HyIron beoog om die wêreld se eerste ‘skoon’ industriële ystervervaardigingsaanleg buite Swakopmund bou. Foto hyiron.com
HyIron beoog om die wêreld se eerste ‘skoon’ industriële ystervervaardigingsaanleg buite Swakopmund bou. Foto hyiron.com

‘Skoon’ yster trek aandag

Belanghebbers kan tans insette lewer
'n Toetsaanleg om yster sonder enige vrystelling van koolstofdioksied te vervaardig, word buite Swakopmund beplan.
Augetto Graig
HyIron, die vennootskap tussen Namibiese en Duitse maatskappye, gaan tans nie voort met planne om Reptile Uranium Namibia se Shiyela-ysterprojek te koop nie.

Dit nadat hulle belangstelling van verskeie verskaffers van ystererts ontvang het, insluitend van Brasilië, Uruguay, Kanada, Australië en Suid-Afrika.

Inligting wat in die omgewingsimpakstudie vervat word wat Namisun saamgestel het, dui daarop dat genoeg erts vir HyIron se Oshivela-toetsprojek vanaf die buiteland en ander plaaslike bronne verkry kan word.

Die verslag is vandeesweek vrygestel en belanghebbers kan insette vanaf 8 Januarie tot 2 Februarie 2024 lewer per e-pos by [email protected] of om Werner Petrick op 081 739 4591 te kontak.

HyIron beplan om sy toetsaanleg op deel vier van die plaas Bloemhof nommer 109 – sowat 75 km noordoos van Swakopmund – te bou en om sy eie tegnologie toe te pas om yster sonder enige vrystelling van koolstofdioksied, wat gepaard gaan met ystervervaardiging, te maak.

HyIron beplan om groen waterstof te gebruik om die yster uit die erts te onttrek. Deur sonkrag in te span, wil die vennote ook self die waterstof uit die boorgatwater onttrek en dit dan in ’n lugdigte draai-oond gebruik om suurstof van die ystererts te skei, om tussen

90% en 99% suiwer yster te vervaardig.

Volgens die inligting sal die toetsaanleg vyf ton yster per uur kan vervaardig en jaarliks oor 3 000 ure sowat 15 000 ton yster per jaar kan voorsien. Die sonkrag sal opgewek word by ’n 25 MWp-aanleg op 30 hektaar, insluitend 44 000 sonpanele van een meter breed, en sal 2,4 meter hoog geïnstalleer word. Fasiliteite om elektrisiteitsbatterye te stoor sal ook opgerig word.

Die toetsaanleg sal ’n staalstruktuur van 10 000 m² behels, met skadunet wat die 15 m hoë draai-oond sal huisves, saam met ’n 1 000 m²-waterelektrolise-gebou en ’n pakhuis van 500 m² met ablusiegeriewe, kantore, ’n kombuis en vergaderingkamer. Verder sal daar ’n klein omgekeerde osmose-waterontsoutingsaanleg wees, ’n 10 000 l-brandstoftenk en woonstelle vir werknemers wat nie op Arandis of in Swakopmund bly nie.

Gedurende die konstruksiefase van die projek sal tot 80 werksgeleenthede geskep word, en ná dit sal bedrywighede 20 werknemers op ’n slag benodig wat in skofte uit ’n arbeidsmag van 50 verdeel sal word.

In terme van water sal 15 kubieke meter (m³) per week vir die aanleg se bedrywighede benodig word met bykomende water om stof in toom te hou en vir ander menslike gebruike. Die projek sal altesaam 40 m³ water per week benodig, of 2 000 m³ per jaar, wat vanaf die bestaande boorgat (nommer 61617) op die plaas voorsien sal word.

Ystererts van tot 3 000 m³ sal langs die aanleg opgegaar word en dit sal verfyn word tot korrels kleiner as 2 mm as dit nodig is, voor dit deur swaartekrag en magnetiese skeiding gesit word.

Daarna sal dit na die oond geneem word waar die waterstof ingespan sal word om sonder ander chemikalieë die yster te verwerk. Die water – as neweproduk van die proses – word herwin en weer in die aanleg gebruik. Die ander afvalproduk is sowat 2 000 ton sand.

Volgens HyIron sal die projek die eerste industriële ystervervaardigingsaanleg sonder vrystellings ter wêreld wees, en het hulle reeds internasionale aandag ontvang van lande wat belangstelling getoon het om hul ystererts by die Oshivela-aanleg te toets.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!