Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie

Regulering van registrasie van SIM-kaarte onvoldoende

Meer deursigtigheid bepleit
Daar is onder verskeie kenners uiteenlopende menings oor registrasie van SIM-kaarte.
Iréne-Mari van der Walt
“Ons bespreek gereeld die registrasie van SIM-kaarte, maar niemand praat oor hoe onderskepping van data gedoen gaan word of die nagevolge van die misbruik van onderskepping nie,” het ’n prokureur, mnr. Appolos Shimakeleni, gesê tydens ’n paneelbespreking aangebied deur die Grotius-regsfirma van die Universiteit van Namibië (Unam).

Volgens Shimakeleni kan mense wat skuldig bevind word aan die misbruik van die onderskepping van data ’n vonnis van 10 jaar tronkstraf of ’n boete van N$100 000 opgelê word.

Hy glo ’n teerpunt rakende SIM-kaart-registrasie is dat die “bewakers” van die Wet op Kommunikasie nog nie bepaal is nie.

“Dit kan dus baie moeilik wees om te bepaal of iemand hierdie stelsel misbruik het of nie,” het hy gesê.

Mnr. Frederico Links, ’n navorser verbonde aan die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), glo daar is verskeie kwessies wat steeds dreig om die publiek teen die registrasie van SIM-kaarte te laat draai.

“Baie mense se klagtes handel oor die hoeveelheid inligting wat hulle moet meedeel wanneer hulle SIM-kaarte geregistreer word. Dis duidelik dat mense ongemaklik is en besef iets is besig om te gebeur in terme van hul privaatheid,” het hy tydens die gesprek gesê.

Links steun sy argument met studies deur Afrobarometer wat aangedui het dat 60% van respondente in Namibië nie gevoel het die regering is geregtig op die opname en retensie van gebruikers se telekommunikasiedata nie.

“Ek dink nie die publiek word genoegsaam verseker dat hul privaatheid beskerm sal word nie,” sê hy.

Links stem saam met Shimakeleni se mening dat die regulering van moontlike misbruik van die onderskepping van data onvoldoende is.

“Ons het nie ’n wet ter beskerming van data- en aanlyn privaatheid nie. Die probleem is voldoende oorsig, voldoende aanspreeklikheid en deursigtigheid.

“Ek dink ons sal almal meer gerus voel indien ons vertroue het dat daar genoeg oorsig en aanspreeklikheid asook ’n gepaste mate van deursigtigheid in plek sou wees, maar daar is nie,” het hy gesê.

VIR JOU VEILIGHEID

Me. Patience Kanalelo, die hoof van korporatiewe regsdienste vir MTC, hou vol dat die registrasie van SIM-kaarte in openbare belang is.

“Vir ons as ’n maatskappy maak dit sin. Dis ’n manier om misdaad hok te slaan. Deesdae word baie bedrog gepleeg vanweë die feit dat selfone nou vir finansiële doeleindes gebruik word met banktoepassings, maar daar is niks wat ons kan doen as die SIM-kaarte nie geregistreer is nie,” sê sy.

Inspekteur Joseph Abed, namens die Namibiese polisie, het verwys na die berigte oor ’n bedrogsaak waarin ’n vermeende swendelaar die verdedigingsminister Frans Kapofi uit N$200 000 geswendel het, as ’n voorbeeld van die nut van die registrasie van SIM-kaarte.

“Mnr. Kapofi sê hy is ’n slagoffer en die vermeende bedrieër sê hy is ook ’n slagoffer. Dis om hierdie rede dat ons hierdie inisiatief ondersteun. Dit sal ons help om ons ondersoeke vinniger af te handel,” sê hy.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!