Namibiese paspoort 61ste op wêreldranglys

Styg vier posisies
Die aantal lande waarheen Namibiërs sonder 'n visum kan reis, het onveranderd op 80 lande gebly.
Iréne-Mari van der Walt
Namibië het die afgelope jaar vier posisies op Henley & Partners se paspoortranglys geklim, van 65ste in 2024 tot 61ste in 2025.

Die aantal lande waarheen Namibiërs sonder ’n visum kan reis, het egter onveranderd gebly op 80 lande. Dit nadat Namibië van 2023 tot 2024 van 62ste tot 65ste posisie geval het.

Sedert die 2024-ranglys werk die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit aan die beginsel van ’n wedersydse visumbeleid, wat beteken dat burgers van lande wat nie Namibiërs van hul visumreëls vrystel nie, nie van Namibië se visumvereistes vrygestel sal word as hulle die land besoek nie.

Namibië is egter steeds ’n paar plekke agter die 56ste plek wat hy in 2006 op die Henley-ranglys begin het. In 2007, 2008 en 2009 was Namibië se paspoort die hoogste wat dit nog ooit op hierdie ranglys was, in die 55ste posisie. Die laagste wat dit nog ooit op dié lys gedaal het, was in 2021 op die 73ste posisie.



BUURLANDE

Suid-Afrika het van 53ste op die ranglys tot 48ste gespring, maar sy burgers kan nou vier minder lande sonder ’n visum besoek as ’n jaar gelede.

Botswana se burgers kan nou ook vyf minder lande sonder ’n visum besoek, maar die land se paspoort het een plek geklim tot 58ste op die Henley-ranglys.

Diegene met Angolese paspoorte kan nou vier minder lande sonder ’n visum besoek. Die land se posisie op die ranglys het egter onveranderd gebly op 88ste.

Seychelles het tans die sterkste Afrika-paspoort met 156 lande wat sy burgers sonder ’n visum kan besoek. Seychelles deel die 22ste posisie met St Vincent en die Grenadines asook Uruguay.



UITSKIETERS

Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Singapoer en Spanje was almal gesamentlik in die eerste plek op verlede jaar se ranglys met dié lande se burgers wat 194 lande sonder ’n visum kon besoek.

Tans beklee Singapoer alleen die eerste plek en kan een land minder sonder ’n visum besoek. Dié land is egter nie Namibië nie, aangesien Singapoer Namibiërs visumvrye besoeke toelaat.

Afghanistan, Sirië, Irak, Jemen, Pakistan en Somalië is steeds onderaan die Henley-ranglys met eersgenoemde land wat steeds die heel laaste posisie beklee.

Afghaanse burgers kan egter nou drie bykomende lande sonder ’n visum besoek as verlede jaar.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer