Die Namibiese nasionale uitsaaikorporasie (NBC) sal hierdie boekjaar meer vanaf die regering se jaarbegroting ontvang.
Foto argief
Die Namibiese nasionale uitsaaikorporasie (NBC) sal hierdie boekjaar meer vanaf die regering se jaarbegroting ontvang. Foto argief

NBC kry grootste deel van ICT-begroting

N$20 miljoen vir vestiging van Inligtingskommissie
Die nasionale uitsaaier het glo die ontwikkelingsbegroting nodig om sy uitsaainetwerk in landelike gebiede op te gradeer, vervalle ateljees op te knap en toerusting aan te koop.
Augetto Graig
Vir die 2023-’24-boekjaar beplan die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie (ICT) om N$310,1 miljoen van sy totale begroting van N$651,4 miljoen aan die nasionale uitsaaier (NBC) se operasies te bestee, met nog N$82 miljoen wat vir die NBC se ontwikkelingsbegroting bewillig is.

Teen altesaam N$392 miljoen is dit meer as die N$353 miljoen wat die NBC verlede jaar ontvang het, en aansienlik meer as die N$140 miljoen wat in 2020 toegeken is en ’n rol in ‘n mislukte staking gespeel het. Volgens minister Peya Mushelenga het die NBC die ontwikkelingsbegroting nodig om sy uitsaainetwerk in landelike gebiede op te gradeer, vervalle ateljees op te knap en toerusting aan te koop.

’n Mylpaal-belegging waarvoor daar vanjaar begroot word, is die vestiging van die Inligtingskommissie – soos uiteengesit in die wet op toegang tot inligting nommer 8 van 2022 wat president Hage Geingob laas jaar onderteken het. Volgens Mushelenga het die regering ook reeds begin om kommunikasiebeamptes op te lei om die nuwe wet te kan toepas. “Die wetgewing op toegang tot inligting sal ongehinderde toegang tot inligting vir ons burgers verseker en hulle in staat stel om ingeligte besluite oor hul lewens en lewensbestaan te maak,” sê hy.

Die kabinet het verlede jaar die ministerie se inisiatief goedgekeur wat kommunikasiebeamptes by ministeriële kantore en regeringsagentskappe, streekrade en by plaaslike owerhede toerus om betyds en akkuraat inligting te kan versprei. “Die ministerie sal soortgelyk onder hierdie program burgerlike deelname en betrokkenheid onder die program vir nasiebou en -trots uitbrei,” sê hy.

ANDER MEDIA

Wat ander media in staatsbesit betref, sal die Namibiese Persagentskap (Nampa) met N$27,5 miljoen moet klaarkom, terwyl New Era Publication Corporation (NEPC) effens minder teen N$27 miljoen ontvang. Die Namibiese Filmkommissie (NFC) ontvang finansiering van N$6 miljoen van die film-ontwikkelingsfonds om die land as filmbestemming te bemark en die plaaslike bedryf te bevorder.

Mushelenga het die beplande besteding van N$19,8 miljoen op die ontwikkeling van inligting en kommunikasietegnologie gemotiveer en gesê ’n digitale strategie vorder om Namibië in ’n ingeligte samelewing met ’n kennisgebaseerde ekonomie te omskep.

Die hersiening van verskeie ICT-beleide het ten doel om ’n eenvorminge nasionale beleid te vestig, sê hy. Die ministerie samel tans insette in en is besig met die optrek van die konsepwet op kubermisdaad, die konepwet op databeskerming en die nasionale kuberveiligheidstrategie, volgens die minister. Die ontwikkeling van infrastruktuur geniet ook aandag - met vennootskappe met die privaat sektor wat voortduur terwyl die nasionale breëbandbeleid hersien sal word.

Verder beplan die ministerie om nagenoeg N$60 miljoen aan sy verskeie operasies te bestee, en N$18 miljoen om die streekhoofkantore in Hardap te laat bou.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer