Starlink-internet dalk gou in Namibië

Kommer oor ruimterommel
Starlink beloof blitsvinnige internetdienste aan selfs die mees afgeleë gebiede – selfs daar waar internetdienste nog nooit vantevore bestaan het nie.
Elvira Hattingh
Terwyl Mosambiek verlede week die eerste land in Suider-Afrika geword het om Starlink-internetdienste te bekom, behoort Namibië, Zimbabwe asook Eswatini voor die einde van 2023 toegang tot dié dienste te hê.

Starlink beloof blitsvinnige internetdienste aan selfs die mees afgeleë gebiede in Namibië – selfs daar waar internetdienste tans baie stadig is of nog nooit vantevore bestaan het nie. Dit behoort ook groot voordele vir Namibië te bied, waar tans net sowat 21,2% van huishoudings internet het.

In Tanzanië beloop die maandelikse koste vir onbeperkte internet deur Starlink sowat N$903,13, alhoewel gebruikers eers ’n Starlink-stel moet koop, wat sowat N$14 765 kos.

Daarbenewens kan gebruikers dit vir 30 dae uittoets en indien hulle ontevrede met die diens is, dit terugstuur en hul geld terugeis. Langtermynkontrakte word ook nie gebruik nie – en dit werk slegs op ’n maand-tot-maand-basis wat enige tyd gekanselleer kan word.

Die volgende lande in Suider-Afrika wat tydens die derde kwartaal van 2023 Starlink-internetdienste sal bekom, sluit in Botswana, Zambië asook Tanzanië. Ander Afrikalande wat reeds toegang tot die dienste het, is Rwanda en Nigerië.

Dit volgens Starlink se amptelike webwerf, waar aangedui word waar internetdienste reeds beskikbaar is en wanneer lande wêreldwyd kan verwag om die dienste te bekom.

BLITSVINNIG

Starlink – tans die wêreld se grootste (en vinnig groeiende) verskaffer van internetdienste via satelliet – is die werk van SpaceX, ’n vervaardiger van ruimtetoerusting en vervoerdienste, wat deur Elon Musk besit word.

Voorheen was internetdienste via satelliete bekend daarvoor dat dit stadiger is, veral omdat satelliete so ver as 35 000 km van die aarde af wentel. Wat Starlink se internetdienste hiervan onderskei, is dat die satelliete veel nader aan die aarde (sowat 550 km hoog) wentel en gereeld omwentelinge maak, wat dit van die heel vinnigste internetdienste maak wat wêreldwyd beskikbaar is.

Die nadeel hiervan is egter dat baie meer satelliete nodig is om voortdurende internetdienste te verskaf.

In Mei vanjaar het SpaceX reeds meer as 4 400 satelliete die ruimte in gestuur, wat laag rondom die aarde wentel en ’n internetspoed van tussen 50 megabis per sekonde (Mbps) tot 200 Mbps kan lewer. Starlink het glo reeds aansoek gedoen om soveel as 42 000 satelliete die ruimte in te stuur.

Verskeie kenners en selfs sterrekundiges is bekommerd oor die aantal satelliete, wat nie net tot meer ruimterommel sal lei nie, maar moontlik ook kan veroorsaak dat die sterrehemel in die nag vol blinkende satelliette is.

SpaceX hou egter vol dat die maatskappy voortdurend aan planne werk vir volhoubaarheid en om sy satelliete minder te laat blink.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!