Ál meer strikke in Etosha gestel

Tanja Bause
“Ons kan nie die mense verwyder nie; hulle is deel van die park. Ons moet net kyk hoe ons kan verseker dat hulle die reëls nakom. Dit is gemeenskappe wat al jare lank daar woon.”

So het Romeo Muyunda, die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, oor die ongeveer 400 gemeenskapslede wat tans in die Etosha Nasionale Park woon, gesê.

Die gemeenskappe woon daar omdat dit hulle voorvaderlike grond is.

Dit volg nadat toeriste onlangs ’n springbok en ’n leeu met draadstrikke om hul nekke in die park afgeneem het.

Die ministerie het op navrae gereageer en gesê hulle is bekommerd oor die toenemende aantal draadstrikke wat gebruik word om wilde diere in die park te jag.

“Ons wil beklemtoon om die draadstrikke te verwyder, is een van ons daaglikse verantwoordelikhede as deel van parkbestuur. Die vermoede is dat sommige gemeenskapslede wat in die nasionale park woon, draadstrikke stel met die doel om wild vir vleis te jag,” luidens die verklaring.

Die gebruik van draadstrikke word nie deur die ministerie goedgekeur nie en is onwettig.

Die omgewingsministerie, die Namibiese polisie (Nampol) en die Namibiese weermag (NDF) is sedert Junie 2023 met ’n gesamentlike operasie besig om draadstrikke rondom Okaukuejo op te spoor en te verwyder. Hulle het 62 draadstrikke in drie dae verwyder.

“Vars mensspore is ook gevind en tot by die inwoners in Okaukuejo gevolg. ’n Soektog is uitgevoer en die mense is gewaarsku. Niemand kon in hegtenis geneem word nie aangesien daar nie genoegsame bewyse was nie,” het Muyunda gesê.

Die gesamentlike ondersoekspan het ook vier gemeenskapsvergaderings belê. Die reëls en regulasies van die park is tydens die vergaderings aan die gemeenskappe voorgelê en hulle is ook ingelig oor die strafmaatreëls wat toegepas word as die bepalings van die wet oortree word.

“Operasies om draadstrikke in al ons nasionale parke te verwyder, is tans aan die gang. Ons wil ’n beroep doen op ons toeriste of besoekers aan die parke wat draadstrikke, lokvalle of enige ander onwettige aktiwiteit teëkom om dit onmiddellik by die ministerie se amptenare aan te meld sodat hulle spoedig kan optree,” luidens die verklaring.

’n Verslag van ’n springbok in ’n draadstrik is op 17 Augustus vanjaar ontvang. ’n Veearts van die ministerie het die springbok met ’n verdowingspyl geskiet. Die draad het ongelukkig te diep in die springbok se weefsel ingesny en die dier moes van kant gemaak word.

“Ons wil die betrokkenes waarsku om die onwettig bedrywighede te staak of hulle loop die risiko om gevang en aangekla te word vir die onwettige jag van wild.

“Die Etosha Nasionale Park is ons vlagskippark; sulke voorvalle skend die park se reputasie. Indien daar vasgestel word dat enige van ons amptenare betrokke is, sal hulle aan vasgestelde dissiplinêre prosedures onderwerp word.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!