Namibiese toep vir sub-Sahara-Afrika

Henriette Lamprecht
Die idee is gebore uit sy persoonlike stryd om daagliks kwotasies en fakture te skep en al sy kliënte, pryslys en voorraad op een plek te hê.

“Ek het gedurig kwitansies verloor en wanneer dit tyd was om my boeke te doen, was alles ’n gemors en het dit my soveel geld gekos,” vertel Jessé Liula Schiceya, skepper van die toepassing Nikkle “om al my probleme op te los”.

Nikkle is ’n sagtewaremaatskappy wat kleinbesighede in sub-Sahara-Afrika help om hul finansies doeltreffend te bestuur. Dit is benoem as een van die finaliste vir die Suider-Afrika Globale Groentjieonderneming 2023.

“As jy ’n kleinsakeonderneming het, is dié ’n maklike hulpmiddel om jou boeke te doen. Dit kan onder meer help met die opstel van fakture, die bestuur van uitgawes en finansiële verslae. Dis spesifiek vir besighede in sub-Sahara-Afrika ontwerp,” vertel Jessé.

Hy het die toepassing eers met ’n paar besigheidseienaars gedeel en het feitlik onmiddellik ’n paar kliënte gehad.

Omdat dit so eenvoudig is om te gebruik, was kliënte dadelik oortuig van die waarde, vertel Jessé.

“Dit was betroubaar, het vinnig ’n faktuur geskep, hul uitgawes aangeteken en hul finansiële verslae is outomaties vir hulle geskep, wat hul lewens baie vergemaklik het.”

Dié positiewe terugvoer het aan hom genoeg rede verskaf om die toepassing in ’n finansieel inklusiewe maatskappy te omskep en te fokus om formele en informele sake-eienaars in Namibië en ook ander dele van suidelike Afrika te help.

Volgens Jessé fokus dit op twee doelwitte; eerstens om vroue en die jeug te bemagtig met hulpmiddels om hul eie geld te maak en hul gemeenskappe te ondersteun.

Hierbenewens bevorder dit ook finansiële geletterdheid en die opleiding van eienaars van ondernemings oor onder meer die belangrikheid om belasting te betaal, te spaar, sake-etiek en toegang tot krediet.

BEKROONDE ENTREPRENEUR

Hy is reeds die afgelope 11 jaar ’n entrepreneur en werk as ’n konsultant vir klein- en entrepreneursondernemings en het deur die jare baie geleer oor sagteware-ingenieurswese, besigheidsbestuur en kubersekuriteit.

Tussendeur het Jessé ook ’n paar waardevolle vaardighede in onderhandeling en spanbestuur aangeleer.

Hy was reeds die ontvanger van ’n lang lys gesogte toekennings, insluitend mees innoverende idee in Namibië 2020 (UNDP & MTC), mees kreatiewe besigheid in Namibië (Gen Namibia), mees belowende entrepreneur vir suidelike Afrika 2022 (AfricArena), stigter van die jaar 2022 (Namibië), beste diensverskaffer 2022 (Namibië), groentjiebesigheid wat die vinnigste groei 2022, sowel as Forbes 30u30-finalis 2022.

Op die koop toe is Jessé ook Amazon Web Services se ambassadeur vir groentjiebesighede in Afrika.

Wanneer hy nie werk nie, lees hy graag literatuur oor persoonlike groei, speel aanlyn skaak met sy vriende, gaan stap saam met sy huskies of soos dit ’n goeie sakeman en entrepreneur betaam, sluit hy ook gereeld by netwerksessies aan.

VOLGENDE

Sy toekomsdroom is om krediet aan sy topkliënte te verskaf, sê Jessé.

“Om vir krediet te kwalifiseer, moet ’n kliënt vir minstens 12 maande ’n opbetaalde Premium-gebruiker wees, deel van die Nikkle-gemeenskap, in die goeie boekies van die belastingowerheid en moet deursigtigheid in sy besigheid toon.

“As ons dié doelwit bereik het, wag daar groter doelwitte!”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!