FlyNamibia, Airlink sluit strategiese ooreenkoms

Sal volhoubaarheid, robuustheid verbeter
'n Ooreenkoms is gister in Windhoek gesluit wat verbeterde lugvervoerdienste vir passasiers na en vanaf Namibië sal bied.
Ronelle Rademeyer
’n Nuwe era het vir Namibiese lugvaart aangebreek deurdat een van die suksesvolste rederye in die streek ’n strategiese aandeel in die land se enigste private lugredery bekom het.

FlyNamibia en die private Suid-Afrikaanse redery, Airlink, het gisteroggend ’n ooreenkoms in Windhoek onderteken ingevolge waarvan laasgenoemde ’n 40%-aandeel in FlyNamibia bekom.

FlyNamibia besit self ook ’n 40%-aandeel terwyl mnr. André Compion, die nuwe besturende direkteur en mnr. Philip Ellis, prokureur en bekende in lugvaartkringe, elk ’n 10%-aandeel het.

Mnr. Roger Foster, uitvoerende hoof van Airlink, sê dit sal FlyNamibia se post-pandemiese herstel versnel en die uitbreiding van doeltreffende, geskeduleerde rederydienste na, van en binne Namibië verbeter.

Die belegging, waarvan die kapitaalbedrag nie bekend gemaak is nie, word ondersteun deur ’n kommersiële franchise-ooreenkoms waarvolgens FlyNamibia Airlink se “4Z”-aanwyser van die Internasionale Lugvervoervereniging International (IATA) vir sy kaartjieverkope en geskeduleerde vlugte sal gebruik.

Dit sal geskied met behoud van FlyNamibia se unieke korporatiewe identiteit, handelsmerk en vliegtuie, het Foster gesê.

FlyNamibia sal daardeur groter sigbaarheid verkry en bevorder word op Airlink se gerekenariseerde besprekingstelsel asook dié van groot internasionale lugrederye soos United, Emirates, Qatar en ander met wie Airlink samewerkingsooreenkomste het.

Volgens Foster onderneem Airlink 75 000 vlugte jaarliks na 45 stemmings in dertien lande. Die rederye het meer as 60 vliegtuie in sy vloot.

“Hierdie is een van die eerste inisiatiewe van sy soort in Suider-Afrika wat sal lei tot groter volhoubaarheid en robuustheid vir die betrokke rederye,” het hy gesê.

“Die veranderinge sal so gou doenlik in werking tree, waarna alle bestaande besprekings vir FlyNamibia-vlugte gewysig sal word sonder enige koste of ongerief vir kliënte,” sê Airlink in ’n verklaring.

Airlink sal ook bykomende rugsteundienste, tegniese en kommersiële vaardigheidsopleiding en ontwikkelingsondersteuning aan FlyNamibia verskaf.

Foster sê die ooreenkoms sal die skaalvoordele bied wat dit ekonomies haalbaar sal maak om Namibië se kleiner dorpe en stede met Windhoek en ander streekbestemmings te verbind, terwyl FlyNamibia ook gerieflike en maklike toegang tot ander markte regoor die wêreld sal kan bied.

“Dit sal ook ons en Namibië se gedeelde langtermyn-ambisie ondersteun om Hosea Kutako Internasionale Lughawe as die sentrale verbindingspilpunt en basis te vestig.

“Sodoende sal ons lugvervoer meer doeltreffend te maak en Namibië se mededingende posisie as ’n bestemming vir handel en toerisme te verbeter,” het Foster gesê.

Compion wys daarop Namibië se ekonomie het die potensiaal om vinnig te groei met nuwe aflandige boor- en mynboubedrywighede, die herlewing in toerisme en sy planom op groot skaal groen waterstof vir die wêreldenergiemark te lewer.

“Om sy volle ekonomiese potensiaal te verwesenlik, sal Namibië toenemend afhanklik wees van lugverbindings om mense en goedere tussen markte te vervoer. Deur hande te vat met Airlink en deel te word van sy internasionale netwerk, sal ons selfs beter in staat wees om buitelandse en plaaslike toeriste en besighede te bedien,” het hy gesê. [email protected],na

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!