Kos, kuns en motorkarre
Padtoer ná die vloed (6)
As ons verder afstap na die Gelofte-monument in Franschhoek loop ons verby 'n rits uithangeetplekke wat neffens die hoofstraat lê.
Pedro Vorster - Franschhoek is blykbaar op elke internasionale kos- en wynkenner se emmerlys.
Ek is geen fynproewer nie, eerder ’n lekker-eter. Hier is egter eksklusiewe eetplekke wat op bespreking ’n paar uitgelese kliënte teen ’n uitermatige, of buitensporige prys, sal bedien. Byvoorbeeld, jy neem jou geliefde uit vir ete en ’n wêreldbekende sjef, kelner, musikante, en so meer, staan reg om uitsluitlik julle alleen te bederf met spesiale disse en regte blomme op die tafel.
Dié vyfsterbehandeling sal natuurlik duurder wees as ’n vyfgangete wat teen N$900 per kop die gemiddelde prys in Franschhoek is. Hoop hulle stamp nie jou Porsche as hulle hom parkeer nie.
Ongelukkig was die eksklusiewe Wagyu-eetplek in die Paarl Maandag toe. Ons moes noodgedwonge ons honger stil met ’n uitstekende gevulde baguette van Franschhoek se Checkers. Die winkel se netheid en verskeidenheid goeie gehalte vrugte verlei ons om aarbei-oordaad te pleeg teen ’n derde van die prys in Windhoek
Daar is ’n deli-slaghuis wat prima-vleis aanhou en dus kon ons tuis uiteet, natuurlik met ’n goeie landgoedwyn. Vir die vleis offer sommige wynboere wingerdgrond op waar die Angus-beeste rustig kan wei.
As ons verder afstap na die Gelofte-monument loop ons verby ’n rits uithangeetplekke wat neffens die hoofstraat lê.
My onbeproefde keuse: Dinsdag – geniet wit truffel-fyndisse van ’n sjef-geïnspireerde gastronomiese spyskaart.
Woensdagmiddag – disse uit Suidoos-Asië. So eg Oosters as kan kom. Soesji met ’n komplimentêre bottel Pinot Noir. Probeer die fennel kimchi en shiitake gyoza by wyse van eksperimentasie (kom vertel my wat dit is).
Donderdag – eet Franse disse by die French Connection, staan dan nader vir tuisgemaakte kaas en sjokoladenageregte by die nabye Franschhoek Kelder, een van die weinig kindervriendelike plekke.
Sommer so tussenin vir die lekkerte, proe room, peer, sitrus en heuning in die gebalanseerde, suurklewerige wildevaatjiesmaak van die Soul Barrel se pryswennerbier. Maar moet nie die Tuk-Tuk Restaurant se mini-bierbrouery se verskeidenheid versmaai nie. By hulle ontdek ons taco’s wat nog nooit tevore so billik en smullekker gesmaak het nie.
Die Hugenote Museum oorkant die restaurant is agter ketting en slot gesluit. Vir toegang tot die kerkhof is daar ’n telefoonnommer wat jy kan skakel.
’n Teleurstelling vir laventelhane en -henne is die geslote Kumanof-parfuummuseum. Daar staan darem ’n paar beeldhouwerke in die voortuin.
As ons omdraai, loop ons weer verby die kloek-kunsgalerye wat jy onder ’n halwe rugbyveldklokrok kan toemaak. Elkeen, en daar is baie, verskil in styl, medium en inhoud. Kortom, as jy hier niks kry waarvan jy hou nie, het jy nie al die galerye besoek nie. Of jy kan bloot net nie die vyfsyferpryse verteer nie. Vir die regte groot bedrae is daar ’n galery met ou Suid-Afrikaanse skilders vir versamelaars. Prys op aanvraag. Die werke, waaronder ten minste een Gregoire Boonzaier, lees soos ’n wie-is-wie van erkende Suid-Afrikaanse skilders.
Terwyl drie motors die week tevore tydens die vloed weggespoel het, word die Franschhoekse motormuseum aan die westelike voet van die Franschhoekberge gespaar. Die weervooruitsigte lyk sleg, maar speel eindelik saam en daar was genoeg tyd vir besoekers om die 81 veteraanvoertuie versprei oor vier sale droogvoets te besoek.
Motorkarre soos ’n Lorraine-Dietrich, seldsame Bugattis en beskeie DKW’s het hartenjins warm laat brom. Baie uniek was die 1895 Starley-agterstuurdriewiel, ’n 1903 Model Ford en ’n ou SA renjaer, Jody Scheckter, se Tyrrell 007/1 Formule een.
Franschhoek is een van die duurste dorpe in Suid-Afrika. Eiendomspryse is insomniawekkend hoog. Dubbelsyfermijoene is algemeen, daarom was dit ’n aangename verrassing om ’n luukse huurhuis te bekom wat gerieflik naby aan alles was.
Op ons padtoer was dit die beste en billikste akkommodasie van ons Wes-Kaap-omswerwinge. Al was daar geen televisie nie, kon selfs die hinderlike beurtkrag nie ons tevredenheid bederf nie en wou niemand regtig gaan swem nie.
Van Franschhoek draai ons noord en die rye wingerde stap langbeen saam. Ons laat die rykmansdorp met gemengde gevoelens agter. Ontnugter maar ook dronkgeslaan. Wyser maar armer, tevrede maar ook spyt dat ons moet gaan. Hier is soveel om te peil en te verstaan.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie