Toerisme skep werk vir 8% van werksmag

Belangrike ekonomiese dryfveer
Namibië se Toerisme-satellietrekening-verslag van 2022 is bekend gestel wat aandui dat toerisme se direkte bydrae tot die BBP in 2022 op 6,9% geraam is.
Ellanie Smit
Die plaaslike toerismesektor het in 2022 altesaam 57 571 direkte werksgeleenthede geskep, wat 7,9% van die totale indiensneming uitmaak.

Dit beteken ’n verbetering op 2021 toe die sektor 29 000 direkte werksgeleenthede geskep het, wat op ongeveer 3,9 persent van die totale indiensneming gestaan het.

Die statistieke is by die vrystelling van Namibië se Toerisme-satellietrekening-verslag van 2022 bekend gemaak, wat aandui dat toerisme se direkte bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP) in 2022 op 6,9% geraam is. Die toerismesektor is op N$14,3 miljoen gewaardeer.

Volgens die verslag het buitelandse toeriste inkomste van sowat N$12,4 miljard gegenereer, en binnelandse toeriste sowat N$12,6 miljard.

Daar was ook 17 081 ondernemings in toerisme-verwante bedrywe, wat die omvang van die sektor beklemtoon.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het gesê die verslag is een van die hoofinstrumente om toerisme se bydra tot die ekonomie te meet, wat inligting oor die deelname van die toerismesektor in die nasionale ekonomie saamstel en aanbied.

“Toerisme gaan dus nie net oor reis en ontspanning nie, maar die sektor is ’n belangrike dryfveer van die Namibiese ekonomie wat aansienlik tot die nasionale BBP bydra deur werkskepping, inkomste uit buitelandse valuta, vaardigheidsontwikkeling en algehele ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling.”

Hy het gesê toerisme se direkte bydrae tot die BBP gedurende 2022 is op sowat 7% geraam.

“Die toerismesektor se bydrae is prysenswaardig, in ag genome die negatiewe impak van die Covid-19-pandemie op die toerismesektor wêreldwyd in onderskeidelik 2020 en 2021.”

Shifeta het gesê die magdom inligting wat in hierdie verslag vervat is, bemagtig hulle om neigings te identifiseer, die doeltreffendheid van bemarkingsinisiatiewe te evalueer en aanbiedinge aan te pas om aan veranderende verbruikersvoorkeure te voldoen.

Die direkteur van toerisme, Sebulon Chicalu, het verder uitgebrei oor die bevindinge en gesê dat Namibië in 2022 ’n totaal van 527 610 buitelandse besoekers verwelkom het, wat gesamentlik sowat N$14,8 miljard in Namibië bestee het.

Die meerderheid van hierdie besoekers, meer as 421 000, was op vakansie en het sowat N$12 miljard (81,1%) tot die totaal bygedra.

“Besoekers wat vir vriende en familie kom kuier het, was verantwoordelik vir sowat N$1 miljard se besteding (7%), terwyl diegene op sakereise en in transito onderskeidelik byna N$932,3 miljoen en N$145,8 miljoen bestee het.”

Volgens hom was daar sowat 4,7 miljoen oornagbesoekers en sowat 2,6 miljoen dagbesoekers.

Chicalu het gesê oornagbesoekers het N$2,1 miljard bestee aan kos- en drankbedieningsdienste, terwyl die minste (N$12,8 miljoen) aan kulturele dienste bestee is.

Aan die ander kant het dagbesoekers die meeste van hul uitgawes aan ander verbruikersprodukte bestee, wat sowat N$1,4 miljard beloop het.

“Buitelandse toeriste het sowat N$1,7 miljard bestee.”

Chicalu het gesê die meerderheid van hul uitgawes is bestee aan akkommodasiedienste, wat sowat N$0,8 miljard van die algehele besteding uitmaak.

Dit is gevolg deur uitgawes in vervoerdienste van N$0,4 miljard.

Hy het verder verduidelik dat die toerismesektor 14,4% tot totale indiensneming in Namibië bydra, waarvan 7,9% direk aan toerisme toegeskryf word.

Akkommodasiedienste vir besoekers het die hoogste direkte indiensneming, met ’n bydrae van 49,2%, terwyl voedsel- en drankbedieningsdienste 30,4% bygedra het.

Reisagentskappe en ander besprekingsbedrywe het die laagste direkte indiensneming van 0,3%.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!