Houttoring pryk by Swakop

Brigitte Weidlich

Die Mole by Swakopmund word opgeknap en sal nie net klein winkeltjies hê wat plaaslike kuns en handwerk verkoop nie, maar ook ’n toring gebaseer op die model van die geskiedkundige vuurtoring van die kusdorp. 

Volgens die Swakopmund-dorpsraad het die oorhandiging vir die projek van sowat N$4,8 miljoen op 26 Maart 2025 plaasgevind. 

Die houttoring sal vier toilette, ’n vertrek vir sekuriteitspersoneel en ’n beheersentrum vir seereddingsdienste en stoorplek vir klein- en mediumondernemings (SME’s) huisves. Daarbenewens sal ’n valhek die toesig en veiligheid van swemmers en bote in die vasmeergebied van die Mole reguleer en verseker. 

Die dak is met die kundigheid van ’n Duitse timmerman vervaardig wat in sy tradisionele drag bewonder kon word toe die dak afgelewer is. Baie klein houtplanke wat op maat gesny is, is aan ’n spesiaal vervaardigde raamwerk vasgemaak. 

"Soos voltooiing nader, sien ons uit na die blywende impak wat hierdie opgradering sal hê om plaaslike entrepreneurs te ondersteun, veiligheidsmaatreëls te verbeter en besoekers se ervaring te verhef," het die dorpsraad gesê. Fotos: Munisipaliteit Swakopmund / Franz Klimas

[email protected]



Kommentaar

Republikein 2026-04-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer