Namibië moet  sy tegnologiese vaardighede verbeter en sy nasionale vermoë vergroot om konteks-relevante tegnologieë te ontwerp en te skep vir gebruik op die gebiede van gesondheid, energie, onderwys, verdediging, landbou, finansies en handel, sê die staatshoof. FOTO 4IRNAMIBIA.COM
Namibië moet sy tegnologiese vaardighede verbeter en sy nasionale vermoë vergroot om konteks-relevante tegnologieë te ontwerp en te skep vir gebruik op die gebiede van gesondheid, energie, onderwys, verdediging, landbou, finansies en handel, sê die staatshoof. FOTO 4IRNAMIBIA.COM

Namibië moet tegnologiese vaardighede verbeter

Geingob by Namibië Vierde Nywerheidsrevolusie-konferensie
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer

As Namibië nie sy eie digitale tegnologieë skep en ontwerp nie, loop hy die gevaar om die kultuur aan te neem van die tegnologieë wat hy toepas en gebruik.

Daarom moet Namibië sy tegnologiese vaardighede verbeter en sy nasionale vermoë vergroot om konteks-relevante tegnologieë te ontwerp en te skep vir gebruik op die gebiede van onder meer gesondheid, energie, onderwys, verdediging, landbou, finansies en handel.

Só het pres. Hage Geingob gister gesê toe hy in Windhoek die sleutelrede by die Namibië Vierde Nywerheidsrevolusie-konferensie gelewer het.

Die term “vierde nywerheidsrevolusie” het in 2015 by die Wêreld- Ekonomiese Forum in Davos, Switserland, beslag gekry en verwys na ontwikkelende tegnologieë soos kunsmatige intelligensie (KI), Groot Data, blokkettings, die internet-van-dinge, nanotegnologie, robotika en virtuele realiteit.

Die aanwending hiervan lei tot die ontwikkeling van outonome voertuie, hommeltuie, humanoïede, geen-redigering en allerlei KI-toepassings op selfone.

Geingob het op 1 Julie 2021 die Vierde Nywerheidsrevolusie (4IR)-taakspan saamgestel en dié konferensie was ’n uitvloeisel van hierdie span se werksaamhede.

Geingob sê die land se onderwysstelsel en -bedryf se swak vermoë om op hierdie vinnige tegnologiese veranderinge en die impakte daarvan te reageer, is sigbaar in die lae oordrag daarvan na die arbeidsmark.

Hy sê multidissiplinêre opleiding vir studente by tersiêre instellings is ’n moet. Dít sodat ekonomiese groei deur middel van vaardigheidsregstellings en die toepassing van inligting deur middel van kommunikasietegnologieë kan geskied.

Die staatshoof sê om dít reg te kry, moet beleggings in navorsing en ontwikkeling geprioritiseer word.

“Waar 4IR hoofsaaklik op KI gegrond is - met KI as die tegniek wat masjiene intelligent maak - word dit al belangriker om die eienaars en ontwikkelaars van tegnologie te word.

“Dít omdat die norme, standaarde, waardes, stereotipes en kulturele innuendo’s en eienaardighede van die ontwikkelaars in die tegnologie neerslag vind,” sê Geingob.

As Namibiërs nie hul eie tegnologieë vir toepassing in verskeie velde ontwikkel nie, sal hulle dié van ander ontwikkelaars moet gebruik en gevolglik nie ’n eie identiteit daarin kan vaslê nie.

Hy sê hoewel Namibië tekort skiet as ontwikkelaars van nuwe tegnologieë, besit hulle wel ’n belangrike aspek daarvan, naamlik data.

“Die data is ons s’n en Oop Data het ’n belangrike kapitale hulpbron met sy eie waarde geword.

TOTALE WAARDEKETTING

Hy het in dié verband verwys na die ontsluiting van inligtingbestuurstelsels en intergebruiklikheid in die openbare en privaat sektors en gesê dit sal slim- en intelligensiegedrewe ontwikkeling en bestuur ontsluit.

Volgens Geingob is dit waarop Namibië hom rig.

Met verwysing na Namibië se plan om hom as ’n wêreldprodusent van grondwaterstof en -ammoniak te posisioneer, sê hy die plan is om Namibiërs by die totale waardeketting te betrek.

“Hierdie nuwe bedryf sal ’n katalisator wees vir Namibië se vinnige toepassing van 4IR-tegnologieë, terwyl hy positief bydra tot die wêreldwye stryd teen klimaatverandering,” sê Geingob.

Volgens hom verdien Namibië reeds koolstofkrediete deurdat hy blokketting-tegnologie gebruik om ’n verifieerbare rekord vir groenwaterstof-produksie te skep.

Projekte is geskep om die jeug op te lei om hommeltuie en veldvliegtuie te ontwikkel om byvoorbeeld medikasie na afgeleë landelike gebiede te neem. Een van dié projekte is dié van die Namibië Instituut vir Patologie in samewerking met Unicef, sê hy.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!