Tourism
Tourism

Reise vir sake neem toe

Bedryf oorheers deur Europese markte
Verlede jaar het sake- en konferensiereise net meer as 8% van besoekers uitgemaak.
Ellanie Smit
Die totale besettingsyfers vir toeristegeriewe het met 7% in April gestyg in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar.

Sakereise was verantwoordelik vir meer as 13% van verblyf wat gedurende die maand geregistreer is.

Volgens statistieke verskaf deur die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN), was die nasionale gemiddelde besetting in April meer as 58% en selfs 4% hoër as die gemiddelde besetting vir April 2019.

Die jaar 2019 staan vir toerisme bekend as die laaste jaar voor die Covid-19-pandemie.

Die uitvoerende hoof van HAN, Gitta Paetzold, sê die Europese markte oorheers steeds die Namibiese toerismebedryf en met ’n bemoedigende toename.

Duitssprekende lande beklee egter steeds die topposisie, met besoekers uit dié land, Switserland en Swede, wat 38,02% van internasionale besoekers uitmaak.

Wat veral goeie nuus is, volgens Paetzold, is die feit dat sakereise stadig maar seker aan die toeneem is, met meer as 13% van verblyf wat in April as sakereise geregistreer is en veral in die hotelsektor.

“Verlede jaar het sake- en konferensiereise net meer as 8% van besoekers uitgemaak, terwyl sakereise in 2019 tot 13,5% van die verblyfsyfers uitgemaak het en konferensies sowat 3,6%,” sê Paetzold.

Met Namibiërs wat gereed maak om groot byeenkomste in die komende weke en maande aan te bied, is die verwagting, volgens Paetzold, dat hierdie neiging sal voortduur en dat veral die konferensiesektor ’n sterk toename sal toon.

“Die weerspieëling van die suiwer kampeersegment van die Namibiese bedryf word steeds onderskat, ten spyte daarvan dat HAN ’n spesiale kolom vir dié kategorie in sy verslagvorm bygevoeg het.”

Volgens haar dui die sigbare teenwoordigheid van selfry-reisigers op Namibiese paaie en in dorpe, restaurante en ander toeriste-aantreklikhede op ’n veel groter voorkeur vir kampering in die land en hierdie inligting kan moontlik bygehou word deur motorverhuringsagentskappe wat ten volle toegeruste voertuie uitverhuur.

Alhoewel HAN uitsluitlik afhanklik is van die bydraes en insette van sy lede en inderdaad geregistreerde kommersiële verblyfgeriewe wat in Namibië en by die Namibiese Toerismeraad (NTB) gelys is, moet daar volgens haar aanvaar word dat ’n bykomende stroom van besighede en inkomste in die land invloei via aanlyn besprekingsplatforms en besighede wat slegs op hierdie platforms geregistreer is.

Dit word egter skaars aangeteken in terme van amptelike inkomste- of belastingverklarings, tog het dit ’n impak en voetspoor op die Namibiese omgewing en infrastruktuur.

Met die formele Namibiese toerismebedryf wat hierdie week fokus op “bewustelike reis” en die verantwoordelike ontwikkeling van toerisme tydens die Travel Namibia Festival, sal die impak van toerisme en die mate waarin die land se infrastruktuur en omgewing dit volhoubaar ondersteun onder die loep kom.

Volgens Paetzold is volhoubare ontwikkeling die sleutel tot sukses vir Namibiese toerisme en “as rolspelers en operateurs is ons daartoe verbind om te verseker dat die fokus op volhoubaarheid bly”.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!