Die gebruik van hommeltuie in nasionale parke word nie sonder ’n permit toegelaat nie. Foto Namibian Drone Academy
Die gebruik van hommeltuie in nasionale parke word nie sonder ’n permit toegelaat nie. Foto Namibian Drone Academy

‘Moenie parkreëls oortree’

Ministerie waarsku oor hommeltuie
Toeroperateurs wat nie die parkregulasies gehoorsaam nie, kan gevolglik op 'n swartlys van nasionale parke geplaas word.
Ellanie Smit
Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het kommer uitgespreek oor die voortdurende oortreding en verontagsaming van parkreëls en -regulasies deur besoekers aan Namibië se nasionale parke.

“Ons het ernstige oortredings rakende verskeie kwessies volgens die toepaslike wette en parkreëls opgemerk,” het die woordvoerder van die ministerie, Romeo Muyunda, in ’n verklaring gesê.

Hy het gesê die ministerie is bekommerd dat sommige toeroperateurs wat toeriste na nasionale parke vergesel, bydra tot hierdie ernstige verontagsaming van parkreëls en -wette.

“Daarom doen ons ’n beroep op alle toeroperateurs om ons te help om wet en orde in Namibië se nasionale parke te handhaaf.”

Die ministerie het gewaarsku toeroperateurs wat nie die parkreëls gehoorsaam nie, kan gevolglik op ’n swartlys van nasionale parke geplaas word.

Die ministerie wil dus sekere kwessies aanpak wat dalk oorgesien of verkeerd deur besoekers aan die land se nasionale parke verstaan word.

Muyunda het gesê die gebruik van hommeltuie word nie sonder ’n amptelike permit in Namibië se nasionale parke toegelaat nie en besoekers met hommeltuie moet dit by parke se ingangshekke verklaar en registreer.

“Ondanks hierdie beperking het ons ’n aansienlike hoeveelheid besoekers waargeneem wat probeer om met hommeltuie in ons nasionale parke in te gaan en dit te vlieg.”



BLY IN VOERTUIE

Boonop het Muyunda gesê besoekers wat op verbode paaie ry en voertuie in nasionale parke verlaat, ’n ernstige uitdaging bly.

Hy meen sulke gedrag breek die parke se ekosisteme af en verminder hul reputasie as goed bestuurde bewaringsgebiede.

“Die ministerie doen ’n beroep op alle besoekers om streng by die aangewese paaie en uitkykgebiede te hou om die omgewing te beskerm en veiligheid te verseker. Ons moedig alle besoekers aan om aan hierdie regulasies te voldoen om te verseker dat die land se nasionale parke veilig en ongerep vir almal bly.”

Muyunda het bygevoeg dat die ministerie hard daaraan werk om te belê in die instandhouding van infrastruktuur soos paaie en ablusiegeriewe in nasionale parke.

“Ons is egter bekommerd oor hoe hierdie infrastruktuur gevandaliseer is. Ablusiegeriewe is belangrik, maar ongeag die ministerie se pogings om dit skoon en in ’n werkende toestand te hou, word dit altyd gevandaliseer en vuil gevind.”



VLEIS, PLASTIEKSAKKE

Hy het ook die kwessie van die hantering en vervoer van vleis in en uit die Etosha Nasionale Park aangespreek in ooreenstemming met die wet op dieresiektes. Hy het gesê ingevolge hierdie wet is dit verbode om die park by die Anderson, Galton- en Von Lindequisthek met rou vleis te verlaat.

“Enige rou vleis wat deur veeartsbeamptes by die hek gevind word, sal gekonfiskeer en weggegooi word. Hierdie beperking geld slegs wanneer die park verlaat word en daar is geen verbod om die park met rou vleis binne te gaan nie. Net so is daar geen beperking om met vleis by die King Nehale-hek uit te gaan nie.”

Muyunda herinner lede van die publiek en toeriste daaraan dat die ministerie ’n beperking op plastieksakke in alle nasionale parke geplaas het. Hy het gesê die beperking geld vir enkellaag-plastieksakke soos winkelsakke, maar dat items in plastiekverpakkings soos brood- of ryssakke toegelaat word.

“Die ministerie moedig besoekers aan om rommelstrooiery te vermy en om hul vullis in aangewese vullisdromme weg te gooi om ’n skoon en gesonde omgewing te handhaaf.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-03-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer