Occupancy July
Occupancy July

Julie-besettingsyfers hoër as dié van 2019

Groei met 10% vanaf verlede jaar
Plaaslike toeriste het 16,8% van besoekers aan verblyffasiliteite uitgemaak, terwyl Suid-Afrikaners vir 9,8% gesorg het.
Yandi Du Plessis
Ellanie Smit – In Julie vanjaar het gasvryheidsondernemings in Namibië ’n algehele besettingskoers van 60,98% aangeteken, teenoor die 59,6% in Julie 2019.

Die jaar 2019 word as die laaste goeie toerismejaar voor die Covid-19-pandemie beskou, met die uitvoerende hoof van die Gasvryheidsvereniging van Namibië, Gitta Paetzold, wat daarop wys dat Julie gewoonlik die begin van die hoogseisoen vir die plaaslike toerismesektor merk.

Die syfers vir Julie vanjaar is 10% hoër as dié van 2022, toe ’n besettingskoers van 51,02% aangeteken is. In 2020 het die besettingskoers op ’n skamele 11,4% gestaan.

“Die hoogseisoen van hierdie jaar, wat in Julie begin, het deurgaans beloof om ’n baie goeie een te wees – met die verwagting dat Namibië se toerismebedryf teen die einde van vanjaar ten volle tot pre-pandemie vlakke kan herstel,” het Paetzold gesê.

NASIONALITEITE

Van die besoekers was 30,61% afkomstig van die Duitssprekende lande Duitsland, Oostenryk en Switserland; die Benelux-lande het meer as 8,6% van alle besoekers uitgemaak; en beide Frankryk en Italië was ook waardevolle bronmarkte met onderskeidelik 7,11% en 4,31%.

Besoekers van die VSA en Kanada het in Julie 4,68% van alle besoekers aan gasvryheidsinstellings uitgemaak.

Plaaslike toeriste het 16,8% van besoekers aan verblyffasiliteite uitgemaak, terwyl Suid-Afrikaners vir 9,8% gesorg het.

TOENAME

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het onlangs aangekondig dat Namibië 539 601 toeriste-aankomste in 2022 aangeteken het – ’n aansienlike toename van 99,4% vanaf die 270 644 die vorige jaar

Die aantal toeriste wat Namibië besoek het, het in 2022 tot 461 027 toegeneem – 98,1% hoër as die vorige jaar se 232 756 besoekers. Hierdie syfer dui op ’n herstelkoers van 28,9% teenoor 2019 se statistiek.

Die grootste aantal besoekers in 2022 was van Suid-Afrika (116 897), Angola (82 199), Duitsland (62 691), Zambië (25 041) en Botswana (19 761).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer