NWR se Gross Barmen-oord was een van die lodges en oorde wat genoem is om glo "verkoop of oorhandig" te word. Foto NWR
NWR se Gross Barmen-oord was een van die lodges en oorde wat genoem is om glo "verkoop of oorhandig" te word. Foto NWR

NWR ‘verkoop nie sy lodges’

Ellanie Smit
Namibia Wildlife Resorts (NWR) het bewerings van die hand gewys dat die maatskappy besig is om eienaarskap van sy 14 oorde en lodges te verkoop of oor te dra.

Die aktivis en leier van die Affirmative Repositioning (AR), Job Amupanda, het vandeesweek bewerings op sosiale media gemaak dat die regering vanaf 31 Januarie met ’n proses begin het wat daartoe sal lei dat NWR 14 oorde of lodges wat aan die regering behoort, via NWR “verkoop of oorhandig” word. Hy het beweer die ooreenkomste was reeds in plek en dat daar glo gesprekke met Europeërs was.

Na aanleiding van Amupanda se plasings op sosiale media, het dr. Mathias Ngwangwama – die uitvoerende hoof van NWR – ’n memorandum aan werknemers uitgereik om die kwessie op te klaar.

Dié memorandum is ook op sosiale media uitgelek en daarvolgens het die onlangse bewerings oënskynlik kommer oor die NWR se toekoms en werksekerheid onder personeel veroorsaak.

“Ek wil van hierdie geleentheid gebruik maak om alle personeellede te verseker dat daar geen planne is om enige NWR-oorde of -lodges te verkoop of te oorhandig nie,” het Ngwangwama gesê.

Hy het gesê dié bewerings is nie op feite gebaseer nie en dat werknemers nie paniekerig moet raak nie.

NWR se woordvoerder, Nelson Ashipala, het verder in ’n verklaring verduidelik dat NWR onlangs ’n versoek om voorstelle (RFP) vir omvattende oudit- en strategiese dienste uitgereik het om die prestasie van sommige van hul geriewe te ontleed.

Ngwangwama het gesê dat, soos aangedui in die RFP, hierdie proses daarop gemik is om ’n indiepte-oorsig van onderpresterende eiendomme te doen om maniere te identifiseer om hul doeltreffendheid, winsgewendheid en algehele volhoubaarheid te verbeter.

“Hierdie proses strook met goeie korporatiewe bestuurspraktyke en het ten doel om te verseker dat NWR finansieel volhoubaar bly terwyl hy voortgaan om gehaltedienste aan Namibiërs en internasionale besoekers te verskaf.”

Ashipala het verder gesê die bewerings wat op sosiale media gemaak word, is ongegrond en misleidend.

“NWR bly ’n entiteit in staatsbesit en geen planne bestaan om sy eiendomme te verkoop of te privatiseer nie.

“Ons prioriteit is om die volhoubaarheid van ons oorde op die lang termyn te verseker terwyl ons voortgaan om gehaltetoerisme-ervarings aan plaaslike en internasionale besoekers te verskaf.”

Hy het gesê dié proses is daarop gemik om geleenthede vir bedryfsverbeterings en verbeterde dienslewering te identifiseer.

“Dit is standaardpraktyk in verantwoordelike sakebestuur en moet nie verkeerd geïnterpreteer word as ’n skuif na privatisering nie.”

Ashipala het verduidelik die konsultant kan raad gee oor ’n reeks opsies, insluitend die sluiting van ’n openbare-privaat-vennootskap, uitkontraktering of enige ander opsies.

“Nêrens staan daar egter dat NWR hierdie eiendomme, glo aan Europeërs, sal verkoop nie.”



AKKURATE INLIGTING

Ashipala het bygevoeg dat NWR die publiek en belanghebbendes aanmoedig om na amptelike NWR-kommunikasiekanale te verwys vir akkurate inligting.

“Spekulasie en verkeerde inligting skep onnodige onsekerheid onder ons gewaardeerde werknemers en die breër toerismesektor.”

Hy het gesê NWR bly verbind tot deursigtigheid en enige beduidende ontwikkelings rakende sy operasionele strategie sal deur amptelike platforms gekommunikeer word.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer