Die romantiek van Zhouzhuang
Geskiedenis strek oor meer as 1 000 jaar
Daar is 'n ou wêreld wat nuuskierigheid kielie wanneer 'n mens Zhouzhuang betree.
Gerhardus se reise – Een van my gunstelingplekke om in China te besoek, is Zhouzhuang.
Zhouzhuang is ’n ou waterstad suidoos van Suzhou in die Jiangsu-provinsie. Dit is ongelukkig nie ’n plek wat ’n mens met toerbusse besoek nie, omdat dit so afgeleë is tussen die ryslande in die platteland. Ek het self per ongeluk daarop afgekom in 2017 toe Chinese studente hierdie bestemming aanbeveel het.
Daar is ’n ou wêreld wat nuuskierigheid kielie wanneer ’n mens Zhouzhuang betree. Dit slaan jou asem weg, dit laat jou giggel en soms streel dit net jou siel.
Zhouzhuang het ’n geskiedenis wat langer as 1 000 jaar gelede strek. Die eienaar van die land, Zhou Digong, het sy land aan die aangrensende Boeddhistiese tempel geskenk en so het die ontwikkeling van Zhouzhuang begin. Vir die volgende 600 jaar het die riviere en kanale van Zhouzhuang gedien as vervoerweë vir sy, graan en boumateriaal vir konstruksiedoeleindes.
Weens hierdie ekonomiese inspuiting het die klein dorpie wat gevorm is langs waterweë ontplof in herehuise, wynhuise, ’n teater en allerlei interessante plekke vir plaaslike inwoners sowel as handelaars. Vandag word van hierdie plekke steeds in stand gehou en elkeen vertel ’n storie.
Die ou paadjies en gangetjies tussen die kanale water is ru en grof. Orals is klein winkeltjies, restaurantjies en stalletjies. Geen motors kan daar ry nie. Bootjies op die waterkanale doen aflewerings en vervoer die vullis weg. Regdeur die waterstad verbind bruggies die gangetjies en geboue. Die bruggies is besonders romanties.
Gedurende die dag roei daar vrouens onder deur die bruggies wat mense of goedere vervoer. Hulle sing die mooiste liedere terwyl hulle skuitjies deur gordyne van wilgertakke vaar. Die bruggies dien ook as uitkykpunte oor die lanterns wat saans uit die bome die waterstad verlig.
Daar is twee baie prominente bruggies wat Zhouzhuang se kenmerk is. Dit is die tweeling-steenbruggies wat 500 jaar gelede gedurende die Ming-dinastie gebou is. Hulle verbind twee kanale deur reghoekig bymekaar aan te sluit. Vir die tyd waarin hierdie twee bruggies gebou is, was hulle argitektoniese wonders. Hierdie oorspronklike bruggies, met hulle onewe trappies, staan steeds vandag sonder enige ondersteuning bo die water uit. Die weerkaatsings van die brugkoepels vorm volronde sirkels in die water. Dit vorm optiese illusies en eis jou aandag. Dit is hipnoties.
Hoeveel mense het die laaste 500 jaar deur hierdie sirkels gestaar, ingeslote met drome, verlies of net hulleself?
Al die geboue is in die tradisionele boustyl van die omgewing wat spierwit mure is met swart dakke. Hierdie klein huisies kul die oog, want agter sommige van die nederige geboutjies is groot herehuise wat binnehowe, klein tempeltjies en selfs koidamme bevat. Hierdie herehuise het aan die groot handelaars van die Ming-dinastie behoort. Die huise is baie tradisioneel met voorhuise versier met groot porseleinkruike, ou houtmeubels, lanterns, tradisionele skilderye en mooi marmerklip.
Wat vir my opvallend was, is hoe die natuur deel gevorm het van die binnehuis. Die binnehowe is baie minimalisties uitgelê met ’n boom of ’n paar plante. Die vertrekke se deure maak wawyd oop tussen die vertrekke en die buite spasies, so die leefruimte is ’n versoening van elemente uit die natuur (soos die houtmeubels en die marmerklip) en die natuurlike buitewêreld. Die indrukwekkende ruimte inspireer jong dames om ou tradisionele klere aan te trek uit geskiedkundige periodes en selfies van hulself te neem.
Zhouzhuang hou kultuur aan die gang! In die ou buitelugteater is daar elke dag tradisionele opera-uitvoerings met tradisionele instrumente. Die sangers is in vol grimering met lang vloeiende kostuums. Die moue van die operakleed dien as prop wat in ’n genuanseerde wyse gebruik word gedurende die sangeres se vertolking. Die sang is baie anders as die Westerse opera. Dit is skerp, dun klanke met glyende intonasie. Ten spyte van die vreemde klank, is die optrede baie begeesterend. Die laaste keer wat ek daar was, het dit gedurende die vertoning gereën. Sommige gehoorlede het sambrele gehad en ander nie. Almal het die hele vertoning deurgesit.
Na ’n lang dag van verkenning is dit die lekkerste om in Wang Jiao se taverne te sit vir ’n bekertjie ryswyn. Ek het vir Wang Jiao die eerste keer in 2017 ontmoet. Dit was op Oukersaand toe ek toevallig by sy knus plekkie ingestap het. Die aand was besonders koud en Wang Jiao se glimlag het die vertrek opgewarm. Wang Jiao is trots op sy plekkie langs die kanaal. Die water vloei onder die vensters verby – ’n mens ruik die water. Hierdie spesifieke taverne was waar vissers saans na toe gekom het in die ou dae. Hulle het kom ryswyn drink, gesing en gedigte opgesê. Vandag speel rustige Chinese ballades oor ’n Bluetooth-luidspreker. Hy bedien verskillende wyne wat hy self brou: ryswyn, perskebloeiselwyn, litchi-wyn en vele meer. In die winter bedien hy die wyn warm in ’n potjie oor ’n kersie, en in die somer is dit koue lafenis wat in jou klein duimhoogte bekertjie geskink word. Wanneer ek in die aande by hom sit en gesels in my gebroke Chinees en sy gebroke Engels, sit hy sade, neute en tradisionele lekkergoed voor. Wang Jiao het vir my onlosmaaklik deel van Zhouzhuang geword.
Alhoewel Zhouzhuang se grootste inkomste tans toerisme is, kry hulle dit steeds reg om nie oorgekommersialiseerd voor te kom nie. Klere hang by die vensters uit; ’n lukrake skottel staan langs ’n eensame stoel en mielies groei in sommige agterplase. Omdat die huisies en plekke so beknop tussen die waterweë is, voel ’n mens soms te naby aan ander se persoonlike spasies.
Ek stap in ’n gangetjie en sonder dat ek wil, sien ek ’n tannie in haar sitkamer. Haar gryskop wys effens bo haar leunstoel uit. Die televisie speel CCTV en ’n groot portret van Mao hang bo haar televisie. Ek wil nie soos ’n loerder voorkom nie, tog probeer ek hier en daar ’n vinnige blik in die lewens van die inwoners kry.
Toe ek agt jaar gelede vir Zhouzhuang ontdek het, was ek die enigste Westerling wat die strate van die waterstad bewandel het. Sedertdien het ek meer en meer Westerlinge begin sien tydens elke besoek. Ek hoop werklik dat die romantiek van die plek sal voortleef soos dit meer toeganglik vir die res van die wêreld word.
– Gerhardus van Grootfontein

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie