Wat is die waarheid?
Hoe om die ‘infodemie’ te oorleef
Rus jouself toe om 'n wêreld waar inligting as 'n wapen gebruik word, te navigeer.
Nou, meer as ooit tevore, het die wêreld ‘n bodemlose oseaan van inligting geword.
Die verspreiding van die wêreldwye web, digitale satellietkommunikasie wat die verste, mees afgeleë uithoeke van die wêreld kan bereik, asook ‘n klem op akademiese kennis, populêre kultuur en virtuele ontmoetings het die perfekte toestande geskep vir die storm wat losgebars het met die koms van die Covid-19-pandemie en ons almal aan die inligtingsvloede, bekend as die infodemie, blootgestel het.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) word ‘n infodemie gedefinieer as te veel inligting, insluitend vals of misleidende inligting, in digitale en fisieke omgewings tydens die uitbreking van ’n siekte. Dit veroorsaak verwarring en riskante gedrag wat gesondheid in gedrang kan stel. Dit lei ook tot wantroue in gesondheidsowerhede en ondermyn die reaksie op openbare gesondheidskwessies.
’n Infodemie kan uitbrekings vererger of verleng wanneer mense onseker is oor wat hulle moet doen om hul gesondheid en dié van mense rondom hulle te beskerm, het die organisasie gesê.
Wat Covid-19 en spesifiek die kwessie van inentings betref, het die groot verspreiding van waninligting bygedra tot die huiwering wat die inentingsyfer onder die totale Namibiese bevolking ver onder 20% hou.
MEER AS ENTSTOWWE
Gesondheid is egter net een aspek van die moderne samelewing wat deur waninligting benadeel kan word, sê Tomás Rudich, ’n feitekontrole-redakteur by Newtral.es, wat feite as ‘n burgerlike diens in Spanje kontroleer.
Hy was vroeg vandeesmaand in Windhoek om ‘n gevorderde kursus in verifikasie en nuwe narratiewe in feitekontrole vir Namibiese joernaliste aan te bied. Die Spaanse ambassade en Casa África, ‘n Spaanse samewerkingsorganisasie, het die slypskool moontlik gemaak. Die Spanjaarde het ‘n kultuur van inligtingverifikasie ontwikkel, met opnames wat toon 70% van die mense in Europa is aan waninligting blootgestel en 80% dink dit benadeel demokrasie.
Rudich het die verskil tussen verkeerde inligting, disinformasie en die meer kwaadwillige waninligting wat vinnig in die sosiale media versprei, as drie oorvleuelende sirkels verduidelik.
Die eerste sirkel – verkeerde inligting – bevat vals en misleidende inhoud en is nie altyd kwaadwillig van aard nie. Disinformasie is alles in die kring wat bestaan uit valse kontekste en bedrieglike, gemanipuleerde en gefabriseerde inhoud. Dit deel dikwels die skadelike bedoeling wat die belangrikste rol in die verspreiding van waninligting speel en wat teistering, haatspraak en dikwels die uitlek van inligting insluit.
“Disinformasie is niks nuut nie. Wat nuut is, is die vermoë daarvan om te versprei en potensieel skadelik te word. Die impak is baie groter,” het hy gesê.
In Spanje het die kultuur, maklike toegang tot instrumente vir die verifiëring van feite en aktiewe pogings om verhoogde disinformasietendense teë te werk, vrugte afgewerp in terme van die pandemie – met ‘n inentingsyfer van meer as 85% en ‘n aansienlike afname in nuwe gevalle sedert ‘n skielike styging in Januarie.
Verkeerde inligting van prominente figure versprei vinnig en misleidende opskrifte dra by tot verwarring, maar nogtans word baie ingeënt, het Rudich gesê.
Hy het bygevoeg die “waarheidsgaping” is onder meer ’n bedreiging vir demokrasie, samelewings, die omgewing, finansies en gesondheid; wat vertroue in die regering laat taan, verkiesings beïnvloed en ingeligte besluitneming en vryheid van uitdrukking belemmer.
ONTKEN KLIMAATSVERANDERING
“Disinformasie vertraag pogings om klimaatsverandering te bekamp,” het hy gesê en bygevoeg dit kan mense op verskeie maniere beïnvloed.
First Draft (firstdraftnews.org), ’n organisasie wat in 2015 gestig is midde ‘n vlaag van klimaatverwante waninligting, het in April 2021 ‘n artikel getiteld “Climate change conspiracy memes on Instagram spread across the web” gepubliseer. Dit het gevolg ná Facebook, wat Instagram besit, in September 2020 hulself daartoe verbind het om waninligting oor klimaat aan te pak deur waarskuwingsaanwysers te gebruik.
Hulle het duisende Instagram-plasings gevind wat verband hou met die hutsmerke #climatehoax, #globalwarminghoax, #globalwarmingisahoax, #carbonkleptomania, #globalcooling, #climatechangehoax, #globalwarmingisfake, #noclimateemergency en #climatescam – wat aktief gebruik is.
“Ons bevinding was dat baie van die gewildste plasings die bestaan van klimaatsverandering ontken het; die idee dat mense dit veroorsaak, uitgedaag het; beweer het die wêreld is besig om ‘n era van globale verkoeling te betree; of dat aardverwarming deel is van 'n komplot om die wêreldbevolking te beheer.
“Ander plasings het verwys na samesweringsteorieë wat verband hou met die sogenaamde ‘chemtrails’ (die oortuiging dat kondensasiespore van vliegtuie eintlik chemiese of biologiese middels in die lug is), die nuwe wêreldorde en die ‘Great Reset’, terwyl nog meer plasings verkeerde inligting oor Covid-19-entstowwe versprei het,” lui die artikel.
Die internasionale netwerk van nuuskamers, universiteite, platforms en burgerlike organisasies het vandeesmaand aangekondig sy deure gaan sluit om sodoende deel te word van die Information Futures Lab, ‘n inisiatief van die Brown-universiteit in Amerika se skool vir openbare gesondheid.
Dié stryd het ook die stigting van verskeie organisasies wêreldwyd wat hulle vir die waarheid beywer, tot gevolg gehad, veral nadat PolitiFact (politifact.com) in 2009 met ‘n Pulitzer-prys bekroon is vir sy baanbrekerswerk om stellings wat deur Amerikaanse politici gemaak is, te ondersoek. Hulle gebruik ‘n “waarheidsmeter” (truth-o-meter) om te illustreer hoe onwaar ‘n spesifieke stelling is, wat hul verifikasies meer toeganklik vir die publiek gemaak het.
KAMPVEGTERS VIR DIE WAARHEID
Volgens Rudich is disinformasie aan die toeneem, maar terselfdertyd groei die gemeenskap wat dit probeer teëwerk; en feitetoetsers het waardevolle lesse uit dié konflik geleer.
“Ons verifieer nie al die feite nie. Sommige dinge is nie verifieerbaar nie,” het hy verduidelik en voorbeelde van retoriek, bedoeling, opinies, projeksies en sarkasme genoem onder inligting wat nie geverifieer kan word nie.
“Ons hou by die beginsels van onpartydigheid, deursigtigheid wat bronne en finansiering betref en ‘n duidelike regstellingsbeleid wanneer ons sake van openbare maatskaplike belang en stellings met relevansie wat wyd aanlyn versprei is, nagaan. Feitekontrole het ‘n positiewe impak op die samelewing en leer burgers om feite na te gaan en om skadelike inligting te bekamp,” het hy gesê.
Meer onlangs is die sosiale media oorstroom deur ‘n reusegolf van verkeerde inligting oor die oorlog in die Oekraïne.
“Die oomblik toe Poetin die aanval aangekondig het, was daar ‘n stortvloed van fopnuus. Binne die eerste uur is 25 as onwaar bewys, en ons het later opgemerk dat dieselfde bedrieglike inligting in verskillende lande, in verskillende tale herhaal word,” het Rudich gesê.
ANTAGONISTE
Nog ‘n dosent vir die kort kursus was Andrés Jiménez, feitekontrole-redakteur vir Maldita (maldita.es), wat insig gedeel het oor hoe die “slegte ouens” werk wat doelbewus verkeerde inligting versprei.
Hy het gesê algemene motiverings is geld – soos in die geval van swendelary, en om verwarring te saai, dikwels vir politieke doeleindes of ter ondersteuning van ‘n spesifieke agenda soos met diegene wat haatspraak verspreider.
Alles van poetswebwerwe, “cheap fakes” – wat parodie-Twitter-rekeninge, omgekeerde beelde, vals twiets, plasings en WhatsApp-gesprekke insluit; tot “deep fakes”, wat vertraagde en veranderde video en kunsmatig veranderde gesigte gebruik, kom oraloor die sosiale media voor, het hy gesê.
Hy het gedeel dat verspreiders van disinformasie dikwels georganiseerd is en sal baat by inligting wat oor platforms gedeel word en gevolglik vals inligting toelaat om van een sosialemediaplatform na die volgende te spring – wat dit moeiliker maak om na te spoor.
Veral Telegram wend geen formele poging aan om verkeerde inligting teë te werk nie en is ‘n gunstelingplatform vanwaar mense na ander platforms kan spring, met baie bekende disinformasiekanale, het hy gesê.
Die teenwoordigheid van feitekontroleerders op alle sosiale mediaplatforms, van TikTok tot Instagram, is baie belangrik om hierdie tendens teë te werk, het hy gesê.
MAAK SELF SEKER
Jiménez het kursusgangers ingelig oor verifikasiehulpbronne wat grootliks gratis is om te gebruik en toeganklik is vir enige internetgebruiker.
Die belangrikste hiervan is Google-soekenjingereedskap wat die platform se gevorderde soekfunksie insluit om soektogte te beperk tot spesifieke woorde en frases, werf- en domeinname, en spesifieke tipes dokumente, datums, liggings of gebruikers.
Gebruik Google se omgekeerde beeldsoekfunksie (reverse image) om te kyk of ‘n prent eg is, terwyl Google Cache ‘n goeie tydelike argief is van webwerwe wat in Google se tussengeheue gestoor is.
‘n Baie nuttige argief om inhoud te ondersoek, is die Wayback Machine (archive.org/web), asook Archive.today (archive.li) wat homself as ‘n tydkapsule vir webblaaie beskryf.
Metadata2go (www.metadata2go.com) wys die inligting van hoe ‘n lêer geskep is, alhoewel die inligting uitgevee of gemanipuleer kan word. Wees dus versigtig met dié inligting.
“Dit is ook ‘n goeie gewoonte om verskillende soekenjins te gebruik,” het hy gesê en Xandex en Bing onder verskeie alternatiewe gelys.
“Om webkoekies wat jou soektog beïnvloed teen te werk, gebruik ’n privaat modus en incognito-oortjies (tabs). Om toegang tot soektogte wat tot ’n spesifieke geografiese gebied beperk is te verkry, gebruik ‘n virtuele private netwerk (VPN) om jou internetprotokol (IP)-adres te verander,” het hy gesê. Hy het ProtonVPN, NordVPN en ExpressVPN voorgestel.
Om Facebook-plasings te monitor, gebruik Who Posted What, hoewel die gewone Facebook-soekfunksie onlangs verbeter het. Twitter laat ook gevorderde soektogte toe. Soos met ander platforms, is dit belangrik om aandag te gee aan klein besonderhede om ‘n vals twiet raak te sien.
“Onthou, karakters is beperk tot 280, en was 140 voor November 2017,” het hy gesê, en bygevoeg “mens moenie twiets vertrou sonder hertwiets, gunstelinge (favourites) of ‘n datumstempel, of dié met net een skermgreep” of ontbrekende blou regmerkies nie.
EMOSIONELE REAKSIE
Ander nuttige hulpbronne sluit in die Africa Infodemic Response Alliance van die WHO, die Fact Network (factnetwork.co.za) – wat aanlyn opleiding verskaf – en Africa Check se InfoFinder.
Op ’n meer persoonlike noot het Keegan Leech, ‘n navorser by Africa Check (africacheck.org), wenke gedeel oor voorsorg wat voor die uitbreking van die volgende infodemie getref kan word.
“Verkeerde inligting kom in golwe, en dit beweeg vinnig,” het hy gesê en bygevoeg “waninligting herhaal ditself”.
“Verwarring en onsekerheid kweek waninligting, so feitekontroleerders moet ‘n duidelike boodskap oordra, deel en bronne van akkurate inligting wees, en die volgende valse aantyging vooruitloop,” het hy gesê.
Volgens hom gebruik diegene agter die waninligting boodskappe wat emosie uitlok, en hy sê dit help altyd om, wanneer jy ’n plasing sien, jouself af te vra: “Maak dit my bang of kwaad?”
“Sterk emosies kan dui op disinformasie,” het hy gesê.
Hy het gewaarsku dit kan “baie moeilik wees om ‘n narratief wat reeds posgevat het, te bestry”, en het klem gelê op die behoefte om vinnig, duidelik en betroubaar te wees wanneer die publiek oor kwessies ingelig word.
“Elkeen is geregtig op hul eie mening,” het hy gesê, “maar nie op hul eie feite nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie