Gerhardus se reise – Lagavulin is my gunsteling-whisky

Toergroepe is toe nie so sleg nie
Ons toergroep stop op allerhande interessante, soms baie klein, plekkies in die Skotse Hoogland.
Gerhardus van Grootfontein – Sommige plekke, soos dorpies en geheime hoekies in die Skotse Hoogland, is onbekombaar sonder tyd en geld.

Hoewel ek nie van groepe hou nie, het die hooglande se aanloklikheid my oorreed om ’n 7-dag-toer te doen. Dit laat my toe om die omgewing te ontdek sonder my eie vervoer, duur verblyf en logistieke kopseer. Met ’n groot geel bus het ons van backpackers tot backpackers gery, haggis (Skotse afval) geëet en whisky gedrink.

Die bus se vensters is silwerskerms waardeur berge, dale vol heide en mere flits. Dan en wan is daar ’n ou kasteel of ruïnes op ’n heuwel of teen ’n meer.

Binne die bus is ons besig om vriende te maak. Ons is almal rondom dieselfde ouderdom. Elke kontinent op hierdie aarde het ’n ambassadeur of twee op die bus. Ek is die enigste reisiger wat vir Afrika verteenwoordig.

Ons toerleier is ’n rooikop vrou, in haar laat 20’s, met ’n baie swaar Skotse aksent. Haar naam is Gill. Gill vertel grappe oor die mikrofoon en speel interessante musiek terwyl sy bestuur. In ’n stadium breek die CD-speler. Gill begin Skyfall van Adele sing. Paniekbevange het ons die CD-speler bitter vinnig reggemaak.

Ons stop op allerhande interessante, soms baie klein, plekkies. Die plaaslewe is anders as in Namibië. Alles is welig en groen – soos Namibië nou lyk. Ek wonder of die boere ooit bid vir reën.

Die coolste is die beeste. Hulle het almal lang hare wat oor hulle oë hang – teddiebeerkoeie! Hierdie beeste is al deel van die Skotse ekonomie sedert die vroeë 1800’s. Weens hulle dik pelse kan hulle in yskoue, byna-Arktiese, temperature oorleef. Hulle is so vriendelik dat ’n mens twee keer dink voor jy ’n steak eet.

By Fort William klim ons op ’n bekende stoomtrein: die Jacobite-trein. Die lyn waarop hierdie trein ry is eers in 1901 geopen, maar die stoomtrein is vernoem na die 18de-eeuse Jacobitiese rebelle wat hierdie streek deurkruis het. Die trein gebruik egte stoom. ’n Mens ruik die kool en hoor die fluitjie. Die “vintage” trein is ook bekend as die Harry Potter-trein omdat dit gebruik is as die “Hogwart Express” gedurende die verfilming van die rolprente. Daar is ’n hele kompartement met memorabilia aan die Harry Potter-flieks gewy.

In daardie stadium was my baard weliger as gewoonlik, met ’n lang krulkapsel wat oor my skouers hang. En, as ’n man wat steeds meer van eet as van oefening hou, kon my medereisigers nie anders as om my Hagrid te doop nie.

Ná twee ure se reis arriveer die trein by Mallaig, ’n vissersdorpie naby die Eiland Skye. Ons is met ’n ferry oor na Skye toe. Op Skye klim ons almal weer op die bus. Die omgewing is effens anders as op die vasteland. Die groen-grys berge is rou. Dit is meer aards asof daar ’n oerwysheid of magie in hulle rotsagtigheid is.

Legendes spreek van die magie wat ’n mens in die berge sien. Die rivierwaters wat onderdeur die Sligachan-brug vloei hou towerkragte in.

Hierdie yskoue water is ’n tussenweg na die wêreld van die feë. Die legende lui dat wanneer ’n persoon hulle gesig vir 7 sekondes onder die ysige water dompel, sal die feë hulle seën met vele jare van jeug en skoonheid.

Die bus stop langs die Sligachan-brug. Daar is mis in die lug. Die atmosfeer is effens onheilspellend. Die helder water kabbel rustig tussen klippe deur en die reuk van die water meng met die reuk van bossies en kruie. Die berge is groot beelde op die horison. Hulle spreek vrede.

“Nou toe,” besluit ek en ’n nuwe vriend. Beide van ons het ons gesigte in die yskoue rivierwater gedompel. Die feë se seën kom met ’n effense brain freeze. Ons het nie dit 100% deurdink nie, want daar was geen handdoek om die brain freeze mee af te droog nie. Met ’n effense kopseer klim ons terug op die bus. ’n Kopseer is ’n klein prys om te betaal vir die glans en glorie wat my toekomstige skoonheid vir my inhou.

Laat die middag sluit Gill die bus se engin af. Ons is by Kyleakin; ’n klein dorpie langs ’n kanaal wat Loch Alsh met die groter see verbind. Hierdie kanaal was al voor die 10de eeu ’n besige seestraat vir skepe.

Ons boek by ons backpackers in, kry ’n bier by die kroeg, en gaan stap ’n ent in ligte motreën. Gill neem ons na die ruïnes van Kasteel Moil. Terwyl ons stap, vertel Gill die storie van Saucy Mary. Saucy Mary was ’n slinkse Noorse prinses wat iewers tussen die 10de en die 15de eeu oor Kyleakin geheers het. Sy het ’n ketting oor die kanaal laat span. Skepe kon net deurbeweeg wanneer hulle tolgeld betaal. Daar was ander roetes, maar skeepskapteine en matrose het gekies om op te dok, want as verdere beloning, het Saucy Mary op haar kasteel se toring gestaan en haar buuste vir die skepe ontbloot.

Hierdie wonderlike storie het my kinderlik opgewonde gemaak en ek kon nie wag om die ruïnes van dié kasteel te besoek nie. Ek wou sien hoe die kanaal lyk en wat Saucy Mary op ’n daaglikse basis moes ervaar terwyl sy haar brood, botter en room verdien. Soos ons stap sien ek Kasteel Moil in die verte. Die opwinding van ’n nuwe ervaring fladder in my bors.

Tot my groot teleurstelling wys Gill uit hoe die hoogwater die pad na die ruïnes blok. Die enigste ompad lê deur wildernis. Ons staan met langbekke – Kasteel Moil net ’n prentjie oor die water.

“Maar my magtig,” dink ek, “wanneer gaan ek weer die geleentheid kry om so plek te besoek?” Ek sê vir die ou wat langs my staan: “Hou my bier vas.”

Ek trek my skoene en sokkies uit en begin deur die wildernis klim. Dis ’n modderagtige affêre! Sommige plekke sink my bene tot kniediep die modder in. Dit voel soos dryfsand. Indiana Jones! Met baie swoeg, sweet en val bereik ek uiteindelik Kasteel Moil. Die groep vrinne op die kant juig en klap hande. Die euforie van oorwinning oorweldig my: ek lig my hemp op! Baar bors ter ere van Saucy Mary kyk ek oor die kanaal. Die gejuig word harder. Ek voel soos ’n held.

Ongelukkig het die held nie kans gesien vir die dryfsand terug nie. In my langbroek en jurk het ek besluit om eerder terug te swem. My medereisigers het my met komplimente en gelukwensing verwelkom. Daardie aand het hulle almal ’n pond in ’n hoed gegooi en vir my ’n Saucy Mary-T-hemp gekoop asook ’n hele paar shots Lagavulin-whisky. So het ek vir Lagavulin ontmoet. Dit is tot vandag toe my gunsteling-whisky. En, toergroepe is toe nie so sleg nie. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer