No Image Caption

Gemeenskappe baat glo by konsessie

N$100 miljoen na gemeenskappe in Sossusvlei-omgewing
Die beplande inisiatiewe sal fokus op onderwys, gesondheid en volhoubare ontwikkeling vir gemeenskappe, terwyl die konsessie uitgevoer sal word met die doel om Namibië se toerismelandskap te verbeter.
Ellanie Smit
“Ons het hierdie reis nie net aangepak vir die bevordering van Namibië se toerisme nie, maar met ’n onwrikbare verbintenis tot die bevordering van volhoubare en gemeenskapsgerigte inisiatiewe.”

So het die mede-eienaar van About Africa, Heiko Dörgeloh, gesê voor die kontrak van 25 jaar aan dié maatskappy toegeken is om toeriste na die Namibwoestyn te vervoer.

Die maatskappy het gesê die konsessie beoog om meer as N$100 miljoen na die betrokke gemeenskappe te kanaliseer.

Die konsessie is aan die private maatskappy toegeken nadat Namibia Wildlife Resorts (NWR) – wat in die verlede toeriste na Sossusvlei vervoer het – glo nie hul tenderaanbod betyds ingedien het nie.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het gesê dat die Sossusvlei-pendeldiens en Farm Arbeid Adelt-kampterreinkonsessie aan Maltahohe en die !Karkhoen-gemeenskappe toegeken is met ’n aandeel van 75% en die regering wat 25% behou.

Shifeta het ook gesê die ministerie het deur middel van ’n tenderproses Grow Namibia CC t/a About Africa CO as operateur vir dié konsessie aangewys.

Die konsessie sal ook vir dié maatskappy die reg gee om ’n kampplek te bedryf, begeleide staproetes aan te bied en ’n kiosk in die area te ontwikkel en te bedryf.

Dörgeloh het in ’n verklaring gesê die verkryging van die konsessie word gekenmerk deur hul onwrikbare nakoming van beginsels van regverdigheid, deursigtigheid en etiek.

Hy meen ook dat die tenderproses wat deur die omgewingsministerie behartig is, ’n gestruktureerde en deursigtige benadering van die begin af gevolg het.

Dörgeloh het gesê vanaf die aanvanklike aankondiging in plaaslike koerante op 8 November verlede jaar, was hul aksies belyn om Namibië se toerismelandskap te verbeter deur proaktiewe betrokkenheid, terreinbesoeke en noukeurige bodvoorbereiding.

NWR ‘GEDISKWALIFISEER’

Wat die NWR se betrokkenheid by die tenderproses betref, beweer Dörgeloh dat die NWR nie net ten volle bewus van die tender was nie, maar ook aan die vereiste bodregistrasie, inligtingsessie en terreinbesoek deelgeneem het.

“Ten spyte hiervan is NWR uiteindelik gediskwalifiseer weens die laat indiening van hul tenderdokument – ’n duidelike bewys van die streng nakoming van die reëls en spertye wat deur die ministerie gestel is, wat ’n billike en mededingende bodomgewing verseker.”

Dörgeloh spog ook met die feit dat sowat N$100 miljoen glo na die gemeenskappe herlei sal word en het bygevoeg dat dit wegbeweeg van die vorige verbintenisse waar die dienste en aktiwiteite na bewering slegs tot voordeel van die operateur was en geen gemeenskap daaruit gebaat het nie

“Ons korporatiewe maatskaplike plan skets nie net die finansiële voordele van meer as N$100 miljoen nie, maar ook ’n omvattende benadering tot gemeenskapsbetrokkenheid en -ontwikkeling.”

Die inisiatiewe sal gemik wees op onderwys, gesondheid en volhoubare ontwikkeling wat, volgens hom, in lyn sal wees met hulle verbintenis tot ’n toekoms waar gemeenskapsvoordele en volhoubare toerismepraktyke verweef is.

Hy het gesê die inligting is ook aan gemeenskapslede deurgegee, wat teenwoordig was by die ondertekeningseremonie wat in Maart op Mariental gehou het.

Dörgeloh het sy verklaring uitgereik ná mediaberigte oor die feit dat NWR N$175 miljoen hierdeur gaan verloor en dat sommige geaffekteerde gemeenskappe dit gekritiseer het en gesê het dat hulle nie geraadpleeg is nie en dat die kontrak gekanselleer moet word.

Hy het beklemtoon dat die NWR – wat volgens inligting ’n geregistreerde bieër was, maar versuim het om hul bod betyds in te dien – glo voortgegaan het om te beweer dat die saak eers later onder hul aandag gekom het. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!