Phone ownership and internet access drops
Phone ownership and internet access drops

Toegang tot internet steeds 'n luuksheid

Opname deur Afrobarometer
Die opnames het bevind dat die meeste Afrikane 'n selfoon besit en toegang tot 'n selfoonnetwerk het.
Ellanie Smit,Tanja Bause
Ellanie Smit – Die meerderheid plaaslike selfooneienaars het nie toegang tot die internet nie, het ’n opname van Afrobarometer bevind.

Statistiek toon dat terwyl 87% van Namibiërs ’n selfoon besit, het slegs 47% toegang tot die internet deur hul fone.

Intussen was daar ’n afname van vyf persentasiepunte in eienaarskap van persoonlike selfone sedert 2014-’15, terwyl daar ’n daling van vier persentasiepunte in selfooneienaarskap met internettoegang was.

Volgens die opname gebruik 93% van Namibiërs gereeld hul selfone, en slegs 45% maak gereeld van die internet gebruik. Minder as 45% van Namibiërs sê hulle gebruik óf die internet óf sosiale media om óf daagliks óf ’n paar keer per week nuus te verkry.

Volgens die Afrobarometer se verslag wat vandeesmaand vrygestel is, getiteld “Digitale verdeling: Wie in Afrika is verbind en wie nie”, word digitale verbinding deur inligting- en kommunikasietegnologieë erken en is dit kritiek tot elke land se toekomstige ontwikkeling en welvaart.

Die Afrobarometer het verskeie aspekte van die digitale verdeling in sy opnames (2019-’21) in 34 Afrikalande vasgevang. ’n Opsomming van die resultate is in die onlangse verslag vervat.

NETWERKDEKKING

Die opnames het bevind dat die meeste Afrikane ’n selfoon besit en toegang tot ’n selfoonnetwerk het.

Minder as die helfte besit egter ’n selfoon met internettoegang, en nog minder het toegang tot ’n rekenaar.

“Dit kom neer op lae vlakke van internetgebruik in talle lande.”

Bevindinge het getoon dat dekking deur ’n selfoonnetwerk wydverspreid is, met 87% van die primêre steekproefgebiede wat deur veldwerkspanne besoek is, wat dekking het. In Namibië is dit 79%.

Die verslag meld waar dekking op die vasteland meer beperk is, is dit gewoonlik in landelike gebiede, met dekking van gemiddeld 80%, vergeleke met 95% in stedelike gebiede. In Namibië is landelike mobiele netwerkdekking gemiddeld 75% en stedelike dekking gemiddeld 95%.

VERDEELDE TOEGANG

Sowat 84% van mense het ’n persoonlike selfoon, met nog 8% wat sê dat iemand anders in hul huishouding ’n foon besit.

Alhoewel eienaarskap van selfone relatief hoog is, het slegs sowat 45% van volwassenes in Afrika toegang tot die internet op hul fone.

Die opname het gemerk dat daar groot verskille in telefooneienaarskap en veral in internettoegang via telefoon oor demografiese groepe is. Mans is 9% meer geneig as vroue om ’n foon te besit (88% vs. 79%) en om ’n foon met internettoegang te hê (49% vs. 40%).

Jonger mense is meer geneig om ‘n foon te besit as ouer mense (84% vs. 78%), maar hulle is meer as twee keer meer geneig om internettoegang op die toestel te hê (53% vs. 21%).

OPLEIDING

Dieselfde geld vir die rykste respondente in vergelyking met die armstes.

Die grootste verskille word egter met die vlak van onderwys geassosieer. Byna almal (98%) met naskoolse opleiding het ’n selfoon, teenoor net twee derdes (66%) van diegene met geen formele opleiding nie. Daar is ’n verbasende gaping van 72 persentasiepunte in telefoon-internettoegang tussen die twee groepe, van ’n hoogtepunt van 85% onder diegene met naskoolse opleiding tot net 13% onder diegene met geen formele skoolopleiding nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer