Só lyk Namibië se ideale vrou - volgens KI

Nie heeltemal realisties, maar verteenwoordigend
Die opdrag was om 'n realistiese foto te skep van wat die Namibiese publiek beskou as die ideale vroueliggaam vir 'n Mej. Namibië-wenner.
Henriette Lamprecht
Skraal gebou, maar steeds met kurwes. ’n Diep velkleur, swart hare van verskillende lengtes wat in ’n verskeidenheid natuurlike style gedra word. ’n Slanke middel, goeie spierdefinisie, sterk gelaatstrekke met ’n klein, ronde gesig, gedefinieerde wangbene, ’n hoë voorkop en ’n klein neusie. Dit is in ’n neutedop kunsmatige intelligensie (KI) se antwoord op wat hy (of is dit ’n sy?) as Namibië se ideale skoonheidstandaarde beskou.

Skoonheidstandaarde bestaan al vir so lank as wat mense in gemeenskappe saamwoon. Dié maatstawwe vir skoonheid wat ook immer aan die verander is, het aanleiding gegee tot sommige van die mees invloedryke en herkenbare vrouefigure in die geskiedenis. Dink maar aan die Egiptiese koningin Cleopatra en Lisa del Giocondo, ook bekend as die onderwerp en muse vir Leonardo da Vinci se tydlose en mooie Mona Lisa.

Soos met die meeste dinge in die lewe is daar egter ook ’n skadukant en kan dieselfde skoonheidstandaarde ook ’n negatiewe impak hê op die manier hoe mense na hulself kyk. Dit is veral so vir vroue, wat meer as dikwels aan meer rigiede en dikwels onrealistiese standaarde moet probeer voldoen.

Elke land regoor die wêreld en natuurlik ook Namibië het sy eie definisie van skoonheid. Hoewel daar wel ’n paar ooreenkomste tussen buurlande kan wees, is die algemene verskille tussen veral vastelande wesenlik.

As mense is ons in die algemeen bewus van hierdie skoonheidstandaarde en voel ons dikwels die druk daarvan as ons nie aan die verwagtinge voldoen wat ons voorkoms aanbetref nie, verduidelik Sam Phoenix, die stigter en inhoudskepper van Great Green Wall wat hy beskryf as “een van die mees inspirerende en belangrikste bewegings van ons tyd”.

Dié gesondheidsgerigte inisiatief het ten doel om ’n ondersteunende gemeenskap oraloor die wêreld te skep om miljoene lewens te verander. Maar hoe beland Sam en sy gesondheidsbeweging by KI en skoonheidstandaarde?

Met die konstante evolusie van KI en die wydverspreide gebruik daarvan in die ontleding van data, wou Great Green Wall ondersoek hoe akkuraat KI-hulpbronne aspekte van die samelewing – in dié geval skoonheidstandaarde – verteenwoordig, verduidelik Sam per e-pos.

“Met skoonheidstandaarde wat dikwels as ongesond of onrealisties beskou word, wou Great Green Wall ondersoek instel na hoe KI hierdie standaarde in alle uithoeke van die wêreld waarneem,” sê Sam. Midjourney, ’n AI-toepassing wat beelde genereer, is gebruik om te bepaal of KI ook in staat is om reaksies te genereer wat gebaseer is op meer “emosiegedrewe, subjektiewe onderwerpe”.

Volgens Sam beklemtoon die studie se bevindinge dat skoonheidstandaarde beduidend tussen lande en vastelande verskil.

“Hoewel KI nie heeltemal akkuraat in sy bevindinge was nie – ons het ook nie verwag dit sou wees nie – het dit die verskille in kulturele en maatskaplike aspekte oraloor die wêreld beklemtoon.”

Hy verduidelik KI het ook grootliks voorstellings van vroue gegenereer wat nie heeltemal realisties is nie en ook nie verteenwoordigend was van hoe die gemiddelde vrou in elke land lyk nie.

“Op hierdie manier het gevaarlike skoonheidstandaarde oorgespoel na KI-tegnologie. Laasgenoemde lei tot ietwat kommer oor of hierdie tegnologie sal voortgaan om in die toekoms onrealistiese verwagtings van vroue te skep.”

Wanneer ’n mens deur al die KI-skoonhede gaan, kry mens tog ’n Kardashian/Barbie-gevoel en dat baie van die lande se fisieke vorm van skoonheidstandaarde baie ooreenstem.

Dit is ’n regverdige aanname, erken Sam, met sommige lande se KI-modelle wat baie spesifieke ooreenkomste met ander getoon het.

“Die KI-sagteware het gewerk van spesifieke verwysings na sekere lande. Brittanje se model is byvoorbeeld gegenereer met ooreenkomste met wyle prinses Diana, terwyl die Amerikaanse model ooreenkomste met die ikoniese aktrise Marilyn Monroe deel. In die algemeen het die studie gepoog om die evolusie van kunsmatige intelligensie uit te lig en ondersoek in te stel na hoe goed dit aspekte van die samelewing deur middel van beelde kan illustreer,” sê Sam.

Volgens hom is die KI-toepassing Midjourney gebruik om ’n verteenwoordiger vir ’n skoonheidswedstryd vir elke land in die styl van die Mej. Wêreld-kompetisie te skep.

“Ons het gebruik wat die KI glo die skoonheidstandaard is, gebaseer op wat dit dink die algemene publiek as ‘ideaal’ vir die betrokke land beskou.”

Midjourney genereer beelde uit natuurlike taalbeskrywings (“prompts”) en kan verstommende digitale en realistiese kunswerke uit ’n enkele teks skep. Vir elke land is dieselfde teks gegee, met net die naam van die land wat elke keer verander het. Die opdrag was: “Skep ’n realistiese foto van wat die Namibiese publiek beskou as die ideale vroueliggaam vir ’n Mej. Namibië-wenner. Wys asseblief ’n vollengte foto van die vrou in ’n rok. Geen teks in die foto nie.”

Sam sê skoonheidstandaarde is geensins ’n nuutjie nie, maar kan ongelukkig daartoe lei dat vroue uit plek of onaantreklik in hul eie land voel.

“Dit kan kwessies met betrekking tot selfbewustheid veroorsaak en kan ook toegeskryf word aan die toename in prosedures soos plastiese chirurgie in sekere lande soos Suid-Korea, Turkye en Amerika. In die algemeen het die navorsing beklemtoon dat hierdie standaarde wêreldwyd ingebed is. Soveel so dat selfs KI-tegnologie wat relatief nuut is hierdie verwagtinge kan optel en dit in die foto’s weerspieël.”

Intussen maan prof. Basie von Solms - ’n navorsingsprofessor aan die Universiteit van Johannesburg se sentrum vir kuberveiligheid - in ’n rubriek op Netwerk24 dat hoewel rekenaars wat self leer groot voordele vir die mens inhou, daar ál meer stemme gehoor word oor die risiko’s hieraan verbonde.

In Mei het ’n groep van 350 kundiges op die gebied van KI gewaarsku die risiko dat dit die mensdom kan uitwis, behoort net soos pandemies en kernoorloë ’n wêreldprioriteit te wees. Dié waarskuwing is ook al deur onder meer Elon Musk en Stephen Hawking geopper.

Von Solms verwys na ’n publikasie van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD) wat daarna as “eksistensiële risiko’s” verwys. Dit stel duidelik die vraag oor hoe die “eksistensiële bedreiging van KI-superstelsels” voorkom kan word.

Dié soort stelsels is KI wat hulself kan verbeter sonder enige menslike invloed of -insette deur self nuwe rekenaarkode te skep. Die moontlikheid bestaan dat dié stelsels só vinnig kan leer en groei dat die mens eenvoudig beheer daaroor kan verloor. In die proses kan die stelsel seker maak dat dit nie afgeskakel kan word nie en dus nie deur die mens gestop kan word nie.

“’n Eenvoudige (en naïewe) voorbeeld van so ’n verlies van beheer is iets wat baie mense al beleef het. Jy plaas ’n foto of opmerking op sosiale media en dit versprei dan om een of ander rede soos ’n veldbrand waaroor jy geen beheer het nie. Dis nie iets wat jy beplan het nie en daar is geen manier hoe jy die verspreiding kan stopsit nie. Boonop kan jy die inhoud wat reeds versprei het, nie vind of heeltemal vernietig nie – dis tegnies onmoontlik,” verduidelik Von Solms.

Die risiko bestaan volgens hom dat ’n KI-superstelsel kan realiseer – selfs per ongeluk – en as dit nie hokgeslaan word nie, kan die resultate katastrofies wees.

Hierdie siening word gesteun deur dr. Geoffrey Hinton, een van die wêreld se voorste KI-argitekte en ’n ondertekenaar van die sogenaamde 350-verklaring. Hy meen die onverwagte, vinnige vordering van super-KI, insluitend die vermoë om eenvoudige redenasies te kan voer, hou die moontlikheid in dat tegnologie eendag die wêreld kan oorneem en die mens tot uitwissing kan dwing.

Hinton word allerweë beskou as die “vader van KI” en het in Mei by Google bedank sodat hy meer vrylik kan praat oor die risiko’s wat kan voortspruit uit die tegnologie wat hy self help ontwikkel het.

“Volgens die OECD word daar tans wêreldwyd aan 72 projekte gewerk met die doel om super-KI-stelsels te ontwikkel. Google se Deepmind-projek is een, met meer as 1 300 kundiges wat betrokke is. Algemene- of super-KI-stelsels poog om die menslike denkproses na te boots en – soos mense – logies te begin dink.”

Indien KI-superstelsels egter só ontwikkel kan word dat die mens dit behoorlik kan verstaan en beheer, kan dit ongelooflike voordele vir die mensdom inhou, veral wat probleemoplossing betref. – Bykomende bron: Netwerk24

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 34° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 18° | 31° Oshakati: 20° | 31° Ruacana: 21° | 30° Tsumeb: 20° | 30° Otjiwarongo: 17° | 26° Omaruru: 19° | 29° Windhoek: 18° | 29° Gobabis: 21° | 31° Henties Bay: 15° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 19° | 32° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 24° | 35° Lüderitz: 14° | 28° Ariamsvlei: 21° | 36° Oranjemund: 15° | 24° Luanda: 25° | 28° Gaborone: 20° | 31° Lubumbashi: 17° | 30° Mbabane: 18° | 26° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 25° Lilongwe: 20° | 33° Maputo: 22° | 32° Windhoek: 18° | 29° Cape Town: 19° | 25° Durban: 22° | 28° Johannesburg: 19° | 27° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 18° | 31° Harare: 19° | 25° #REF! #REF!