Nandi-Ndaitwah was eers skepties oor HyIron

’n ‘Vergesogte droom’ word ’n werklikheid
Die president het tydens die amptelike inwyding van die eerste groen ysteraanleg naby Arandis dit as beide "geskiedkundig" en "visioenêr" beskryf.
Adam Hartman
Toe president Netumbo Nandi-Ndaitwah die eerste keer gehoor het van ’n voorstel om ’n ysteraanleg met geen koolstofvrystelling in Namibië te bou, het sy erken sy het gedink dit is onwaarskynlik dat dit sal slaag.

Twee jaar later, nou as president, het sy die amptelike opening van die HyIron Oshivela-aanleg van N$600 miljoen – die eerste van sy soort in die wêreld – waargeneem.

“Destyds het die konsep van ’n aanleg wat groen yster met geen gasvrystellings in Namibië sou vervaardig, na nog ’n vergesogte droom geklink,” het sy gesê, terwyl sy haar eerste ontmoeting met die HyIron-span in 2023 onthou.

Die president het Vrydag tydens die amptelike inwyding van die aanleg naby Arandis die projek as beide “geskiedkundig” en “visioenêr” beskryf.

Sy het gesê sy het tydens haar ampstermyn as die minister van internasionale betrekkinge en samewerking talle potensiële beleggers ontmoet, “maar het steeds gewag om die werklike volwaardigheid van sommige van daardie beleggings te sien”.

“Vandag staan ek met opgewondenheid voor u om hierdie grondverskuiwende aanleg in te wy, wat die onwrikbare toewyding en gedeelde visie van die HyIron-projek versterk,” het sy gesê.

“Baie geluk, HyIron Oshivela-span!”

Die Oshivela-aanleg wat met internasionale steun van die Duitse regering en private aandeelhouding gebou is, sal jaarliks 15 000 ton yster vervaardig met behulp van groen waterstof afkomstig van sonkrag – heeltemal sonder koolstofvrystellings.

“Namibië is gereed om sake te doen,” het sy aan beleggers gesê.

“Maar ons visie is waardetoevoeging, nie net onttrekking nie.”



SKEPTISISME

HyIron se besturende direkteur, Johannes Michels, het ook met skeptisisme te kampe gehad – nie net oor die projek se tegniese ingewikkeldheid nie, maar oor of dit kan slaag in ’n land met geen swaar nywerheidsgrondslag nie.

“Ongeveer ’n jaar gelede het ons ’n droom begin bou en verwesenlik wat baie vir ons gesê het nie moontlik is nie,” het hy gesê.

“Dit was nie moontlik om dit te doen in ’n land wat nog nie geïndustrialiseer is nie en dit was nie moontlik nie, want dit was so nuut, so innoverend, en nog nooit tevore gedoen nie.

“Een jaar later en met behulp van sowat 400 mense, het ons hierdie droom bewaarheid en ons het selfs ons eie verwagtinge oortref.”

Die projek het reeds meer as 100 direkte werksgeleenthede geskep, met 400 meer tydens die konstruksiefase. In die tweede fase van die ontwikkeling kan die aantal werksgeleenthede tot meer as 1 000 toeneem.

Duitsland se spesiale gesant na Namibië, Rainer Baake, het dit beaam en gesê toe Michels hom die eerste keer genader het met die konsep om yster in die Namibwoestyn te vervaardig, “was dit moeilik om te glo”.

“Ek het gesê so ’n projek sal baie water verg – ’n hulpbron wat nie in daardie deel van die wêreld beskikbaar is nie. Waar sou hulle dit vandaan kry?” het Baake onthou.

“Toe sê Michels hulle het ’n tegnologie wat water herwin en dat die projek nie ’n voortdurende bron sal vereis nie. Dit was interessant.”

Hy het verduidelik dat belanghebbendes ná behoorlike konsultasies en tegniese inligtingsessies die vertroue gekry het om in die projek te belê.

Nandi-Ndaitwah het gesê die aanleg is nou ’n model vir wat vasberade openbare-private samewerking kan bereik.

“Laat dit ’n les vir ander beleggers wees,” het sy gesê.

“Namibië is nie die plek vir leë beloftes nie, dit is die plek vir uitvoering. Die toekoms behoort aan diegene wat hard werk aan ’n gemeenskaplike visie.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer