Foto Reuters/Nacho Doce
Foto Reuters/Nacho Doce

Son se ‘piektyd’ kan Starlink-dienste ontwrig

Iréne-Mari van der Walt
Terwyl Namibiërs Starlink se internetdienste as die volgende tegnologiese grens kan beskou, kan Moeder Natuur hierdie diens se betroubaarheid tot volgende jaar ondermyn.

Starlink is ’n internetdiens wat beskryf word as “internet vanuit die buitenste ruimte vir die mense op aarde”.

Dié diens is grootliks afhanklik van ’n satellietnetwerk wat teen September verlede jaar 7 000 satelliete bereik het, maar het reeds twee grootskaalse ontwrigtings as gevolg van sonstorms ervaar.

In Mei verlede jaar het Starlink sy gebruikers gewaarsku van “verminderde diens” tydens ’n geomagnetiese storm wat deur sonaktiwiteit veroorsaak word.

In 2022 het Starlink ’n terugslag gely toe hy 40 uit ’n groep van 49 satelliete verloor het net ’n dag ná hul lansering.

Volgens die Amerikaanse weerdiens sal die son na verwagting piektoestande teen Maart volgende jaar bereik, wat verwagte sonstorms meebring.

Dié weerdiens het reeds in 2020 voorspel dat die uiterste piek in Julie vanjaar sou plaasvind. Alhoewel sonstorms geen bedreiging vir menslike gesondheid inhou nie, kan dit infrastruktuur soos krag- en satellietnetwerke beïnvloed.

Die sonfisikus dr. Doug Biesecker van die Amerikaanse weerdiens het verduidelik: “Hoe vinnig die son se aktiwiteit toeneem, is ’n aanduiding van hoe sterk die sonsiklus sal wees.”

“Hoewel ons vanjaar ’n bestendige toename in sonkolle gesien het, was dit geleidelik.”



CRAN

Tans word Starlink se dienste nie in Namibië toegelaat nie.

Die Regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) het na bewering in Oktober verlede jaar op verskeie onwettige Starlink-toestelle beslag gelê.

Cran het egter nog nie dié bewerings amptelik bevestig nie, maar die owerheid het wel gesê hy het ’n bevel aan Starlink uitgereik om sy dienste in Namibië te staak.

Cran sê Starlink het wel aansoek gedoen vir ’n lisensie om sy dienste aan Namibiërs te bied, en die aansoek word nog hersien.

Daarom waarsku Cran Namibiërs dat die gebruik van Starlink se dienste in hierdie stadium onwettig is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer