Namibië moet voortdurend nuwe toerismebestemmings en produkte ontwikkel om mededingend te bly. Foto Tanja Bause
Namibië moet voortdurend nuwe toerismebestemmings en produkte ontwikkel om mededingend te bly. Foto Tanja Bause

Toerismeprodukte moet mededingend bly, sê minister

“Toerismeherstelplan binnekort gefinaliseer”
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme het onlangs in Lüderitz tydens die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) se toerismekongres gepraat.
Ellanie Smit
Dis noodsaaklik dat Namibiese toerismeprodukte mededingend bly, en dit kan slegs bereik word deur voortdurend nuwe toerismebestemmings, -produkte en -roetes te ontwikkel wat aanloklik vir die mark is.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het dit onlangs in Lüderitz tydens die Gasvryheidsvereniging van Namibië (HAN) se toerismekongres gesê.

Die tema van die kongres was “Ontsluit nuwe horisonne”. Hierdie tema is in 2019 geskep en fokus direk op die geskiedkundige opening van Namibië se nuutste Tsau /Khaeb Nasionale Park vir toerisme.

Shifeta sê reis-, toerisme- en ontspanningskliënte is oordeelkundig. Hulle is op soek na gemoedsbevrediging en eis daarom nuwe aantreklike bestemmings en ervarings elke keer wanneer hulle reis.

Die Tsau /Khaeb Nasionale Park, voorheen bekend as die Sperrgebiet was oor die afgelope eeu omhein en uitsluitlik vir diamantmynbedrywighede bedoel.

Die ministerie het egter deur ‘n gedetailleerde ontwikkelingsplan vir toerisme en parkbestuursplan wat op 16 Oktober 2020 in Windhoek bekend gestel is, die park vir toerisme-ontwikkelingsgeleenthede oopgestel.

“Van die nege konsessies wat geïdentifiseer is, is ses aan die suksesvolle bieërs toegeken en kontrakte sal binnekort onderteken word sodat toerismebedrywighede kan begin.”

Shifeta het gesê dit is dus noodsaaklik vir die konsessiehouers, toeroperateurs en ander gebruikers van die park om volhoubare toerisme- en omgewingsvriendelike beginsels aan te neem.

“Die kombinasie van sy natuurlike, natuurskoon en historiese uniekheid, maak Namibië gewild as ‘n reisbestemming. Om die nuuskierigheid van die besoeker te bevredig, word die toerismesektor uitgedaag om nuwe besienswaardighede te ontdek, nuwe roetes te ontwikkel en nuwe wandelpaaie vir reisigers te skep.”

Aangrensend aan die Tsau /Khaeb Nasionale Park, is die /Ai/Ais-Richtersveld-oorgrenspark wat oor die Oranjerivier strek, wat ‘n grens tussen Namibië en Suid-Afrika vorm.

Shifeta het toerismebeplanners en operateurs aangemoedig om gesamentlik toerismeroetes en -produkte in dié twee aangrensende parke te ontwikkel, te bemark en te bevorder.

“Ek glo toerisme kan in die suidelike deel van Namibië herleef deur goeie samewerking en slim vennootskappe tussen toerisme-belanghebbendes en Noord- en Wes-Kaapse toerisme in Suid-Afrika.”

Hy het bygevoeg die ministerie sal binnekort die toerismeherstelplan finaliseer.

Die plan verskaf ‘n padkaart en stel ‘n paar prioriteite in terme van programme en aktiwiteite wat geïmplementeer moet word om die herstelproses vir die toerismesektor aan te help.

Laastens is daar goeie vooruitsigte van geleidelike herstel in terme van toeriste-aankomste in die land van 2020 tot 2021 met ’n toename van 37, 5%, soos gesien in die jongste voorlopige statistiek, het Shifeta gesê.

“Hierdie positiewe ontwikkeling of toename in buitelandse aankomste in 2021 gee ons almal hoop dat die globale reis- en toerismesektor besig is om te herstel.” – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!