en ’n gehoor van ongeveer 700 mense gelewer. Die drie naaswenners het elk 2,5 miljoen Keniaanse sjieling ontvang vir die verdere ontwikkeling van hul innovasies.

EKO-TEËLS

Een van die finaliste was die projek van nog ’n Keniaan, Kevin Maina, wat gefokus het op eko-teëls.

Dit is ’n omgewingsvriendelike dakmateriaal wat van herwonne plastiek gemaak word. Dit is sterker en ligter as klei- of betonteëls en dié innovasie is ’n dubbele oplossing vir beide plastiekbesoedeling en hoë boukoste.

Die teëls word vervaardig deur verskillende plastiek by verskillende temperature te meng, wat die behoefte aan energie-intensiewe prosesse soos oondverbranding uitskakel en koolstofvrystellings verminder.

Die teëls word dan verder versterk deur middel van UV-stabiliseringschemikalieë en konstruksiesand om duursaamheid en stewigheid te verseker.

GESONDHEIDSKLETSBOT

Rory Assandey van Ivoorkus se La Ruche Health-projek was ook een van die finaliste.

Dit verbind gemeenskappe met noodsaaklike gesondheidsinligting, -raad en -dienste deur middel van “Kiko”, ’n KI-kletsbot wat op WhatsApp en mobiele toepassings beskikbaar is. Dit bied ook ’n digitale oplossing om dokumentasie, fakturering en die deel van data tussen praktisyns te bewerkstellig.

“Teen Mei 2024 het hierdie KI-toestel meer as 150 000 gebruikersinteraksies en 189 konsultasies gefasiliteer, wat die doeltreffendheid van die projek illustreer,” lui die verklaring.

YO-WASTE

Martin Tumusiime van Uganda het met sy projek probeer om sy land se groeiende vulliskrisis te takel.

Yo-waste is ’n mobiele toepassing wat huise en besighede met onafhanklike agente verbind vir doeltreffende vullisverwydering op aanvraag.

“Yo-Waste bedien tans meer as 1 500 kliënte, insluitend huise, besighede en afvalverwyderingsagente, met die doel om 20 000 gebruikers teen 2026 te bereik.”

NOG ’N TOEKENNING

’n Afsonderlike One to watch-toekenning is ook aan die Ghanese omgewingstegnoloog, dr. Abubakari Zarouk Imoro, toegeken vir sy Myco-Substitutes-projek vir die impak wat dit op plaaslike gemeenskappe het.

Volgens Royal Academy se webtuiste fokus Imoro se projek daarop om die gesondheidsrisiko’s van informele toilette te takel.

“Die behandelingsproses gebruik virusse bekend as bakteriofage om bakterieë uit fekale slyk (slug) te verwyder.

“Gewone swamme (fungi) word dan ingebring wat as groeimedium funksioneer om miselium – die wortelagtige struktuur van die swamme – te kweek.

“Ná 72 tot 120 uur kan 10 liter slyk sowat 500 gram miselium vir oes produseer. Miseliumdrade word gebruik om ’n alternatief vir katoen of sintetiese draad vir die klerebedryf te skep.

“Die leeragtige swammiselium (’n alternatief vir dierevel) word in 500 mm x 500 mm-velle gekweek om sakke, belde en skoene te maak,” lui die verduideliking op die webtuiste.

Daar is aanlyn gestem vir Imoro om die toekenning te ontvang, ter ere van Martin Bruce, ’n ontslape Ghanese alumni van die Afrika-prys. Imoro het 5 000 Britse pond as deel van sy toekenning ontvang.

AFRIKA-PRYS

Die jaarlikse Afrika-prys is in 2014 deur die Royal Academy of Engineering gestig om innoveerders te ondersteun wat volhoubare ingenieursoplossings vir plaaslike uitdagings in Afrika ontwikkel.

“Die Afrika-prys bied ’n unieke geleentheid om die slimste innoveerders te ondersteun om die grootste globale uitdagings aan te pak, terwyl ekonomiese welvaart en volhoubare ontwikkeling vir Afrika deur ingenieurswese verbeter word.”

Om die 10de herdenking van die prys te vier, het die Royal Academy of Engineering gasheer gespeel vir die Africa Prize Alumni Reunion – wat 100 innoveerders van die afgelope dekade bymekaar gebring het – vir ’n driedagprogram voor die finale seremonie.

“Vanjaar het die alumni-gemeenskap van die Afrika-prys gegroei tot byna 150 entrepreneurs uit 23 lande wat altesaam meer as 28 000 werksgeleenthede gegenereer het en meer as 10 miljoen mense bevoordeel het deur hul innoverende produkte en dienste.

“Hierdie belangrike geleentheid het die krag van die gemeenskap wat deur die prys verenig is, ten toon gestel.”

Die 2025 Afrika-prys vir Ingenieursinnovasie is nou oop vir inskrywings. Die sperdatum vir inskrywings is 15 Oktober.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!