• Tuisblad
  • Toerisme
  • ‘Bekendes stroom na Namibië vir atmosfeer, oop ruimtes’

‘Bekendes stroom na Namibië vir atmosfeer, oop ruimtes’

Beleggingsgeleenthede in toerisme bespreek
'n Groep van 21 Ghanese toeriste het verlede Sondag in Namibië geland vir die November in Namibia-loodsinisiatief vir toerisme en sake.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit - Namibië se wye oop ruimtes en vreedsame en rustige atmosfeer is van die redes waarom internasionale bekendes na die land begin stroom het.

Dit volgens Margareth Gustavo van die Namibiese raad vir die bevordering van beleggings en ontwikkeling (NIPDB), wat gepraat het tydens ’n skakelsessie met Ghana wat deur die Namibië Toerismeraad aangebied is.

Die geleentheid, wat verlede week gehou is, het gevolg nadat ’n groep van 21 Ghanese toeriste verlede Sondag hier geland het vir die November in Namibia-loodsinisiatief vir toerisme en sake.

Dit het ten doel om die plaaslike toerismebedryf ’n hupstoot te gee in die konteks en gees van die Afrika Kontinentale Vryhandelsgebied (AfCFTA) en “die Afrika wat ons wil hê”.

Die inisiatief is ontwerp om ’n netwerk van Afrikane te vestig wat ’n passie vir intra-Afrika toerisme, reis en handel deel, het Gustavo gesê.

Dit sluit ’n reeks opwindende geleenthede in, insluitend safari's, handelsgeleenthede en netwerksessies as deel van ’n omvattende vakansiepakket van sewe dae.

November in Namibia is deel van die implementering van ’n Memorandum van Verstandhouding (MoU) oor toerisme tussen Namibië en Ghana, wat in April 2022 in Accra onderteken is.

Die groep bestaan uit gesiene Ghanese praktisyns in verskeie velde, insluitend gespesialiseerde mediese dokters, skrywers, sake-eienaars, bankiers en regs- en vermaaklikheidspersone.

Gustavo, wat oor beleggingsgeleenthede in Namibië gepraat het, het gesê baie mense besoek die land vir sy wye oop ruimtes.

Gesprekke is gevoer oor hoe om die feit dat bekende toeriste Namibië meer gereeld besoek, te benut, het sy bygevoeg.

Namibië het onlangs gasheer gespeel vir die Britse Formule Een-renjaer Lewis Hamilton, die Amerikaanse aktrise Gabrielle Union-Wade en haar man, die voormalige basketbalspeler Dwyane Wade, en die Amerikaanse rapper en sanger Russ.

Roger Federer, Jose Mourinho, Charlize Theron, prins William en Will Smith het ook tyd hier deurgebring, terwyl Angelina Jolie en Brad Pitt hul eerste biologiese kind, Shiloh Jolie-Pitt, in 2006 in Swakopmund verwelkom het.

“Ons het gesê ons moet geraas maak. Kan ons hulle besoek? Kan ons hulle op die lughawe ontmoet? Ons moet ’n groot ‘hoo-ha’ maak oor hulle hier is,” het sy gesê.

“Baie van hulle het egter gesê die rede hoekom hulle van Namibië hou en hierheen kom, is omdat hulle weet hulle sal alleen gelaat word.”

Gustavo het gesê dit is ’n mededingende voordeel vir Namibië vanuit ’n toerisme-perspektief, en bygevoeg die meeste bekendes maak plasings op sosiale media oor hul verblyf en avonture hier.

GELEENTHEDE

Volgens haar skep toerisme sakegeleenthede.

Van die geleenthede in die toerismewaardeketting is wildtoerisme; vergaderings, aansporings, konferensies en toerisme-uitstallings; gemeenskapsgebaseerde toerisme; die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied en die Oranjemund Mariene Riverbed-projek, het sy gesê.

Gustavo het bygevoeg met die AfCFTA is Namibië en Ghana oop om met mekaar sake te doen.

Terwyl mynbou nog altyd ’n beduidende bydraer tot Namibië se bruto binnelandse produk (BBP) was, het die regering besef hy moet sy ekonomie diversifiseer en werk in verskillende sektore skep, het Gustavo gesê.

Een van die dinge wat hulle besef het, is die groenwaterstofpotensiaal wat Namibië het, het sy opgemerk.

“Ons wil nie na groen waterstof kyk as net daardie ding wat ons vervaardig nie, maar hoe kan ons dit industrialiseer? Daar is baie verskillende nywerhede wat by die produksie van groen waterstof in Namibië sal begin.”

Sy het gesê Namibië kan groen waterstof op ’n baie mededingende wyse produseer, wat die land ’n voorsprong kan gee.

“Ons het die aandag van die wêreldgemeenskap getrek deur groen waterstof en toe ontdek ons olie en gas.”

VOLHOUBARE ENERGIE

Namibië is ook die derde grootste uraanprodusent ter wêreld, terwyl die land se biomassapotensiaal volop is, het sy uitgelig.

Volgens Gustavo het die land verder na hernubare energie gekyk, met planne vir Namibië om ’n spilpunt vir volhoubare energie in Afrika te word.

Sy het van die redes om in Namibië te belê gelys as sy uitstekende marktoegang, verskeie handelsooreenkomste met ander lande, politieke stabiliteit en ’n vryemarkekonomie, en bygevoeg dat Namibië, buiten sy hawe, ’n uitstekende padnetwerk het.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 28° Rundu: 19° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 21° | 38° Tsumeb: 21° | 35° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 19° | 35° Windhoek: 20° | 32° Gobabis: 22° | 34° Henties Bay: 16° | 20° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 20° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 33° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 19° | 33° Oranjemund: 17° | 23° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 16° | 29° Mbabane: 16° | 27° Maseru: 15° | 31° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 31° Windhoek: 20° | 32° Cape Town: 17° | 22° Durban: 19° | 29° Johannesburg: 16° | 27° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 20° | 28° #REF! #REF!