Die Hosea Kutako Internasionale Lughawe is die besigste lughawe in die land. FOTO NAC
Die Hosea Kutako Internasionale Lughawe is die besigste lughawe in die land. FOTO NAC

Lughawens kry minder passasiers in Januarie

Hosea Kutako bly die besigste
Die aantal passasiersaankomste deur Walvisbaai-lughawe het in Januarie 2025 tot 3 881 afgeneem, vergeleke met 5 413 passasiers wat in Desember 2024 aangeteken is.
Ellanie Smit
Namibië het in Januarie vanjaar 79 000 passasiersaankomste en -vertrekke by lughawens landswyd aangeteken, ’n afname vanaf 89 442 passasiers in Desember 2024.

Volgens die Namibië Statistiekagentskap (NSA) se verslag vir passasiersaankomste en -vertrekke vir Januarie, het die samestellingsindeks vir die beweging van passasiers – wat internasionale, streek- en binnelandse aankomste en vertrekke by alle lughawens volg – in Januarie 2025 met 11,7% gekrimp, vergeleke met ’n daling van 6,9% in Desember 2024. Die indeks het egter op ’n jaarlikse grondslag met 9,7% gestyg.



HOSEA KUTAKO

Die verslag beklemtoon dat Hosea Kutako Internasionale Lughawe (HKIA) die primêre spilpunt vir lugreise in Namibië bly, wat 76,4% van die totale passasiersbewegings hanteer.

Walvisbaai- en Eros-lughawe het onderskeidelik 11% en 6,2% uitgemaak.

Die aankomste-indeks vir Hosea Kutako-lughawe het in Januarie 2025 met 17,3% gedaal, vergeleke met ’n daling van 2,4% in Desember 2024. Op ’n jaar-tot-jaar-grondslag het die indeks egter met 10,8% gegroei.

Die aantal passasiersaankomste wat by HKIA aangeteken is, het in Januarie 2025 tot 29 592 gedaal, ’n afname vanaf 35 775 in Desember 2024. Dié syfer was egter hoër as die 26 715 passasiersaankomste wat in Januarie 2024 aangeteken is.

Intussen het die vertrekindeks vir Hosea Kutako-lughawe tekens van herstel getoon, met ’n daling van 9,7% in Januarie, vergeleke met ’n daling van 14% in Desember. Die indeks het op ’n jaargrondslag met 7,1% gestyg.

Die totale aantal passasiers wat deur Hosea Kutako vertrek het, het in Januarie vanjaar op 30 759 gestaan, onder die 34 081 wat in Desember 2024 aangeteken is, maar hoër as die 28 731 passasiers in Januarie 2024.



WALVISBAAI

Die aankomste-indeks vir Walvisbaai-lughawe het in Januarie 2025 met 28,3% gedaal, ’n skrille kontras met die groei van 30,3% in Desember 2024.

Op ’n jaargrondslag het die indeks egter met 24,5% gestyg. Die aantal passasiersaankomste deur Walvisbaai-lughawe het in Januarie 2025 tot 3 881 afgeneem, vergeleke met 5 413 passasiers wat in Desember 2024 aangeteken is. Dit was egter steeds ’n toename vanaf die 3 117 passasiers wat in Januarie 2024 aangeteken is.

Die vertrekindeks vir Walvisbaai-lughawe het in Januarie met 2,9% gedaal, in teenstelling met ’n groei van 14,8% in Desember. Op ’n jaargrondslag het die indeks egter met 19,7% gegroei.

Die totale aantal passasiers wat deur die Walvisbaai-lughawe vertrek het, was 4 779 in Januarie 2025, effens laer as die 4 921 wat in Desember 2024 aangeteken is, maar hoër as die 3 994 vertrekke in Januarie 2024.



EROS

Die aankomste-indeks vir Eros-lughawe het in Januarie 2025 met 4,6% gestyg, wat die daling van 22,6% in Desember 2024 omgekeer het.

Op ’n jaar-tot-jaar-grondslag het die indeks egter met 8,2% gedaal. Die aantal passasiers wat via Eros-lughawe gearriveer het, het in Januarie 2025 tot 2 410 toegeneem, vergeleke met 2 303 in Desember 2024. Dit was egter laer as die 2 624 passasiersaankomste wat in Januarie 2024 aangeteken is.

Intussen het die vertrekindeks by die Eros-lughawe in Januarie met 6,6% gestyg, na ’n daling van 19,3% in Desember. Die indeks het egter op ’n jaargrondslag met 7% gekrimp.

Die totale aantal passasiers wat in Januarie 2025 via Eros-lughawe vertrek het, het tot 2 495 gestyg, vanaf 2 340 in Desember 2024, maar laer as die 2 684 passasiers wat in Januarie 2024 aangeteken is.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer