bus2
bus2

Geskenkte bus kan (nog nie) ry

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht

Dis tans onpadwaardig en kort opknapwerk, maar die Namibiese Korrektiewe Dienste (NCS) spog met ’n (nuwe) bus om personeel mee te vervoer.

Die bus wat sitplek het vir sowat 60 passasiers, is deur die Windhoekse munisipaliteit geskenk. Die NCS het aanvanklik vir vier gevra, maar weens ’n gebrek aan hulpbronne kon die stadsvaders net een afstaan.

Die munisipale busse was vroeër vanjaar in die nuus toe net sowat 20 uit die 64 gebruik kon word en reusevertragings veroorsaak het vir die ongeveer 3 000 passasiers wat daagliks hiervan gebruik maak. Die rede was grotendeels as gevolg van die vertraging in die voorsiening van onderdele om die gestrande busse te herstel. Baie van die broodnodige onderdele kom uit Suid-Afrika, maar ook van elders.

Die geskenkte bus sal nou vir die NCS se koste by hul werkswinkel tot sy volle glorie herstel word om te help met die vervoer van personeel na geriewe wat buite dorpe soos onder meer Mariental, Tsumeb, Rundu en Ondangwa geleë is.

Volgens die NCS is die veiligheid van dié personeel dikwels in gedrang, veral wanneer hulle aand- of vroegoggendskofte werk en dikwels werk toe moet stap.

Die munisipaliteit en die NCS het in Julie 2020 ’n ooreenkoms onderteken om op verskeie gebiede mekaar te help.

Die skenking is onderhewig aan ministeriële goedkeuring in terme van die Wet op Plaaslike Owerhede.

Die NCS het die munisipaliteit gehelp met die vervaardiging en installering van watertenks in die hoofstad se informele nedersettings ná die uitbreking van die Covid-19-pandemie.

Die munisipaliteit het ook die skenk van ’n vragmotor en ’n sedanvoertuig aan Maltahöhe se nedersettingsraad goedgekeur om hul daaglikse werksaamhede mee uit te voer.

’n Span van die munisipaliteit het die dorp in Oktober verlede jaar besoek as deel van ’n bestaande tweelingooreenkoms tussen dié twee plaaslike owerhede.

Die nedersettingsraad beplan om die vragmotor vir die verwydering van soliede en of huishoudelike afval te gebruik. Die sedanvoertuig sal gebruik word om raadslede en personeel na amptelike geleenthede te vervoer. Ook dié skenkings is onderhewig aan ministeriële goedkeuring.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!