Registrasie van SIM-kaarte onder die vergrootglas
700 000 kaarte reeds geregistreer
Terwyl goeie vordering met die registrasie van SIM-kaarte gemaak word, het verskeie individue en instansies hul mening daaroor gelug.
“Daar is nie toesigregulasies wat die misbruik vir die onderskepping van inligting sal verminder nie.”
So sê mnr. Frederico Links, ’n navorser verbonde aan die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR).
Links meen die huidige kommunikasiewet wat die registrasie van SIM-kaarte in Namibië sal verplig, het verskeie gapings wat onder meer die anonimiteit van bronne in die media, asook die vertroulike inligting wat tussen medici en hul pasiënte gedeel word of tussen prokureurs en hul kliënte, in gedrang sal bring.
“Hierdie lyk baie soos toesigregulasies in totalitêre regerings en hulle regverdig dit onder die dekmantel van nasionale sekuriteit, wat gewoonlik in totalitêre regerings gebeur,” het Links gesê.
Hy sê ook dan het kommunikasiediensverskaffers die mag om spesifieke groepe se kommunikasie te blokkeer.
“As ’n groep mense protes aanteken – wat hul demokratiese reg is – dan kan hul kommunikasie geblokkeer word. Ons het dit al in verskeie Afrikalande gesien.”
Die Regshulpsentrum van Namibië (LAC) het in ’n onlangse verslag gesê die wet sal onder meer individue se privaatheid skend.
Hulle het beklemtoon dat in verskeie gevalle privaatheid een van die Namibiese regstelsel se hoogste prioriteite was.
Die LAC lig ook die kommunikasiediensverskaffer se rol in die monitering van ’n individu se digitale identiteit en die vermeende kwytskelding van verantwoordelikheid, as ’n moontlike oorsprong van toesigmisbruik uit.
“Die diensverskaffer sal personeellede as ‘gemagtigde personeellede’ aanwys, en hoewel hul name aan die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) oorhandig word, is daar geen vereistes vir hul opleiding, ervaring of regskennis nie. Daar is nie eens ’n oriënteringsvereiste nie,” volgens LAC se verslag.
“Hoewel Cran en die telekommunikasiemaatskappy, MTC, tot dusver volgehou het dat ’n hofbevel vir die onderskepping van inligting nodig is, maak hierdie wet voorsiening vir die diensverskaffer se gemagtigde personeel om onderskepping sonder ’n hofbevel toe te laat.”
’n Lid van die Namibiese polisie kan hul saak direk aan die diensverskaffer stel en die diensverskaffer het dan die reg om die onderskepping van inligting toe te laat.
Die LAC meen die verantwoordelikheid in sulke gevalle behoort nie by onopgeleide personeel van die diensverskaffer nie, maar eerder by die polisiebeampte wat onder statutêre wette en regulasies verantwoordelik gehou kan word.
Die polisie mag ook ’n dringende aansoek vir die onderskepping van inligting voor die hof bring in die vorm van ’n ex parte-bevel. Ex parte-aansoeke word sonder die ander party se medewete gemaak en geen voorsiening sal vir die verdediging van ’n onderskeppingsteiken se belange gemaak word nie.
“Met ’n ex parte-aansoek kan ’n individu se telekommunikasie onderskep word en kan hy/sy binne 30 dae in kennis gestel word om voor die hof te verskyn, voor verdere besluite oor die bevel geneem sal word, byvoorbeeld om dit langer in te stel,” verduidelik mnr. Milton Engelbrecht, ’n Windhoekse prokureur.
Hy sê ex parte-aansoeke speel ’n belangrike rol in misdaadvoorkoming.
“As jy in kennis gestel word van planne om jou dop te hou, dan kan jy van bewyse ontslae raak.”
Links meen egter dat ex parte-hofaansoeke gapings vir die misbruik van onderskepping skep.
DIT KAN WERK
Hy glo met die regte komitees en stelsels dat die kommunikasiereguleringswette sy doelwit om misdaad te bekamp, kan bereik.
“In Suid-Afrika het Rica (die Wet op die Regulering van Onderskepping van Kommunikasie) voorsiening vir joernaliste en prokureurs gemaak en in Botswana is ’n komitee wat verantwoordelik is vir die regulering van soortgelyke wette op die been gebring. Ons wet maak geen voorsiening vir publieke belang nie, maar as ons sulke regulasies in plek sit, is die kanse op die misbruik van hierdie wet minimaal,” sê hy.
Cran het tot op hede nie op Republikein se navrae gereageer nie.
VORDERING MET REGISTRASIE
MTC het bevestig sy veldtog om SIM-kaarte te registreer, het al vrugte afgewerp met meer as 700 000 kaarte wat reeds geregistreer is. Dit verteenwoordig ongeveer 26,5% van sy 2,64 miljoen aktiewe intekenare.
“Registrasie is steeds vrywillig en is ’n pro-aktiewe inisiatief om genoeg tyd en gerief vir ons intekenare te bied om hulle aan te moedig om vroeg te registreer voor die verpligte registrasie van SIM-kaarte in Januarie 2023 afskop,” het MTC se woordvoerder, mnr. Erasmus Nekundi, aan Republikein gesê.
Om ’n SIM-kaart te registreer, moet ’n bewys van identiteit asook ’n polisieverklaring waarin die individu verklaar dat hy/sy wel die wettige eienaar van die selfoonnommer is, getoon word.
’n Bewys van adres word ook vereis. ’n Munisipale rekening of ’n verklaring of ’n brief van ’n individu se naaste skool, kerk of kiesafdelingsraadslid of ’n polisieverklaring wat die individue se woonadres aandui, dien as bewys.
Diegene wat hul SIM-kaarte wil laat registreer, word ook vereis om hul toestelle saam te neem.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie