Vreemde dryftuig verras Buchters

Gebruik vir insameling van wetenskaplike data
Die onbemande oppervlakvaartuig wat op Lüderitz vir opwinding gesorg het, is 'n Saildrone Explorer wat sewe meter lank en vyf meter hoog is en deur wind- en sonkrag aangedryf word.
Tanja Bause
’n Onbemande oppervlaktuig (USV), ofte wel ’n Saildrone, is Sondag in Lüderitz se hawe opgemerk wat tot spekulasie, verwarring en samesweringsteorieë gelei het.

Lede van die Namibiese vloot op Lüderitz en die Namibiese polisie was ook verward en het op die aanlêsteier rondgeskarrel.

Twee gewapende vlootlede het Sondag die USV opgepas. Gisteroggend het van die vloot- en polisielede met ’n vragmotor van die vloot teruggekeer en die oppervlaktuig uit die water gehaal en opgelaai.

“Dit het gelyk of ons binnegeval word met so baie mans in uniform,” het ’n man gesê.

Die Saildrone Explorer word hoofsaaklik vir die insameling van wetenskaplike data en die kartering van enkelstraal-oseane gebruik.

Die USV wat op Lüderitz vir opwinding gesorg het, is ’n Saildrone Explorer wat sewe meter lank en vyf meter hoog is en deur wind- en sonkrag aangedryf word.

Sosialemediaplatforms het behoorlik gegons oor dié vonds. Iemand het gesê: “Dit is nie wetenskaplike navorsing nie. Hulle steel ons krewe. Sê vir die visserye om die lisensie na te gaan. Moenie hierdie ouens vertrou nie.”

Ander mense was meer opgewonde oor die gebeure.

“My siening is dat dit hierheen gebring is om vanaf Lüderitz gelanseer te word. ’n Voertuig met CA-nommerplate het dit op ’n sleepwa hierheen gebring. USV’s word gebruik vir vlakwater-opnames, hulle is goed vir mariene navorsing, mynbou, oseaniese metadata, ensovoorts. Wonderlik om ’n USV in ons dorp te hê,” het iemand anders gesê.

Die beste verduideliking het egter van Jean-Paul Roux van die organisasie Lüderitz Marine Research gekom.

“Navorsingsvaartuie om wetenskaplike opnames te doen, is uiters duur en beperk in getalle en dekking. Satelliete het die afgelope vier dekades ’n rewolusie in oseanografie en klimaatwetenskap veroorsaak, deur vir ons ’n werklik globale prentjie te skep. In die oseane kan satelliete egter net vir ons data van die paar boonste sentimeters gee. Hulle is dus uiters doeltreffend om see-oppervlaktemperature, die bloei van oppervlakplankton, ysbedekking en volumes naby die pole te meet, maar enigiets onder die oppervlak, soos onder meer kartering van die bodem, die soek na wrakke en die opname van visvoorraad het tot dusver nog navorsingsvaartuie vereis.

“Vir ongeveer twee en ’n half dekades het diere-wetenskaplikes sensors gebruik om diepsee-gebiede te verken.

“Tiny Time Depth Recorders (TDR) is op olifantrobbe in die noordelike Stille Oseaan geplaas. Tydens hul jaarlikse migrasie versprei dié robbe in die hele noordelike Stille Oseaan, vanaf Kalifornië tot Alaska en al die pad na Japan. Aangesien hulle voortdurend baie diep tussen 1 500 meter en 2 000 meter duik, het die toestelle onder meer profiele van temperatuur en soutgehalte oor die hele noordelike Stille Oseaan opgeneem.

“Satelliete het die data na die laboratorium vir ontleding gestuur. Hierdie tegnologieë word nou ook in ander streke ontplooi.

“Die USV soos die een wat in Lüderitz gesien is, sal die volgende omwenteling in oseanografie en klimaatswetenskap wees en hulle is outonoom, baie goedkoper as navorsingsvaartuie en gebruik nie brandstof nie.

“Ons moet dankbaar wees dat Lüderitz vir hierdie bekendstelling gekies is en ek hoop om nog baie meer in die nabye toekoms te sien. Ek hoop dat plaaslike mariene wetenskaplikes betrokke kan raak by hierdie opwindende ontwikkeling en saam met hierdie internasionale inisiatiewe kan werk. En nee, hierdie toestelle kan nie ons krewe steel nie.”

Die woordvoerder van die Namibiese weermag (NDF) het nie gereageer op pogings om hom te kontak nie. Ook vrae aan die hawe-owerheid op Lüderitz was teen druktyd nog onbeantwoord.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!