Strategie vir kubersekuriteit goed op dreef, sê ministerie

Wet nog hangende ná 20 jaar
Om die konsepwette oor databeskerming en kubermisdaad in werking te stel, is tans een van die laaste doelwitte wat bereik moet word voor die nasionale strategie vir kubersekuriteit voltooi is.
Iréne-Mari van der Walt
Nadat die nasionale strategie vir kubersekuriteit in 2022 bekend gestel is, sê Shoki Kandjimi, die woordvoerder van die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie, dat die ministerie tevrede is met die vordering wat gemaak is met die implementering van hierdie strategie.

Tot dusver het die ministerie ooreenkomste met verskeie plaaslike belanghebbendes aangegaan, soos Salt Essential IT vir die verskaffing van inligtingsessies vir kubersekuriteit en digitale veiligheid, asook Lifeline/Childline Namibia vir die bewusmaking van aanlyn veiligheid onder kinders en ouers.

Tans bly die ontwikkeling van die wetlike raamwerk vir databeskerming en kubermisdaad ’n prioriteit vir die ministerie, sê Kandjimi.

Beleidmakers werk al byna twee dekades daaraan om ’n wet in werking te stel om kubermisdaad te voorkom en te reguleer, aangesien regulasies van hierdie aard die eerste keer as deel van die konsepwet oor elektroniese transaksies en kubermisdaad verskyn het. Werk aan hierdie konsepwet het reeds in 2005 begin.

“Ná omvattende samesprekings met belanghebbendes is die konsepwet oor databeskerming aan die kabinetskomitee oor wetgewing voorgelê vir bespreking en leiding oor die pad vorentoe,” het hy gesê oor die jongste verwikkelinge oor die konsepwet op databeskerming.

’n Register van Namibië se nasionale kritieke infrastruktuur en inligting is ontwikkel en Kandjimi sê dat tersiêre instellings hul aanbiedinge in kuberveiligheid opgeskerp het.

“Sommige van hulle het kortkursusse oor kubersekuriteit asook die bekamping van kubermisdaad ingestel en dit aan deelnemers van verskeie bedrywe aangebied,” het hy gesê.

Kandjimi sê ook dat die stigting van die reaksiespan vir nasionale sekuriteit- en kubervoorvalle (CSIRT) na verwagting ’n belangrike rol sal speel in die skepping van ’n Namibië wat kuberaanvalle kan trotseer.

“Hierdie liggaam speel ’n kritieke rol in die bekamping van kubermisdaad aangesien dit as ’n nasionale fokuspunt dien vir die koördinering van kuberveiligheidsvoorvalle en reaksie op kuberaanvalle in die land,” sê hy.



CRAN

Die regulerende Owerheid vir Kommunikasie in Namibië (Cran) het by monde van sy woordvoerder, Mufaro Nesongano, gesê die CSIRT sal die hulp van kundiges bied tydens en ná 'n voorval wat verband hou met kuberveiligheid.

“Daarbenewens sal die Nam-CSIRT inligting oor bedreigings saamstel en versprei om kommersiële entiteite in Namibië van inligting oor bedreigings, kwesbaarhede en aanvalspatrone te voorsien.

“Hierdie intelligensie kan organisasies help om hulself proaktief teen kuberbedreigings te verdedig,” het hy gesê.

Nesongano beveel aan dat kommersiële entiteite beter kommunikasie met die CSIRT verseker deur ’n spesifieke persoon die taak te gee om in kontak met die CSIRT te bly.

Om die konsepwette oor databeskerming en kubermisdaad in werking te stel, is tans een van die laaste doelwitte wat bereik moet word voor die nasionale strategie vir kubersekuriteit voltooi is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!