Die kasteel, olywe en skade
Padtoer ná die vloed (Slotaflewering)
In die vyfmylpoort voor Vioolsdrif gooi ons vir oulaas Kaapse draaie al dalend na die Oranjerivier.
Noord van Franschhoek begin die wingerde stelselmatig minder word en kleedrepetisies vir lappies olyfboomboorde en akkers koringlande volg mekaar al hoe meer op.
Van die Paarl se oosrand kyk ons wes en daar ver, verklein tot ’n helder wit vlekkie oor die afstand van die dal, weerkaats die eksponensiële beeld van die Afrikaanse Taalmonument.
Ons verdwaal so bietjie en ry deur die voorstede. Dit lyk soos enige middelklas-woonbuurt totdat. . .
“Stop!” skree ek. ’n Besonderse huis het my oog gevang en ek moet ’n foto neem. “Hier woon die Hobbits,” verduidelik ek.
Toe pak ons die R44 vir die skof Vredendal toe aan. Ná 14 dae se padtoer is almal egter gesellig en ons besluit om Riebeek-Kasteel deur te kyk vir ’n lekker gesonde koppie koffie.
Die eerste daadwerklike gevolge van die stormvloede ry ons by die T-aansluiting buite die dorpie raak. Die vloedwater het die teerpad se een laan weggekalwe en ’n reusepoel het teen die pad opgedam. Beurtelings kry vervoer rykans en binne minute sing die bande weer lekker langpad.
Riebeek-Kasteel is een van die oudste dorpies in die Swartland. Sy argitektuur – met stoepe so te sê op die straat – verklap hoe die inwoners in ’n vorige tydperk van veranda tot straat met mekaar gepraat het.
Die bekende Wellingtonner Piet Cillié, later bekend as Piet California, was die ware baanbreker van die olyfbedryf. Hy het in 1893 die onbekende olyfvrug die land binne gebring en sedertdien word olywe in die Swartland geproduseer.
Ons hou stil by ’n netjiese huisie, die Olyf Boetiek, wat ons dink regte koffie sal bedien. Koffie? Nee, slegs olywe. Maar Derek die olyfboer laat nie sy kans verbygaan nie en neem ons deur sy totale olyf-ervaring. Hy haal uit. Ons proe kalamata-, mission-, manzanilla-, nocellara-olywe en sy spesialiteit: Olywe gegeur met plaaslike bloubessies.
By die regte Kasteel-koffiebistro is die goeie diens weer verstommend. Ook die suiwer Afrikaans. Ek wil by die eienaar weet oor die herkoms van die dorp se naam. Riebeek-Kasteel was tog nie Jan van Riebeeck se plattelandse vakansiehuis nie? Hier is ook geen kasteel of fort nie. Die redelikste verklaring is dat die 966 m hoë rotsberg die kasteel genoem is en die “Riebeek” later bygevoeg is.
Twee avonturiërs, Pieter Cruythoff en Pieter van Meerhof, het egter reeds in 1661 die Riebeekvallei goewerneur Jan se naam gegee. ’n Dramatiese verklaring met meer gevegte en bloed sou sensasionele leesstof gemaak het, maar een eienskap van dié dorpie is “onopgesmuktheid.”
Ons haal Vredendal gemaklik, maar moet eers laatmiddagete-sterk word. Die hulpvaardige plattelandse herbergier fynkam die omtrek vir verblyf. Niks is beskikbaar nie. Ons eet buite op die groot grasperk van sy kuierplasie naby papegaaihokke. Om ons tafel vind ’n tweegeveg plaas vir aasporsies tussen ’n mak hoenderhaan en ’n werfkat. Nie een wen nie.
Tydens ons padtoer het ons meestal onbespreekte verblyf gesoek en gekry. Ek verkies die onvoorspelbaarheid van die noodlot, maar hierdie keer is nood ons lot. Ietwat desperaat kry ons ’n blyplek op Lutzville. Die vuil, arm, onversorgde dorpie kort ’n regruk. Die wye hoofstraat is besaai met ou slaggate en die drankwinkel voel soos ’n tronk. Ek koop ’n bottel sauvignon blanc van Darling uit protes.
Die stortwater in ons onversorgde verblyfhuis is darem warm, maar hou jou plakkies aan.
Ons is nie teleurgesteld om met hanekraai die dorp uit te haas nie. Die grondpad na Nuwerus is so 58 km en is sedanvriendelik. In hierdie gebied het swaar reëns geval.
Heldersiende het ons netjiese verblyf op Noordoewer lank vooruit bespreek. Betaling by die meeste onbespreekte plekke is nogal ’n probleem. Dit is goed om ’n kontantbeurs te hou vir onvoorsiene kragonderbrekings en die “van die lug af”-tellers.
In die vyfmylpoort voor Vioolsdrif gooi ons vir oulaas Kaapse draaie al dalend na die Oranjerivier. Skielik is daar ’n versperring en toe besef ons hoe gelukkig ons gereis het. Vir ongeveer 800 m het die teerpad voor die vloedwater geswig. Net enkelbaan, ligte vervoer word beurtelings toegelaat en ordelik, stoet vir stoet, begelei.
Op Namibiese bodem hou ons nabetragting. Die aanloklikheid van die Wes-Kaap lê diep in baie Namibiërs se harte. Selfs voor wyntoere, fyn uiteetplekke, haaihokke en padstalle was daar ’n onbeskryflike heimwee, ’n soort verlange, ’n gedeelde kennis tussen ons en hulle. Asof ons mekaar herken as verlangse verdwaalde familie wat weer ooreenkomste van nuuts af met die herontmoeting ontdek.
Ná die vloed is daar nog so baie oor om van mekaar te leer. Ons dobberende ark het vir eers tot rus gekom. Vir nou.
Wanderlust is ’n pes. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie