Afgevaardigdes by die IPBES-konferensie in die hoofstad. Foto verskaf
Afgevaardigdes by die IPBES-konferensie in die hoofstad. Foto verskaf

Trofeejag noodsaaklik vir bewaring

Ellanie Smit
Wanneer trofeejag behoorlik bestuur en gereguleer word, bied dit noodsaaklike ekonomiese aansporings wat plaaslike gemeenskappe en private grondeienaars bemagtig om aktiewe rentmeesters van hul natuurlike hulpbronne te word.

Dit is die boodskap van die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, tydens die 11de vergadering van die interregeringswetenskap-beleidsplatform oor biodiversiteit en ekostelseldienste (IPBES) wat vandeesweek in Windhoek plaasgevind het.

Shifeta het gesê Namibië en Suider-Afrika erken die kritieke rol wat trofeejag in bewaring, volhoubare ontwikkeling en ekostelselbewaring speel.

Hy meen Namibië het bewys trofeejag in samewerking met gemeenskapsgebaseerde bewaringsmodelle kan aansienlik bydra tot die beskerming van Namibië se unieke biodiversiteit en ekostelsels waarvan hulle afhanklik is.

Volgens Shifeta bevoordeel die inkomste wat uit trofeejag gegenereer word landelike gemeenskappe regstreeks en befonds dit noodsaaklike infrastruktuur soos skole, gesondheidsorggeriewe en waterstelsels.

“Terselfdertyd ondersteun dit teenstropingsinisiatiewe en wildbewaringspogings. Dit is waarom ons na trofeejag en ander vorme van jag verwys as bewaringsjag.”

Shifeta het gesê deur ’n ekonomiese waarde aan wild toe te ken, het bewaringsjag habitatbeskerming en wildmonitering aangespoor wat help om mens-dier-konflik te verminder en te verseker dat bevolkings van sleutelspesies volhoubaar bestuur word.

“Namibië se kommunale bewaringsgebiede is ’n bewys van wat bereik kan word wanneer mense en die natuur saam floreer.

“Laat ons erken dat bewaringsmodelle vir volhoubare gebruik soos ons s’n, ’n kragtige instrument is om wêreldwye biodiversiteitsdoelwitte te bereik, terwyl die sosioëkonomiese behoeftes van landelike gemeenskappe getakel word.”

Shifeta beskou wildstropery as een van die ergste bedreigings vir biodiversiteit, nie net in Suider-Afrika nie, maar oraloor die wêreld.

“Dis ’n krisis wat verwoestende gevolge vir ons ekostelsels, gemeenskappe en gedeelde toekoms inhou.”

Hy het gesê stropery en onwettige handel in wildspesies, soos olifante, renosters en leeus, ondermyn jare se bewaringspogings, dryf spesies tot op die rand van uitwissing en dra by tot die verlies van waardevolle ekologiese dienste.

Volgens hom het stropery verreikende ekonomiese en omgewingsgevolge vir Suider-Afrika.

“Dit skaad die potensiaal van ons toerismebedryf wat sterk staatmaak op ikoniese wild, en dit benadeel plaaslike gemeenskappe wat voordeel uit volhoubare hulpbronbestuur trek.”

Shifeta het bygevoeg dat die verlies van sleutelspesies ekostelsels en die balans van die natuur ontwrig wat noodsaaklik is vir die gesondheid van die omgewing.

Hy het gesê stropery belemmer ook die vermoë om wêreldwye biodiversiteitsteikens te bereik, asook pogings om die planeet se natuurlike erfenis vir toekomstige geslagte te beskerm.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 37° Rundu: 21° | 32° Eenhana: 21° | 26° Oshakati: 21° | 29° Ruacana: 21° | 31° Tsumeb: 19° | 24° Otjiwarongo: 19° | 25° Omaruru: 21° | 32° Windhoek: 18° | 30° Gobabis: 20° | 29° Henties Bay: 17° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 20° Rehoboth: 21° | 33° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 25° | 37° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 16° | 26° Ariamsvlei: 24° | 40° Oranjemund: 17° | 22° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 25° Lubumbashi: 16° | 32° Mbabane: 18° | 29° Maseru: 16° | 29° Antananarivo: 16° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 36° Windhoek: 18° | 30° Cape Town: 18° | 23° Durban: 21° | 26° Johannesburg: 16° | 18° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 21° | 35° Harare: 20° | 32° #REF! #REF!