Shifeta: Groei in toerisme bevorder

Paaie in Etosha binnekort opgegradeer
Die bevordering van kulturele en ekotoerisme het ook 'n rol gespeel in die diversifisering van toerisme-aanbiedinge, volgens die minister.
Ellanie Smit
Die ontstaan van bykomende toerisme-dimensies in Namibië soos vir passasierskepe is ’n bewys van die volgehoue pogings om ’n bemagtigende omgewing vir sakegroei in die sektor te skep.

Só het Pohamba Shifeta, die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, gesê tydens die ministerie se jaarlikse werkwinkel vir strategiese beplanning wat by die Otjozondjupa-streekraad op Otjiwarongo gehou is.

Hy het gesê dit is ’n noodsaaklike platform om ’n oorsig te gee oor die vordering wat gemaak is, om uitdagings aan te pak en die pad vorentoe uiteen te sit.

Shifeta het gesê hul doelwitte is om die strategiese plan van 2025-’26 tot 2030-’31 vir die ministerie en die jaarlikse bestuursplan vir 2025-’26 te ontwikkel en te bekragtig.

Hy het gesê die ministerie speel ’n belangrike rol in Namibië se ekonomiese ontwikkeling en hy is vol vertroue dat hulle groter mylpale sal bereik deur hul toewyding.

Shifeta het gesê die ministerie, het ondanks talle uitdagings, prysenswaardige vordering gemaak.

“Ons het die bewaring en beskerming van ons wild gehandhaaf, ’n netwerk van beskermde gebiede instand gehou en bestuur, omgewingsvolhoubaarheid verseker en groei in die toerismesektor gefasiliteer deur beleidsformulering en strategiese inisiatiewe.”

Shifeta het gesê hul verbintenis tot die bemagtiging van gemeenskappe is bewys deur die toekenning van konsessies aan diegene wat ver van beskermde gebiede woon, wat hul deelname aan hoofstroomtoerisme verseker en hulle in staat stel om voordeel te trek uit Namibië se natuurlike hulpbronne.

Hy het gesê hulle verseker deur hul verskillende direktorate en departemente dat toerisme ’n sleutelpilaar van ekonomiese groei vir Namibië bly.

Die toerismesektor het N$14,3 miljard tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra en werk verskaf aan meer as 57 000 mense, volgens die Toerisme-satellietrekening van 2022.

Shifeta het gesê inisiatiewe soos die Namibië Konvensieburo en die bevordering van kulturele en ekotoerisme het ook ’n rol gespeel in die diversifisering van toerisme-aanbiedinge.

“Ons bewaringspogings het merkwaardige resultate opgelewer.”

Hy het gesê Namibië word internasionaal erken vir sy verbintenis tot biodiversiteitsbeskerming, soos blyk uit die instandhouding en uitbreiding van die land se netwerk van beskermde gebiede.

Volgens hom word die paaie in die Etosha Nasionale Park in stand gehou en sal dit binnekort na die standaard van lae volume oppervlak (seal) opgegradeer word.

Intussen is kritieke infrastruktuurprojekte soos watergate en heiningopgraderings onderneem.

“Die ministerie het ook bosboubestuur versterk deur nuwe gemeenskapswoude in die Staatskoerant te publiseer, onwettige houtoeste te verminder en die plant van bome te bevorder.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer